Kletspraatjies in ’n kits maak die wêreld ’n koue plek

selfoongebruiker-in-restaurant

Hannes Noëth daag lesers vandag uit om meer woorde te praat as te tik. Foto: Pixabay.com

Die OTM waar ek ’n paar rand kontant moet trek vir daardie plekke waar ek nie met ’n kaart kan betaal nie, is reg langs ’n restaurant met ’n glasvenster.

Daar waar ek vyfde in die OTM-ry staan, is ek redelik oortuig daarvan dat ek die mense daar binne beter kan sien as wat hulle my daar buite kan sien. ’n Geliefde restaurant. Dit is drieuur in die middag en duidelik nie spitstyd nie. Dié wat nou daar sit, het tyd om te kuier.

Ek tel sewe mense wat by vier tafels, versprei oor die restaurant se vloeroppervlak, sit. Wanneer jy inkom by die deur aan die linkerkant sit twee skoolmeisies nog in skooldrag. Skuins oorkant hulle sit ’n vrou met sakke vol inkopies op die stoel langs haar. In die verste hoek van die restaurant sit twee pensioentrekkers. Lyk of hulle al ure daar sit en nog ’n paar uur daar gaan kuier. Duidelik het hulle baie tyd.

’n Paar tafels van hulle af sit ’n man en vrou – sy met ’n glas witwyn voor haar, hy met ’n glas rooiwyn. Twee skoolmeisies, twee pensioentrekkers, ’n man, ’n vrou en ’n enkellopervrou – die somtotaal van die restaurant se 15:00-kliënte met kelners wat hulle duidelik begin gereedmaak vir ’n bedrywiger aand.

Die toneeltjie waaraan ek my so deur die glasvenster verkyk, het egter ’n ander eienaardige element. Dit is te fassinerend vir woorde. Sewe uit sewe sit selfoon in die hand. Uiteraard vind nie een van hulle dit vreemd of selfs ongehoord nie – hulle is tog besig met hul eie dinge, en sien nie die prentjie soos ek van buite af nie.

Die man vat ’n slukkie rooiwyn, druk knoppies op sy selfoon. Die vrou vat ’n slukkie witwyn, gly met haar vinger oor die skerm, glimlag, tik iets, praat nie met haar man nie. Die twee skoolmeisies is anders. Hulle lag en wys iets vir mekaar, neem mekaar af, fokus weer op die skermpie voor hulle. Ek is redelik oortuig daarvan hulle deel nou daardie foto met die hele wêreld om hulle. Die enkelloper het al ’n paar keer haar foon uitgehaal, iemand probeer bel, boodskappe getik. In die tyd dat ek daar staan, het sy nog nie eens een keer opgekyk nie. Selfs die twee pensioentrekkers gesels nie juis met mekaar nie. Ek kan sien hulle sê so nou en dan iets, maar hul fokus is eerder op die foon.

Hoe het die wêreld tog verander … en sommer vinnig ook. Wie van ons sou ’n paar jaar gelede kon droom dat ons ’n toneel in ’n restaurant sou sien afspeel waar niemand eintlik met mekaar gesels nie en tog terselfdertyd met baie mense tegelykertyd? Ek wonder, is ons wêreld nou eintlik kleiner of groter? Is ons nou armer of ryker met al die tegnologie? Kitsbank, kitskommunikasie … jy kan self jou eie lysie opstel. Kan ons nog hoegenaamd sonder ons selfone oor die weg kom en sinvol leef? Ek twyfel.

Ek betrap my op heter daad! Terwyl ek daaroor wonder en in die ry staan, het ek sowaar self al ’n paar boodskappe beantwoord. Terwyl ek wegdraai van die OTM sien ek nommer agt by die restaurant instap. Nog voordat hy sit, is sy selfoon in sy hand. Die kelner moet wag dat hy opkyk voordat hulle kan gesels.

Net daar besluit ek om ’n heerlike uitdaging aan almal om my te rig: Kan jy vandag meer woorde praat as wat jy tik? Kan jy dit regkry om met mense te gesels sonder om na jou foon te loer, ’n boodskap te beantwoord en op jou foon te werk terwyl jy in ander se geselskap is?

Ek besef ek gaan maar sukkel daarmee. En as ek mooi daaroor moet nadink, moet ek erken: Dis eintlik vreeslik ongeskik om op my foon besig te wees terwyl ek by ander is. Elke mens verdien tog onverdeelde aandag, nie waar nie?

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Digitaal, Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Eliza-beth ·

Ja…wat sal mens sê. Toe ons kinders in die huis was uiteet ‘n lekker kuieraand vir ons. Geen tv of honde of watookal wat ons kan beroof van ons onverdeelde aandag vir die uur of 2 met ons kinders.Waar ons oor ‘n tafel met lekker kos voor ons heerlik die week se dinge kon bespreek, hul drome en denke kon deel, want ja, deur die week gaan dit soms dol. Dan kom mens deesdae in ‘n restaurant en die hele gesin sit elkeen met sy foon en woel. G’n woord word gesprak, die kos word met een hand geëet terwyl die ander hand nog doening is op die foon. Why bother – hoekom nie sommer elkeen wegneem etes kry en elk in sy kamer gaan sit en asosiaal wees nie?

Cornelia ·

Eliza-beth, asosiaal is presies wat dit is.
Kinders vra hulle wil kom kuier vir die naweek, maar daar word weinig gesels, want
daar is absoluut geen oogkontak, al die aandag is gevestig op die selfoon!
Mense maak nie meer tyd vir mekaar nie, dit is hartseer.

Koos Botha ·

Dis ‘n fenomeen van ons tyd. Gautrain gebruikers is eers erg. iPods in die ore kom ook nog by. Mense praat nie meer verbaal met mekaar nie. Eintlik ysingwekkend.

Piet Snot ·

Ek’s so dankbaar – daar’s soms tóg hoop. My 14-jarige is op haar 2de selfoon (of 3de, wie weet), maar wanneer sy in ons geselskap is, lê die foon in die kamer. Die ipod kry soms te veel aandag, maar as ons praat, word hy weggepak.
Ons 12-jarige se battery bly pap oor hy die foon so min gebruik.
En albei se fone is baie nuwer en baie ghrênder as Pa & Ma s’n.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.