Video: Singende SA dokter maak wêreldwyd opslae

‘n Skermskoot uit die video van dr. Ryan Coetzee wat vir Oscar McLaughlin sing. (Video: Twitter)

ʼn Suid-Afrikaanse dokter het oornag bekend geraak as “die singende dokter” nadat ʼn video van hom wat vir ʼn agtjarige pasiëntjie sing soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het.

Maar vir dr. Ryan Coetzee (29), ʼn geneesheer by die Causeway‑hospitaal in Coleraine in die noorde van Ierland, is sang maar net ʼn deel van sy alledaagse lewe.

“Ek was nog altyd ʼn sanger,” vertel Coetzee aan Maroela Media. “Ek het op hoërskool in die koor gesing en by die kerk gesing en klavier gespeel. En so lank as wat ek kan onthou, sal ek net elke nou en dan begin sing terwyl ek werk of in ʼn winkel loop of iets. Almal wat my ken, weet nou al ek sing sommer enige tyd en enige plek, so dit is nie meer vir hulle vreemd nie!”

Coetzee het sy doktersgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal, maar in Februarie vanjaar na Engeland verhuis om nader aan sy familie te wees, voordat hy in April in Ierland begin werk het. Hy vertel hy het alreeds tydens sy jare as intern by die Kalafong- en die Steve Biko-hospitaal vir pasiënte gesing.

“Ek vind dat dit baie help om kinders rustig te maak en hul vertroue te wen. Wanneer hulle in ʼn onaangename plek is waar daar naalde in hulle ingesteek word en hulle nie lekker voel nie, dien dit as goeie afleiding wanneer hierdie lawwe dokter hier voor hul staan en lostrek met die temalied van Frozen!”

Maar ondanks die feit dat Coetzee al sy lewe lank sing, het dié dokter se buitengewone sangtalent eers verlede week wêreldwyd bekend geword toe ʼn video van hom op Twitter geplaas is. Olivia McLaughlin het ʼn video gedeel van Coetzee wat spesiaal vir haar seun, Oscar, in die hospitaal ʼn uitvoering doen van George Ezra se “Shotgun”. Klein Oscar lag te lekker in sy hospitaalbed vir sy dokter, die slegvoel sommer vergete.

Dr. Ryan Coetzee. (Skermskoot: Belfast Telegraph)

Die video is reeds meer as 10 000 keer op McLaughlin se profiel gekyk en wyd op ander sosialemediaplatforms versprei.

“Ek was net klaar met nagskof en was eintlik baie uitgeput en besig om gereed te maak om huis toe te gaan, so ek het nie baie goed gelyk nie! En die familie van dié pasiënt, wat gehoor het hoe ek sing, het gevra of hulle ʼn liedjie kan versoek vir hul seun en of ek vir hom so klein vertoninkie kan lewer. Toe sê ek natuurlik en kry toe die lirieke daar op my foon, want ek ken nie eintlik die liedjie nie.

“Ek het ʼn paar lirieke gemis en paar note gemis en aaklig gelyk, maar sy het ʼn video gemaak en dit op Twitter gepubliseer. En toe ek weer sien, is die video 10 000 keer gekyk!”

Dit is ook sommer ooglopend duidelik dat dié dokter geen onervare sanger is nie. Coetzee het op skool formele sangopleiding ontvang en sy graad 7-sangeksamen voltooi.

Voel hy bietjie skaam oor die baie aandag wat die video uitgelok het? “Nee wat!” lag Coetzee. “Ek kry nie maklik skaam nie en vir my is sing net ʼn natuurlike ding wat ek doen. Die personeel wat saam met my werk, weet al ek is bietjie eksentriek en ek raak nie sommer verleë nie. Dis maar net wie ek is en ek het maar net pret.”

En noudat dr. Coetzee se sangtalent bekend is, is hy meer in aanvraag as ooit. “Dit is eintlik nou ʼn situasie waar sodra daar ʼn onrustige pasiënt is, word ek geroep en gevra om vir die pasiënt te kom sing. En dan trek ek los en sing en gou-gou lag die pasiënt vir hierdie lawwe dokter!”


Indien die video nie speel nie, kyk dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria ·

Dit n baie goeie voorbeeld hou aan. Glo my niemand sy my stem wil luister nie lekker vals….ha,ha

Michelle ·

Baie dankie aan die wonderlike dokter wat ‘n kind se dag gemaak het hy mag maar aan hou sing die wêreld is boos genoeg daar buite. Dit maak die kinders gemaklik voel .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.