Van Riebeeck en die kaleidoskoop van Kaapse geskiedenis

Poort van die ou Roelandstraatse tronk as ingang tot die Wes-Kaapse argief, waar onder meer die Resolusies van die Politieke Raad ontsluit is. (Foto: Verskaf)

Vir baie jare was 6 April ʼn openbare vakansiedag in Suid-Afrika en het dit as Van Riebeeck- en later Stigtingsdag bekend gestaan. Vanjaar is dit 370 jaar sedert die VOC-nedersetting aan die Kaap de Goede Hoop deur Jan van Riebeeck tot stand gebring is.

Jan van Riebeeck se geskiedenis is sedert die eeuwending tydens twee omvangryke projekte toeganklik gemaak vir die publiek: Met die eerste projek (2001-2003) kom die Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap de Goede Hoop aan bod, en meer onlangs (2016-2020) is al die beskikbare Kaapse VOC-dagregisters getranskribeer onder die vaandel van die Tracing History Trust wat in 2008 gestig is. Hierdie argiefdokumente is van onskatbare waarde omdat die VOC se nalatenskap aan die Kaap hierin geboekstaaf is.

“Om as spanlid betrokke te kon wees by die ontsluiting van hierdie magdom van inligting oor die aanvangsjare met Jan van Riebeeck as sentrale figuur, was vir my persoonlik ʼn baie besonderse ervaring.” So sê Helena Liebenberg, wat al vir meer as 20 jaar betrokke is by die transkribering van vroeë Kaapse dokumente, alles oorspronklik geskryf in 17de-eeuse Nederlands waaruit Afrikaans ontwikkel het.

“Sedert 2001, toe ek kennis gemaak het met hierdie werk, is ek voortdurend getref deur die kaleidoskoop van taferele wat, een na die ander en gevul met soveel mense, deur my vingers heen kon ontsnap aan die geslote blaaie van die ou dokumente om as getranskribeerde teks elektronies bewaar te word.”

Dit begin met drie skepe

Op dié dag, 6 April 2022, behoort ʼn mens weer herinner te word aan die stigting van ons sonskynland. Die Dagregisters en Resolusies werp ʼn helder lig op die begin van die Kaapse nedersetting in 1652.

Met die doel om ʼn verversingstasie en militêre teenwoordigheid aan die Kaap te vestig, vertrek Jan van Riebeeck aan die einde van 1651 saam met sowat 90 mans, vroue en kinders met drie klein skepies, die Drommedaris, Reijger en Goede Hoope uit Texel in Nederland. Sy vertroueling en geliefde ‘huijsvrouw’ Maria de la Queillerie, wat van Hugenote-herkoms was, het ʼn groot en ondersteunende rol aan die sy van haar man gespeel.

Op die oggend van 6 April 1652 stuur Van Riebeeck sy boekhouer, Adam Hulster, en die onderstuurman, Aernt van Leveren, in ʼn sloep uit om Tafelbaai te verken. Net voor sononder kom hulle terug en berig dat daar geen skepe in die baai was nie. ʼn Sagte suidewind voer die Drommedaris en die Goede Hoope die baai binne.

Sondag die 7de gaan hy en sy skipper aan land om te besluit waar die Fort gebou moes word. Die verskillende vertrekke in die vierpuntfort is op die grondplan benoem, met vertrek G gemerk ‘combuijs’ – en so stap die huishoudelikste Afrikaanse woord daar en dan aan wal.

‘T FORT DE GOEDE HOPE
Sleutel by Kaart No. 814 van Rijksarchief, Den Haag – g Combuijs in rooi omkring. (Foto: Verskaf)

Die nedersetting ontkiem

Van Riebeeck het heel gou die Kompanjiestuin aangelê met sade en pitte, wat per skip van die vaderland af saamgebring is. Kort voor lank het radyse, blaarslaai en bronkors ontkiem. In Julie verspoel die saailinge en weer word rape, kool, geelwortels, ertjies, boontjies, radyse, slaai, beet, spinasie en allerhande graansoorte gesaai. Die doel was om die hele jaar deur klein hoeveelhede saad in die grond te kry om sodoende proefondervindelik vas te stel wat die beste tye sou wees om elke soort saad te saai.

In 1662 skryf die kommandeur in sy Memorie aan sy opvolger, Wagenaer, van aantekeninge in sy Caepsen Hoveniers Almanach van hoe die Kompantjiestuin bewerk, besaai en beplant moet word. Hy laat die Almanach vir Wagenaer se gebruik agter “vermits de langheijt van tijt door meerdere ervaringe beter en beter kennisse van ’t een en ’t ander doet winnen”.

Uit: “Almanach der Africaansche landbouwers en hoveniers ||
African gardeners’ and farmers’ almanac”.
Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek, 1984 (Foto: Verskaf)

Deur middel van hoë heinings is die tuin simmetries ingedeel, met ʼn afdeling vir elke tipe boom. Die tuin het appelkose, lemoene, nartjies, suurlemoene, bitterlemoene, appels, pere, pruimedante, perskes, koejawels, granate, vye, piesangs, pynappels, amandels, okkerneute en bessies opgelewer. Sitrusvrugte en wynstokke behou egter voorkeur.

Omdat daar voortdurend vars vleis aan die Kompanjie gelewer moes word om die skepe te voorsien, word vee by die Khoi geruil aangesien die burgers kwalik in hul eie behoefte kon voorsien. Die diere is op veeposte by “de Schuur”, Steenberg, Saldanhabaai, Tygerberg, Eersterivier en Vishoek versorg.

Van Riebeeck se gelofte

Die vestiging van nedersetting het soveel tyd en aandag van die kommandeur geverg dat die belangrikheid van 6 April hom in 1653 ontgaan het. Die volgende jaar maak Van Riebeeck egter ʼn belangrike inskrywing in die Daghregister, waarvan onderstaande die Afrikaanse vertaling is.

Aangesien dit vandag twee jaar gelede is dat ons met God se hulp en leiding met die skepe Drommedaris, Reiger en Goede Hoop veilig hier geland het, om hierdie fort en kolonie in opdrag van ons here en meesters op te bou, en ons gemerk het dat God die Here al die sake tot vandag toe met baie seëninge, goed en na wens laat verloop het, het ons besluit, en ook vanjaar daarmee begin, om hierdie dag, 6 April, tot God se eer met danksegging te vier, en dit vir altyd as ʼn dank- en biddag in te stel, sodat ons nakomelinge nooit die weldade wat God aan ons bewys het, vergeet nie, maar dit altyd in gedagte mag hou.

Hy het sy belofte gestand gedoen en dié dag, Stigtingsdag, is tydens sy bewind tot in 1662 jaarliks deur hom en sy mense herdenk.

 Te veel werk, te min hande

Omdat daar soveel werk was om te doen en dit steeds toegeneem het namate die Kolonie uitgebrei het, was daar voortdurend ʼn tekort aan en vraag na arbeiders. Die nood was so groot dat matrose en soldate van verbygaande skepe dikwels moes agterbly om te help.

Aangesien die Kaapse koringopbrengs nie in die skepe se behoeftes kon voorsien nie, verleen die Bewindhebbers in 1655 toestemming dat van die amptenare uit die diens kon tree, hoofsaaklik om koring by Rondebosch te verbou. In Februarie 1657 ontvang die eerste nege vryburgers hul plase aan die Liesbeekrivier, wat toe die amptelike grens geword het. Die ander vryburgers het hulle in die omgewing van die Fort as onder andere messelaars, kroegbase, skrynwerkers en vissers gevestig.

Om die tekort aan arbeiders op te los, word besluit om van slawearbeid gebruik te maak. Op 28 Maart 1658 het die skip, Amersfoort, met 174 Angolese slawe aan boord by die Kaapse hawe vasgemeer. Slawe en slavinne was sowel in die nedersetting as op die platteland in groot aanvraag.

Die bekende slavin, Angela van Bengalen, was deel van die Van Riebeeck-huishouding en het die klein Van Riebeeckies help grootmaak. Later verkry sy haar vryheid, trou in 1669 met Arnoldus Basson en word so die Basson-stammoeder.

Eerste grond toegeken aan “Herman Riemajenne van Keulen, Jan Maertensz de Wacht van Vreelant, Warnar Cornelisz: van Nunspect, Hans Pietersz: Faesbenger van Hooven”… Op 14 April 1657 in die Fort deur Rijckloff van Goens geteken. (Foto: Verskaf)

Jan se nalatenskap

Daar is in die eerste jaar ná die kommandeurspaar se aankoms aan die Kaap de Goede Hoop baie tot stand gebring. Volgens opdrag van die Here Sewentien moes Jan van Riebeeck ʼn fort bou, ʼn hospitaal vir siek seelui oprig, vrugte- en groentetuine aanlê, koringlande voorberei om graan aan die skepe te voorsien, en beeste deur ruilhandel met die Khoi in die omgewing van die nedersetting verkry. Dit het hy gedoen.

Toe Jan van Riebeeck tien jaar na sy aankoms die Kaap verlaat het, was daar al 953 mense waarvan 191 slawe was. Daar was grasdakhuisies langs die enigste straat, wat van die Kompanjiestuin tot by die kaai gestrek het, en die nedersetting het mettertyd tot ʼn dorpie ontwikkel.

Vir Liebenberg dui Van Riebeeck se Dagregisters daarop dat hy as eerste kommandeur en stigter van ʼn Europese vesting aan die Kaap hom prysenswaardig van sy taak gekwyt het: “Hy het aan die hoof gestaan van die bou van die Fort, was in ʼn sekere opsig Eerste Tuinier hier en het ook onderneem dat die 6de April tot in die verre toekoms as ʼn dank- en biddag tot Gods eer gevier sou word. Voeg ten slotte hierby Jan van Riebeeck se besondere vermoë om vrede te bewaar, ʼn eienskap wat die strafste toets in 1659 deurstaan het tydens die groot onrus tussen die setlaars en inheemse stamme onder andere oor weiregte. Hy het kalm gebly en sy mense gevra om met hulle dagtake aan te gaan ten spyte van die oormag om hulle. Samesprekings het gevolg, gemoedere het bedaar en ʼn baie ernstige konfrontasie is afgeweer.”

In die Kaap van 1652 is daar geanker en veranker; geleef, gelag en gewerk; gehuil, getreur en gesterf – in verskillende volgordes en oor verskillende tydperke heen. Vandag, 370 jaar later, steeds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Sjoe, mense, 370 jaar is nie so vreeslik baie nie. Dis maar ‘n paar geslagte en daar het SO baie intussen al gebeur, SO baie uitvindings

piet ·

Hoekom vier die Afrikaners nie meer Stigtingsdag nie? Ons is gou om te moan dat alles van ons weggevat word maar as die geleentheid hom voordoen (soos om Stigtingsdag te vier) dan doen ons niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.