Wat ek geleer het uit my kwarantyn-kwadraat

Halrika Breytenbach. (Foto: Verskaf.)

Deur Halrika Breytenbach

Verslae hop ek op die internet rond, laat die aand van 23 Maart 2020. My netwerk kreun knorrig en ek sukkel met opvangs weens ’n oorvol kuberruim. Hier en daar vang my oog van die ou Covid-19-grappies oor toiletpapier-paniekaankope, oorpakkostuums van plastiek vir Paasfees en ’n bejaarde oom met ’n halwe lemoen vir ’n gesigsmasker met die onderskrif: Organiese masker met gratis Vitamien C.

Ek lees iemand se kommentaar op sosiale media wat koggelend verklaar: “Julle het mos gedink dis ’n grap. Kyk nou!”

Die beskuldiging kla my aan sonder dat ek iets het om oor skuldig te voel. En skielik voel ek so jammer vir die skrywer. Dis ’n hopelose noodkreet. Hierdie persoon voel alleen. Paniekerig. Sonder hoop.

Ek blaai verder. My Newsfeed op Facebook word gedomineer deur Bybelverse van bemoediging. Mense wat ons dapper president prys vir sy sorgvuldige toespraak. Een waarin die kommer vir sy land wat brand, duidelik hoorbaar is, maar tog nie sonder broodnodige hoop nie. Ek dink aan my eie gevoel van medelye terwyl ek na sy toespraak gekyk het – hoe moeg moet hy nie wees ná dae se samesprekings nie? (Ek sou die sakke onder my oë eers mooitjies moes toeverf voordat ek bereid sou wees om op nasionale televisie te verskyn.) Hy dra ’n land se krisis op sy skouers. Iets waarvoor geen graad of opleiding hom kon voorberei nie. ’n Wêreldwye pandemie.

Iets waarvoor niemand kon voorberei nie. Geen geld in die wêreld, kaste vol kruideniersware of maskers en ontsmettingsmiddels kan hierdie virus van jou deur weghou nie.

Hoop kan.

En my gedagtes gaan terug na die afgelope drie maande – hoe ek tydens ons Desembervakansie (slegs die een week wat my man verlof het en ons by familie in die Klein-Karoo kuier) in die hospitaal opgeneem word op Kersdag. Longontsteking. Ek het ’n virus by ons meisiekind gekry wat by my (vir die eerste keer in my lewe) tot longontsteking gevorder het – sommer oornag. Natgesweet en bewend van die kouekoors het Kersfees gekom en gegaan.

Maar Jesus het nie.

Nog vir twee maande ná my hospitaal-Kersfeeskaperjolle is die stryd teen die gehoes nog nie gewen nie. Terug tuis is ek deur nog doktersbesoeke, sakke medisyne en ’n besoek by ’n oor-neus-en-keelspesialis. Want my stem was weg. En my stem is my werk.

Ek moes optredes kanselleer en nuwe uitnodigings wegwys. Ek doseer elke jaar deeltyds by ’n tersiêre instelling – ook dít moes ek van die hand wys. By die huis praat ek gebaretaal met my gesin. Ek tuisonderrig ons tienjarige dogter sonder ’n stem.

Praat is my taal. Dis hoe ek uiting gee aan my menswees en emosie. My stem is waarmee ek oorlog voer en my Skepper aanbid. En ek gee amper moed op. Op ’n roeping wat groter strek as net dit wat ek vir drie maande kon sien.

Maar God gee nie moed op nie.

Ek is eindelik gesond ná weke se afsondering – siende dat ek nie ’n stem gehad nie, het ek meestal sosiale samekomste vermy. Ek is gereed om koffie-afsprake, mentorsessies en bedieningsgeleenthede te hervat. Ek kan uit my afsondering kruip!

Toe bekruip ’n nuwe kwarantyn my. Saam met die res van die wêreld. Dus is dit kwarantyn-kwadraat vir my.

Wat ek geleer het in my kwarantyn-tyd: (Dalk bemoedig dit jou vandag.)

  • Jy is nie wat jy doen nie. Jou gawes, talente en werk definieer nie wie jy is nie. Wie is jy daarsonder?
  • Jy leer om anders na dinge te luister en te kyk wanneer ’n situasie verander. In ’n tyd waarin ek nie kon praat nie, het ek dinge gehoor en raakgesien wat ek voorheen gemis het. Wat kan jy in hierdie tyd raaksien wat jy nog altyd gemis het?
  • God gee altyd terug wat jy verloor het. Dubbeld. My tyd van siekte het ’n groot finansiële impak op ons huishouding gehad. Maar God het ons nie net gelos nie. Hy was en is ons Voorsiener.
  • God laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet. Hy het nie die siekte vir my gestuur nie, maar Hy het my daardeur gedra.
  • Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Beproef dit.
  • Spreek lewe! Wat sê (en dink) jy in taai tye? Nooi jy die siekte en dood na jou huis?

Ons het mekaar nodig. Mense het fisiek vir my kom bid en vir ons kos gestuur terwyl ek siek was. Al is ons nou in ’n fisieke kwarantyn, kan ons dit steeds doen! Bid op Skype of oor die foon vir jou vriende en familie.

Wat hierdie tyd vir ons inhou, weet niemand. Maar wat ek weet, is dat God klaar vooruit is. Ek kies om my fokus te rig op Abba Vader ons Voorsiener, Ontfermer en Pappa, Jesus Christus ons Geneesheer, Vriend en Prins van Vrede. En Heilige Gees, ons Trooster, Raadsman en Rigting. Mag dit vir jou ook so wees.

2 Korintiërs 5:7 “Ons leef deur te glo en nie deur te sien nie.”

  • Halrika Breytenbach is ’n kommunikasiekonsultant, vryskutjoernalis en stigter van die musiekbediening, Halrika Music Ministries. Sy is passievol daaroor dat mense moet verstaan wat hul ware identiteit in Jesus Christus is, met ’n dieper besef van hul roeping en skeppingsdoel. Sy tree gereeld as spreker en musikant op by Damesoggende en haar bediening bied self ook vrouekampe aan. Sy en haar man bied ook kampe vir paartjies aan wat fokus op aanbidding en intimiteit. Haar debuutalbum, Asem, is in 2013 bekendstel met Purified, haar jonste album in 2018. Halrika is 15 jaar getroud met haar “spanmaat Faanman” en mamma vir ’n 10-jarige prinses. Besoek haar webwerf by www.halrikamusicministries.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sean ·

Bid vriend bid! Net God kan ons red en die beker laat verby gaan!

Elzette ·

Hoe lekker om jou hierin te kon raaklees, Hallie! Mag die Here jou aanhou seën dat jy kan voortgaan om tot seën van ander te wees.

Strandloper ·

Dankie vir jou mooi woorde. Ek sien en ken jou einas en ja die leewe gooi ons almal soms n curved ball. Maar ek put krag uit Sy woord om my kop op te tel en daar te wees vir my gesin.

Ek is nie meer n spring chicken nie en so ook nie my ander helfte nie. Die jaar het begin met vroulief in die hospitaal en ja sy is twee weeke voor die lockdown weer in en sal nog lank daar moet wees om haar kragte op te bou vir n groot operasie.

Ek moet Ma en Pa wees vir ons laatlam en my oudste wat die pad byster geraak het en lank in rehap was.

My lesse is:
1. Ek kan nie moed op gee nie want my Hemelse Vader gee nooit moed op met my nie.
2. As jy voel jy kan nie meer nie vra Hom om te help, Hy doen dit getrou!
3. More skyn die son weer en ja dan lyk gister so probleeme nie so groot nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.