Vrugbaarheid ʼn stille stryd ná kankerdiagnose

Ashley Keulemans en haar man is verheug om binnekort ouers te word. (Foto: Verskaf)

Verskeie verslae toon daar word nie in Suid-Afrika genoeg klem gelê op gesinsbeplanning wanneer ʼn jong vrou met kanker gediagnoseer word nie, maar vir Ashleigh Keulemans het dié skokdiagnose ʼn gelukkige einde gehad.

Keulemans (32) is in 2019, kort ná haar verlowing, met fase-3 borskanker gediagnoseer. Haar onkoloog het egter besef hoe belangrik ʼn gesprek oor gesinsbeplanning is en sy kon nege gesonde eiers laat vries voor die aanvang van haar behandeling.

Ná haar behandeling was sy steriel, maar sy het ʼn jaar en ʼn half later weer begin menstrueer. Kort ná haar troue in 2022 het dokters gesê die moontlikheid van ʼn natuurlike swangerskap is nie onmoontlik nie.

In Junie vanjaar het sy die goeie nuus op sosiale media gedeel dat sy swanger is. “Moet nooit ophou glo in wonderwerke nie. Ons is opgewonde om aan te kondig ons klein wonderwerkbaba sal vroeg volgende jaar by ons aansluit.

“Teen alle verwagtinge in, is ons gebede beantwoord en word ons geseën met die kosbaarste geskenk.”

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) plaas die kollig op die impak wat kanker op vroue se vrugbaarheid het.

Volgens ʼn verslag wat in Maart vanjaar deur Statistieke Suid-Afrika uitgereik is, is sowat 2,4% (altesaam 1 054) van Suid-Afrikaanse vroue wat in 2019 met kanker gediagnoseer is, tussen die ouderdom van 20 en 29.

Van dié is 14,1% (altesaam 149) met borskanker gediagnoseer terwyl 11,4% (altesaam 120) servikskanker het.

Vir hierdie jong vroue is vrugbaarheid skielik ʼn fisieke en emosionele uitdaging, aangesien kanker ʼn vrou se vermoë om kinders te hê, kan beïnvloed.

Daar is ook beperkte data oor voorbehoed- en vrugbaarheidsberading vir vroue met kanker in hoë- en middel-inkomstelande, insluitend Suid-Afrika.

Lorraine Govender, nasionale bestuurder van gesondheidsbevordering by Kansa, sê dit is voordelig dat gesprekke oor die bewaring van vrugbaarheid te midde van ʼn kankerdiagnose verkieslik voor die aanvang van kankerbehandeling moet geskied.

“Dit is ʼn belangrike en delikate onderwerp. Dit sal ook ʼn goeie idee wees vir die pasiënt om die gesprek te begin, aangesien die mediese span dalk net op die behandelingsplan gefokus kan wees.

“Sou jy wou stappe doen om jou vrugbaarheid te bewaar, en dit is ʼn moontlikheid, maak seker jy verstaan die risiko’s en die kanse op sukses vir enige vrugbaarheidsopsie waarin jy belangstel, en hou in gedagte dat geen metode ooit 100% van die tyd werk nie.”

Hierdie gesprek behoort voorkeure, geloof en ander persoonlike oortuigings te oorweeg, asook die koste van die beskikbare opsies.

ʼn Verwysing na ʼn vrugbaarheidspesialis en beraders kan voordelig wees vir die pasiënt, asook inligting oor voorbehoed en vrugbaarheid ná kankerbehandeling.

Volgens ʼn studie wat in 2020 deur Kansa gedoen is, het vroue met borskanker in die Wes-Kaap daarop gedui dat hulle onvoldoende inligting oor gesinsbeplanning na afloop van hulle kankerbehandeling ontvang het.

Dokters fokus meer op die voorkoming van swangerskap tydens behandeling en om te verseker dat die pasiënt ʼn nie-hormonale voorbehoedmiddel gebruik.

Kansa bied gratis emosionele ondersteuning aan pasiënte, versorgers en geliefdes via die tele-beradersdiens wat in sewe tale beskikbaar is. Daar is ook ondersteuningsgroepe en Facebook-ondersteuningsgroepe beskikbaar.

Gratis ondersteuning is ook aanlyn beskikbaar op Kansa se webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.