Veearts maak 4-jarige se hart bly na speelhond ‘siek’ raak

Lemieke en Marshall kom by die veearts aan. Foto: Verskaf

ʼn Veearts van Amanzimtoti het uit haar pad gegaan om ʼn vierjarige dogtertjie wat baie ongelukkig was aangesien haar speelgoedhond siek was, se hart weer bly te maak.

Lemieke le Roux het Sondag vir haar ma begin sê dat haar gunstelingspeelding, Marshall, ʼn karakter uit die kinderstorie Paw Patrol, siek is.

“Dit is nie die eerste keer wat dit gebeur het nie. Die vorige keer was dit met ʼn perdjie, en sy wou hom óók graag veearts toe vat, maar sy het later daarvan vergeet en ons hoef dit nie te gedoen het nie. Maar met Marshall het sy aangedring daarop dat hy dokter toe moet gaan,” het Amanda le Roux, Lemieke se ma, aan Maroela Media gesê.

Lemieke het vir haar ma gesê dat Marshall se maag seer is en dat hy nie lekker voel nie. Nadat Le Roux besef het dit gaan nie oorwaai nie, het sy op ʼn gemeenskapsgroep op Facebook gevra of daar iemand is wat haar kan help.

Die veearts behandel vir Marshall. Foto: Verskaf

“Ek het aanvanklik gehoop dat ek iemand kan oortuig om te maak of hulle ʼn veearts is, maar ek het nooit gedink ʼn regte veearts sal na vore kom om te help nie,” het Le Roux gesê.

Dr. Tammy Talbot van Seadone Veterinary Clinic het aangebied dat Le Roux vir Lemieke na haar toe bring sodat sy na Marshall kan kyk.

“Toe ek vir Lemieke Dinsdag by die skool gaan oplaai, was haar eerste woorde aan my: ‘Gaan ons nou dokter toe met Marshall?’. Sy was verskriklik opgewonde om te gaan.”

Volgens Le Roux was die veearts uiters professioneel en het sy vir Lemieke soos ʼn regte kliënt laat voel wat ʼn regte dier vir ʼn ondersoek inbring.

Die veearts behandel vir Marshall terwyl Lemieke toekyk. Foto: Verskaf

“Hulle het vir Lemieke ʼn vervoerkrat gebring waarin sy vir Marshall van die motor af in die spreekkamer kon indra. Lemieke het self al die vrae beantwoord en vorms ingevul.”

Talbot het vir Lemieke gevra hoe oud Marshall is, wat met hom fout is, hoe lank sy hom al het en of hy nog water drink en sy kos eet. Lemieke het alles beantwoord en hulle het met die ondersoek voortgegaan.

“Die veearts het haar stetoskoop aangesit en na sy hart en sy longe geluister. Sy het ook ʼn koorspen in sy oor gedruk om sy koors te toets en het na sy ogies gekyk. Sy het deurlopend vir Lemieke verduidelik wat sy doen en hoekom dit belangrik is, en Lemieke het aandagtig geluister.”

Talbot het toe vir Marshall twee inspuitings gegee terwyl Lemieke hom op die bed vasgehou het.

Lemieke bedank die veearts nadat sy Marshall behandel het. Foto: Verskaf

“Dit was vir my so wonderlik, want sy het twee splinternuwe inspuitings en twee nuwe naalde gebruik om dit te doen. Sy was uiters professioneel en het heeltyd in karakter gebly, dit was wonderlik!”

Talbot het gesê dit was vir haar lekker om deel te hê daaraan om dié meisie se hart gelukkig te maak.

“Ek is ook ʼn ma, so ek weet presies in watter situasie dié ma was. Die feit dat so ʼn klein meisie so baie entoesiasme gewys het, was vir my spesiaal. Dit het my laat dink aan myself toe ek klein was. So as ek iets kan doen om enige klein seuntjie of dogtertjie te inspireer, dan sal ek dit doen,” het sy gesê.

“Dit was eintlik baie lekker om Lemieke se kommentaar en vrae te hoor. Dit was lekker om te sien dat ek ʼn rol daarin kon speel om haar hart bly te maak.”

Le Roux het gesê dit was vir haar baie spesiaal dat iemand soos ʼn veearts die tyd sal neem om soveel moeite vir ʼn klein kindjie te doen.

“Almal by die kliniek het vir Lemieke laat spesiaal voel en asof sy ʼn regte kliënt is. Dit gaan my verstand te bowe. Ek wil net hê mense moet besef daar is nog goeie mense daar buite, wat omgee oor kinders se drome en wat kinders belangrik ag om hulle tyd aan af te staan. Dit is amazing,” het sy gesê.

Le Roux het gesê Marshall sterk tans tuis aan. “Lemieke sê hy voel al beter, maar hy is nog nie heeltemal gesond nie. Maar sy is tevrede want die veearts het vir haar gesê dat die inspuiting ʼn paar dae kan neem om te werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Rika ·

Wow, dit is so lekker om bietjie feel good stories te kan lees. Dankie aan die veearts wat hierdie dogtertjie met soveel liefde behandel het, en dankie dat Marshall weer beter is. Dit gee mens weer hoop vir ons mense. Dankie aan elke persoon by die veearts wat hierdie dogtertjie se spesiale woef gehelp het. Julle is almal awesome!!!!

Petro de Bruin ·

Ek wens daar was meer sulke mense soos Dr Talbot op aarde!!! Ek glo haar soort is ‘n engel uit die Hemel gestuur.

Petro de Bruin ·

Ek wens daar was meer sulke mense soos Dr Talbot op aarde!!! Ek glo haar soort is ‘n engel uit die Hemel gestuur. Julle mense is absoluut awesome!! Dankie aan al die personeel ook wat hierdie kinderhartjie so bly gemaak het en haar so spesiaal laat voel het. Ek is oortuig dat sy dit eendag aan haar kinders sal vertel. Dr Talbot jy is ‘n legende!

Betsie van Nirkerk ·

Wat ‘n mooi storie met regte mense. Veels geluk Dokter jy is jou roeping werd!! Dalk word die klein meisie ook eendag so goeie Veearts soos jy! Sy gaan jou nooot vetgeet!

NET EK ·

Ai het ek nou so knop in die keel ….. ek stem saam jou. Dr Talbot jy is n engel!!! Baie baie dankie vir wat jy gedoen het. n Hondjie gesond gemaak (haha) en n dogterjie se hartjie weer heel gemaak het. Dr Talbot en personeel – baie baie dankie!!!

olivia ·

dis absoluut amazing. my seuntjie hou vol mammie ek gaan n dokter vir die diere word. ek bid God dat iemand soos dr Talbot ook eendag sy pad sal kruis. dis regtig n warm gevoel om my hart om te sien watter moeite hulle regtig gedoen het en hoe professioneel hulle was. well done ..

Amanda ·

Wat ‘n voel-goed storie met ‘n fantastiese veearts wat nie omgee om nog mens te wees nie.

olivia van wyk ·

dis absoluut amazing. my seuntjie hou vol mammie ek gaan n dokter vir die diere word. ek bid God dat iemand soos dr Talbot ook eendag sy pad sal kruis. dis regtig n warm gevoel om my hart om te sien watter moeite hulle regtig gedoen het en hoe professioneel hulle was. well done ..

Elaine Claassens ·

By dr Talbot sal jou diere ook mooi na omgesien word. Nes sy met Marshall gedoen het. Watter mooi verhaal

Judge Dredd ·

Solank sy ook ‘n R1600 rekening gekry het – anders is dit nie realisties nie.

MyFlokMarelize ·

Judge is jou veearts op die maan? Gemiddeld is R500 vir so ondersoek.

Boerboel ·

Daar is niks so mooi as die pragtige onskuld van so n’ klein kind. Gee my sommer n’ knop in die keel. Baie goeie storie met baie mooi einde.

Lee ·

Ag my moeder dis te oulik. Wat ‘n great veearts!! Dankie Maroela vir ‘n great storie.

Cheryl ·

Wat ‘n wonderlike storie! Dankie vir die awesome veearts wat ‘n dogtertjie se hart so bly gemaak het. Dink hierdie dogtertjie gaan ook nou eendag ‘n veearts wil word

Theresa ·

Dit is nou SO awesome van die Veearts. Te dierbaar vir woorde. Dat daar nog regtig mense is wat soveel moeite kan doen vir ander. Dr jy en jou praktyk is great. Mag Seëninge oor julle uitgestort word.

Heksie ·

Julle het my nou in trane!!!!
My kleinkind se Skye is so rukkie terug dood in sy arms, en hy was gebroke.
Gisteraand het Oortjies daai leë plekkie kom vul …

Sara ·

Dit is eintlik ‘n wonderlike manier om vir ‘n kind iets te leer van die werklikheid. Dr. Talbot het ongelooflike rol in ‘n goeie leerproses vir Lemieke gespeel. Miskien moet mens dalk ‘n opedag by die veearts ook kry en dat ‘n klein klassie ‘n veeartseny besoek om te sien wat maak veeartse – hulle is almal engele op aarde vir ons geliefde viervoetiges (van die grootste bees of perd, tot die kleinste reptieletjie)
Dit wil ook voorkom of Lemieke reg is vir ‘n regte egte woef kind. Haar kompassie vir die gesondheid en welstand van haar “troeteldiere” is prysenswaardig!

Andre ·

En daar maak julle my Vrydag ! Ek het vanoggend gewonder wat gaan gebeur wat mooi is vandag…. Uitstekend gedaan Dr Talbot .

sc ·

Daar is gelukkig nog mense met opregteheid. Liefdes diens uit die hart uit sien nie rekeninge nie

Liesel ·

Give that lady a Bells!!!
You and your staff are truly wonderful people! May God Bless you!

Neels Theron ·

Dankie vir die pragtige storie! Ek kry sommer trane in my oë.
Dit maak mens se dag! En aan Lemieke, ons hoop Marshall is gou beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.