Willem Botha nooi jou om vreesloos te leef

Willem Botha is een van die ambassadeurs van vanjaar se Spar Women’s Virtual Challenge. (Foto: Verskaf)

“Ek gaan nie vir jou jok nie, ek gee nog steeds om wat mense van my sê, maar ek dink ek heg deesdae ʼn bietjie minder waarde daaraan. Ek fokus eerder op my verhouding met die Here.”

Só gesels die talentvolle Willem Botha, een van die ambassadeurs van vanjaar se Spar Women’s Virtual Challenge, oor wat die hutsmerk #LiveLimitless van die 2021-uitdaging vir hom beteken.

“My loopbaan het 15 jaar gelede afgeskop toe ek aan die Afrikaanse weergawe van die Idols-talentsoekkompetisie deelgeneem het. Ek het die plaas as 19-jarige vir die stad verruil en vreesloos Johannesburg toe getrek.”

Botha (34), wat buiten sy sang en toneelspel deesdae ook ʼn gerekende fotograaf is, erken daar was ʼn stadium in sy lewe waar hy vreeslik besorg was oor wat mense van hom dink, of wat hulle op sosiale media van hom sê.

“As ek in ʼn TV-reeks of program verskyn het, wou ek dadelik weet wat die terugvoer was. Dit was amper of die Here my eendag geskud en gesê het ek staan hopeloos te veel tyd hieraan af. Hy wou eerder hê ek moet worry oor wat Hy van my dink en dat ons ʼn pad saamstap en saam aan iets bou.”

Watter soort raad het Botha in ʼn onstuimige tyd soos hierdie?

“Ek het eendag gesien iemand sê ons is dalk nie almal in dieselfde bootjie nie, maar ons is nou saam in dieselfde storm. Die Here het my nog nooit gelos nie, hoekom sal Hy dit nou doen?

“Nadat die president gepraat het, is my vertonings vir die soveelste keer alles gekanselleer of uitgestel. Hoe bly ʼn mens positief in ʼn tyd soos hierdie? Ek het eintlik geen benul nie, maar ek bly praat met die Here. Ek kan nie enige kumbaja-antwoorde gee nie, want so eenvoudig is dit nie, maar ons moet bly vertrou in die Here se genade.”

Willem Botha is al agt jaar deel van die projek van Spar. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Tog meen Botha dit gee hom hoop om deel van ʼn projek soos die Spar Women’s Virtual Challenge te wees.

“Ek stap ʼn pad saam met Spar wat al deel van my eie familie voel. Hierdie span is so passievol oor die Spar Women’s-projek.”

Botha, wat al bekendes soos Zozibini Tunzi, Mej. Heelal-2019, voor sy kameralens gehad het, het ook weer die foto’s vir die uitdaging se spesiale tydskrif geneem. “Terwyl ek ʼn groep meisies afgeneem het, was dit vir my so hartseer om te besef elke meisie het nie toegang tot iets so eenvoudig soos sanitêre ware nie.

“Dit is vir my wonderlik dat die mense van Spar gaan dink het hoe hulle met iets kleins ʼn reuseverskil in meisies se lewe kan maak.”

Botha het verlede jaar met die eerste virtuele uitdaging wat Spar te midde van die pandemie aangebied het vir die eerste keer in sy lewe 21 km gaan draf.

“Ek het my familie en vriende bymekaargekry om saam met my die uitdaging aan te pak.

“Dit was nie maklik nie; ek het min tyd gehad om te oefen en almal het vir my weggehardloop, maar dit was heerlik om op die plaas te hardloop en net so lekker om te sien hoe almal mekaar op sosiale media ondersteun.”

Willem Botha het die plaas destyds vreesloos vir die stad verruil om aan sy sangloopbaan te werk (Argieffoto)

Botha sê hy gaan vanjaar beslis weer inskryf, maar weet nie of hy weer 21 km vir die uitdaging sal aandurf nie.

“Ek gaan myself nie daartoe verbind nie, maar ek sal minstens weer 10 km wil doen.”

Daar is net 75 000 inskrywings vir vanjaar se uitdaging en dit is vir die hele land beskikbaar. Die Spar Women’s Virtual Challenge vind op Saterdag 4 September plaas en inskrywings het reeds geopen. Inskrywings beloop R60 en jy ontvang ʼn T-hemp, gesigsokkie (buff), ʼn medalje en digitale tydskrif. Spar skenk ook vir elke inskrywing ʼn pakkie sanitêre ware wat sal help keer dat meisies skooldae misloop terwyl hulle menstrueer. Alle inskrywings kan aanlyn by Sparvirtualchallenge.co.za gedoen word of volg die geleentheid op sosiale media by SPARVirtualChallenge en #LiveLimitless.

  • Willem Botha is een van die ambassadeurs van vanjaar se Spar Women’s Virtual Challenge. Hy het met Maroela Media gesels oor die uitdaging wat hom na aan die hart lê en hoe om die hutsmerk van die 2021-uitdaging deel van jou eie lewe te maak. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.