Wen kontant met jou plattelandfoto

(Foto: Stephan Hauman Photography)

Maroela Media nooi al ons lesers uit om deel te neem aan ons opwindende fotokompetisie, “Plattelandse oomblikke”.

Ons is op soek na jou mooiste foto’s wat die gees en skoonheid van die Suid-Afrikaanse platteland vasvang. Of jy nou ʼn professionele fotograaf of ʼn entoesiastiese amateur is, jou bydrae is vir ons kosbaar.

Vir hierdie kompetisie fokus ons op die “menslike” aspekte van die platteland. Ons wil graag van hierdie foto’s vergroot en in ons Maroela-raadsaal en -kantore ophang sodat ons elke dag herinner word aan wie ons Maroela-gemeenskap is, en vir wie ons stories skryf. En watter beter manier is daar om jou, ons getroue leser, deel van ons doen en late te maak?

Ons wil graag foto’s sien wat die alledaagse oomblikke en werklikhede van die Suid-Afrikaanse platteland, klein dorpies en plase uitbeeld: ʼn ouma wat wasgoed ophang in die sagte middagson, ʼn boer wat in die land staan of ʼn gesin wat saam op die stoep sit en koffie drink.

Hierdie beelde vertel die stories van die mense en hulle verbintenis met die land en gemeenskap.

Stuur vir ons jou beste foto’s en kom in aanmerking vir wonderlike pryse. Die foto’s mag nie sigbaar gemanipuleer wees nie. Die wenner ontvang R3 000 kontant en daar is twee troospryse van R1 000 elk. Elke foto moet minimum 5 000 px by 3750 px, minstens 1,5 MG groot en in JPG-formaat wees.

Die kompetisie is oop vir almal. Laat jou kreatiwiteit vloei en wys vir ons die hart van die Suid-Afrikaanse platteland deur jou lens!

Skryf nou in

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum vir inskrywings is 2 Junie 2024 om 23:45.
  • Jy kan soveel foto’s inskryf soos wat jy wil, mits dit aan die minimum voorgeskrewe vereistes voldoen.
  • Die foto’s mag nie sigbaar gemanipuleer wees nie.
  • Deur vir hierdie kompetisie in te skryf, aanvaar jy dat Maroela Media enige foto mag gebruik, selfs al was jy nie die wenner nie. Jy gee toestemming dat ons jou foto mag vergroot, laat druk en in ons kantore mag uitstal.
  • Die wenners sal deur ʼn beoordelaarspaneel aangewys word.
  • Die wenners sal telefonies en per e-pos deur Maroela Media gekontak word.
  • Indien jy nie van ons hoor nie, kan jy aanvaar dat jy nie een van die wenners was nie.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die kontant sal per elektroniese oordrag in die wenners se bankrekeninge inbetaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.