Vrouemaand: Portret van ’n vrou

En God het teruggestaan en gesê: “Dit is baie goed. Ons noem haar … vrou.” (Foto: Verskaf.)

Deur Halrika Breytenbach

“Jy is so mooi, so bekoorlik, liefste, met soveel wat geniet kan word.” – Hooglied 7:6

Sy kyk vir my. En ek kyk vir haar.

Haar blou oë lyk effe vaal vandag. Ek sal haar moet leer van ʼn “tegniese glimlag”, dink ek by myself. Ek vertel altyd vir my Kommunikasie-studente dat jy op ʼn gryserige dag jou tegniese glimlag as ʼn reddingsboei moet inspan. Jy lig net die mondhoeke subtiel boontoe, so in ʼn amperse glimlag. Almal kry mos dan en wan ʼn dag wat jy met die verkeerde voet uit die bed uit opstaan. Soms rol jy bloot uit. Dan span jy jou tegniese glimlag in en jou gesig lyk vroliker, jou stem klink vriendeliker en jy is sommer aangenamer vir die res van die samelewing wat in jou andersins suur gesig sou moes vaskyk. Die pluspunt is dat jy dan ook kort voor lank minder grys voel en jou tegniese glimlag moet plek maak vir ʼn opregte weergawe.

Toe onthou ek dat my tegniese truuk nou nie veel gaan help nie. Want wie kan nou jou gemaakte glimlag agter ʼn masker sien, of jou intonasie werklik kan hoor in ʼn gedempte lapstem.

So toe kyk ek weer vir haar. En ek sien sy kyk nog steeds vir my.

Ek sien sy het ook dieselfde gesukkel met plooie as ek. Ek moet haar tog vertel van my skoonheidsterapeut-vriendin se goeie gesigroom. Dit was my redding, eers op ʼn rype ouderdom. Nou nie dat dit my plooie wegtoor nie. Dis darem jammer dat ek nie as jongeling al meer van plooirome geweet het, of notisie geneem het nie. Maar die room hou darem ten minste die klompie wat daar saam skaar in toom. As hulle kleintjies gaan begin kry, sal dit nou ʼn aardige storie wees.

Ek kyk weer vir die vrou voor my. My oë rus op haar hande. Soos myne, smag hare ook na ʼn bietjie pamperlang. Haar naels benodig ʼn vars lagie naellak en ʼn goeie polering. Maar dis haar vingerpunte wat my opval. Hulle is net so vellerig soos myne. Seker ook van in die water werk. Ek kry haar amper jammer, want in die winter is dit altyd so ʼn bietjie erger. Voeg nou daagliks ontsmettingsmiddel ook nog op daardie velle, en jy het ʼn krokodillerige krisis. Ek weet presies hoe haar hande moet voel.

My oë volg haar profiel tot by die middellyf. Hmmm. Seker ook lekker grendelbrood gebak, soos ek. Die denim druk duidelik deeglik. Te. Veel. Deeg. Druk. Duidelik. Ek dink onwillekeurig aan ʼn liedjie waarna my pa geluister het toe ek nog kind was. Oom Randall het uit volle bors gesing: “Die wit broek sit nie mooi nie, die wit broek sit te styf…!”. En ek besluit vinnig om liewers eers ver van ʼn wit broek af weg te bly, want ek het dieselfde denimprobleem as die vrou hier voor my.

Ek en sy maak weer oogkontak. Maar dié keer sien ek hoe ʼn vonkel in die blou oë begin vlam vat. Dalk onthou sy ook nou hoe elke berg* wat sy al moes klim, ʼn monument kon word, hoe elke plooi kom nesskop het van baie lag en baie huil – die gawe en voorreg van emosies ervaar. ʼn Lewe wat gelééf word. Van die son se soene en die wind se warrel. Dat haar hande vellerig is van wasgoed was en huisskoonmaak, wat getuig van ʼn gesin om voor te sorg. ʼn Huis om in te woon, haar gesin se veilige hawe. Water en elektrisiteit. Klere en skoene. Dit alles midde-in ʼn pandemie waarop geen universiteitsgraad of ouerskapboek haar kon voorberei nie.

Die gulle middellyf vertel die verhaal van meer as genoeg kos om te eet. Oorvloedig. Geurig. Genotvol. Dalk vier sy ook goeie gesondheid ná ʼn operasie en longontsteking die afgelope jaar. Of dalk is haar middel die baken van die wonder van geboorte skenk. Die wonderwerk van lewe wat haar liggaam tot uiterstes beproef het, maar sy heldhaftig kon trotseer. Want haar Maker het daardie moed, uithouvermoë en uitmuntendheid in haar wese ingeweef. En Hy het teruggestaan en gesê: “Dit is baie goed. Ons noem haar … vrou.”

Halrika Breytenbach. (Foto: Verskaf.)

Sy kyk vir my. En ek kyk vir haar. Sy knipoog sowaar vir my. My oë volg die lyne van my profiel in die spieël. Gevul met bewondering, dankbaarheid en tevredenheid.

Ek is volkome vrou.

*‘Every mountain in your life is an opportunity to become a monument of God’s faithfulness’ – Nadia Nel

  • Halrika Breytenbach is ’n kommunikasiekonsultant, vryskutjoernalis en stigter van die musiekbediening, Halrika Music Ministries. Sy is passievol daaroor dat mense moet verstaan wat hul ware identiteit in Jesus Christus is, met ’n dieper besef van hul roeping en skeppingsdoel. Sy tree gereeld as spreker en musikant op by Damesoggende en haar bediening bied self ook vrouekampe aan. Sy en haar man bied ook kampe vir paartjies aan wat fokus op aanbidding en intimiteit. Haar debuutalbum, Asem, is in 2013 bekendstel met Purified, haar jonste album in 2018. Halrika is 15 jaar getroud met haar “spanmaat Faanman” en mamma vir ’n 10-jarige prinses. Besoek haar webwerf by www.halrikamusicministries.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.