Video: Lindie en kie pak staptog vir droogtehulp

Lindie Stander. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Droogte vernietig alles. Dit vernietig ons kudde, ons grond en tot ʼn groot mate ook ons gemeenskap, maar as ons met skenkings van inisiatiewe soos hierdie na boere toe gaan, herinner ons hulle daaraan dat die Here weet wie hulle is en waar hulle boer.”

So sê Berto Archer, ʼn boer van die Kamieskroon-omgewing in die Noord-Kaap, oor Radio Sonder Grense (RSG) se Red-ʼn-plaas-Camino-staptogprojek wat vanjaar vir die tweede keer in samewerking met die NG Kerk in Noordkaapland, Caritas Gemeenskapsfokus en Tankwa Camino aangebied word om humanitêre hulp te bied aan plaasgemeenskappe in die rampgeteisterde dele van die Noord-Kaap.

Deelnemers en ondersteuners aan dié staptog dra tot die Caritas Gemeenskapsfokus droogtehulp projek by. Die projek help om basiese benodighede soos brandstof, skool- en universiteitsgelde, asook pastorale hulp aan Noord-Kaapse-plaasgemeenskappe te bied.

As deel van dié projek gaan bekendes soos die RSG-omroeper, Amore Bekker, die Binnelanders-aktrise, Lindie Stander, sangers Jak de Priester en Elvis Blue, asook die skrywer en entrepreneur Johannes de Villiers, 166 kilometer vanaf Williston tot by Verneukpan aanpak om geld in te samel én bewusmaking te skep.

Sowat 105 dapper RSG-luisteraars gaan hulle op dié uitdagende tog vergesel.

Lindie, wat bekend is vir haar rol as Elise in Binnelanders, het met Maroela Media oor haar betrokkenheid by hierdie projek gesels.

“Ek dink veral ons stadsjapies leef in so bubble, ons vergeet watse blywende impak hierdie droogte gehad het. Elke boerdery is ʼn gemeenskap op sy eie, so ons praat van minstens dertig magies per plaas wat gevoer en waarna omgesien moet word. Daarom is ek vuur en vlam om hierdie staptog aan te pak.”

Die roete vanaf vanaf Williston tot by Verneukpan. (Foto: RSG)

Lindie is self ʼn kranige stapper en het in 2022 die bekende Liciese Weg (Lycian Way)-staptog van 540 km in Turkye aangedurf en haar reis op sosiale media gedokumenteer.

Sy vertel dat sy daarna deur Esté van der Merwe, bemarkingsbestuurder vir die Caritas Gemeenskapsfokus, genader is om aan die Red-ʼn-plaas-Camino deel te neem.

Sy erken dat dié “plat roete” tussen Williston en Verneukpan op die oog af nie baie moeilik lyk nie, maar wel sy eie unieke uitdagings vir stappers inhou.

“Om elke dag tussen 20 en 25 km te stap is nie net erg op die lyf nie, maar ook op die kop. Veral met ʼn platter roete want daar is nie ʼn lekker afdraande om na uit te sien ná ʼn moeilike opdraande nie. Waar ons gaan stap is daar letterlik niks nie. Dis die heeltyd net jy, jou medestappers en jou eie gedagtes.”

Tog is haar opwinding daarvoor groter as haar senuwees.

“Ek sien baie uit, nie net omdat hierdie vir ʼn ongelooflike goeie doel is nie, maar ook omdat ek hou van die bietjie swaarkry wat daarmee gepaard gaan. Dit is my manier om weer nederig voor die skepping te word, want in die natuur is niemand famous nie.”

Sy moedig lede van die publiek aan om hul harte en hande vir dié inisiatief oop te maak.

“Ek lyk dalk baie tough, maar ek het ʼn geweldige sagte plek vir regte ‘sout van die aarde’- mense, en dit is absoluut die definisie van ons land se plaasgemeenskappe. Dis hoekom ek sonder om te skroom besluit het om betrokke te raak en hoop dat lede van die publiek dieselfde sal doen.”

  • Deelnemers aan dié staptog dra tot die Caritas droogtehulp projek by. Vir meer inligting skakel gerus 063 355 7815 of stuur ʼn e-pos na [email protected].
  • Indien jy nie kan deelneem nie, kan jy steeds die groep virtueel op sosiale media volg en ʼn donasie maak. Klik hier vir meer besonderhede.
  • Kyk Maroela Media se onderhoud met Lindie hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.