Wiskunde + kuns = dink (uitblink² )

Wiskunde en kuns het die 17-jarige Louis du Plessis van George nog altyd gefassineer (Foto: verskaf)

Wiskunde en kuns het die 17-jarige Louis du Plessis van George nog altyd gefassineer. YouTube- video’s oor hoe om wiskunde in komplekse kunswerke te herskep, het nou nuwe toekomsdrome vir dié jong man oopgemaak.

ʼn Wiskundekunswerk wat hom altesame 77 uur geneem het om uit algebraformules te ontwikkel, het van Louis die eerste Suid-Afrikaner in vier jaar gemaak om die titel (in die ouderdomskategorie 15-16 jaar) as Global Math Art-wenner in ʼn internasionale kunswedstryd te verower.

Hierdie internasionale kunswedstryd word sedert 2020 deur Desmos Studio aangebied, met die doel om leerders te help om wiskunde op ʼn meer verteerbare manier te verstaan en in die vakgebied te groei.

Sy meesterstuk, The Collector’s Curve, is meer as net ʼn digitale wiskundige kunswerk. Dit dra ʼn diep boodskap oor wat die mensdom se nimmereindigende belangstelling in die ruimte uitdaag, terwyl baie dinge in die mensdom se eie wêreld onontdek bly.

Hierdie wiskundekunswerk het hom altesame 77 uur geneem om uit algebraformules te ontwikkel (Foto: verskaf)

“Ek wou uitdruk hoe ek daaroor voel dat ons soveel tyd en moeite afstaan om die ruimte te verken, terwyl baie spesies wag om hier op aarde ontdek te word.

“Ek het die vis op die roeivis-spesie gegrond, bloot omdat dit my fassineer. Daar word ook verneem dat dit die oorsaak is van die meeste gedokumenteerde waarnemings van ‘seemonsters’.”

Hy het selfs weerkaatsings op die bewegende water ingewerk. Sy kunswerk word vergesel met ʼn pragtige gedig, asook ʼn klavierstuk wat hy self geskep het, óók met ellelange formules.

Studeer is pret vir hierdie uitblinker van die Alethea Akademie op George waar hy met ʼn gemiddeld van 93% spog. Tong in die kies voeg hy by: “Die IT-vakke is te maklik vir my, dus sal ek eerder ʼn kunskompetisie doen as wiskunde. Hierdie geleentheid is vir my ideaal om al my vaardighede in een kunswerk toe te pas.”

Louis sê hy hou daarvan om te sien hoe wiskunde op ʼn praktiese manier toegepas kan word en om dit op hierdie manier te gebruik, help hom ook om dit beter te verstaan.

“My belangstellings hou meestal verband met rekenaars, die maak van video’s en musiek, kodespeletjies en videoredigering.”

Hierdie talentvolle tiener oorweeg dit om ná skool iets in ʼn rigting soos aktuariële wiskunde of elektroniese ingenieurswese te volg, maar hy het nog nie finaal besluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.