Weet woeker met ‘weet’ in Afrikaans

 wat-woord-weet-scaled.jpg

Foto: Weet het nóg ʼn bydrae tot die uitbou van goeie gehalte Afrikaanse inligting gemaak deur die woord “weet” te koop.

Om die begin van Afrikaans se eeufees te vier, het Weet, die Afrikaanse e-naslaangids vir leerders en ander nuuskieriges, nóg ʼn bydrae tot die uitbou van goeie gehalte Afrikaanse inligting gemaak deur die woord “weet” by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) te koop. Sodoende help Weet met die vaslegging van die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van Afrikaans in dié woordeboek.

Vir Weet is gehalte inligting in Afrikaans baie belangrik. “Ons gee aan leerders toegang tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, wat hulle in staat stel om naslaanwerk vir skooltake en -opdragte in Afrikaans te doen,” sê Petronel Fourie, projekbestuurder by Weet. “Só dra ons by tot Afrikaans-moedertaalonderrig op skool, en ook tot alle nuuskierige Afrikaanses se algemene kennis.”

Die WAT is ’n omvattende sinchroniese verklarende woordeboek, wat primêr op die huidige taalgebruik gerig is en verslag doen van die woordeskat van Afrikaans. Dit is ’n akademiese woordeboek wat op so ’n manier saamgestel word dat dit as ’n gesaghebbende naslaanbron deur taalkundiges, ander navorsers en liefhebbers van Afrikaans gebruik kan word.

Die WAT se werk is so groot, dat die kundiges daar nog nie by die letter “W” in die alfabet uitgekom het nie. Die letter “T” is wel in 2023 aanlyn gepubliseer en die span werk tans aan “U”.

As jy na ander woordeboeke kyk, beteken die woord “weet” egter om kennis van iets te hê, of om op hoogte van iets te wees. Om te weet is ook om iets in te sien, te verstaan of te erken.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch / Maroela Media)

Dit is presies wat Weet wil doen: om Afrikaanse mense se kennis uit brei, hulle op hoogte van inligting te hou en insig uit verskillende hoeke te kry en dit regtig te verstaan.

Het jy geweet dat Afrikaans ook ʼn klomp lekker uitdrukkings met die woord “weet” daarin het? As jy beter weet, dink jy dat jy meer kennis as ander het. Wanneer jy niks van iemand of iets wil weet nie, wil jy niks met daardie iemand of iets te doen hê nie. En as iemand uitroep nugter weet!, beteken dit dat niemand iets daaroor weet nie.

Maar weet jy wat? Weet is vir almal wat lief is vir Afrikaans en graag inligting in hul moedertaal wil lees. Dít is nie vir my om te weet en vir jou om uit te vind nie, want jy kan bloot die webblad weet.co.za besoek, dan weet jy ook! Nou hoef jy nooit weer te erken dat jy nie weet wat hot of haar is nie, want Weet hou jou ingelig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.