‘Ons raaiselpad met Alzheimer se siekte’

Elise Nel, ʼn boervrou van die Karoo, was in 2010 genoop om ʼn brief aan familielede te skryf omdat die nuus oor haar man se siekte te swaar was om telefonies oor te dra: Willie is gediagnoseer met Alzheimer se siekte.

Nel het vir vyf jaar onvoorwaardelik aan Willie, eens ʼn briljante man, se sy gestaan en hom versorg tot sy dood in April 2015. Haar boek oor dié persoonlike reis, Ons raaiselpad met Alzheimersiekte, is vroeër vanjaar gepubliseer.

Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dit was nie ʼn maklike besluit om dié boek te skryf nie, maar dat die dagboek wat sy sedert die aanvang van sy siekte gehou het, haar gehelp het om feitelik te kon skryf en ook weer te gee wat sy op dié moeisame reis geleer het.

“Ek het eerstens geskryf op die aandrang van ander mense. Ná sy dood het mense wat hulself in dieselfde bootjie bevind het, gevra of hulle ook dié groot taak sou kon aanpak om na ʼn geliefde met Alzheimer se siekte om te sien.

“Ek kan uiteraard nie in ʼn uur se tyd vir iemand verduidelik hoe die pad gelyk het nie. Ek het besef ek sit met ʼn klomp kennis wat ek op ʼn baie swaar manier verwerf het en het besluit om die intieme reis met mense te deel.”

Sy het gevind dat mense ʼn wanpersepsie oor persone met Alzheimer se siekte het en dat sy graag met die boek wou wys dat dié pasiënte baie meer verstaan as wat mense vermoed.

“Die boek bevat akkurate datums, feite en stellings wat ek kon staaf omdat ek dagboek gehou het tot in die laaste fase van sy siekte. Ek kon ook van die navorsing wat ek gedoen het by die navorsingskliniek waar ek en Willie vir drie jaar voor sy dood betrokke was gebruik – hulle het wonderlike bronne van inligting en ons het ʼn fantastiese verhouding met hulle. Ek kon ook inspirasie en inligting put uit die Alzheimers-ondersteuningsgroep. Hulle is landswyd en elke dorp het een,” sê Nel.

Elise Nel. (Foto: Verskaf)

Elise Nel. (Foto: Verskaf)

Volgens Nel het sy Willie, met wie sy uiteindelik 49 jaar getroud was, se siekte dag vir dag gevat en die situasies een op ʼn slag hanteer. “Ek het probeer om nie vorentoe te kyk en vooruit myself te bekommer nie. ʼn Mens het baie krag nodig, maar dit is eers wanneer jy daar beland dat jy besef hoe ver jou krag strek. Ek sou beslis nie die pad alleen kon stap nie en het vir God meer in diepte leer ken en het hom telkens vir krag gevra om deur elke dag te kom.”

Sy glo dat dit nie slegs mense wat met Alzheimer se siekte gekonfronteer word is wat lesse uit die boek kan neem nie. “Daar het al soveel mense my gebel wat die boek gelees het wat niks met Alzheimer te make het nie wat sê dat hulle op ʼn moeilike pad is en dat die boek het hulle so baie help. Ook die versorgers van siek mense wat nou op dieselfde pad is met geliefdes, het al laat weet dat die pad vir hulle makliker gemaak word deur die boek en dat hulle minder eensaam voel.”

Nel vertel dat sy reeds sedert skooldae ʼn liefde vir skryf het, al is sy ná skool as vroedvrou en verpleegster opgelei. “Ek glo egter nie ek sal ooit weer so ʼn groot taak soos om ʼn boek te publiseer aanpak nie. Ek skryf maar in die tussentyd vir my kinders en kleinkinders,” lag sy.

Ons raaiselpad met Alzheimersiekte – ʼn persoonlike reis is beskikbaar by alle toonaangewende boekwinkels asook aanlyn.

Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R200,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grassie ·

Ek het dieselfde pad gestap. My vrou het 3 maande gelede die stryd teen Alzheimers finaal verloor. Omdat ek redelik aktief is by my kerk word ek ook soms genader om te help met berading by gesinne wat na ‘n Alzheimerlyer moet omsien, maar ek kan nie. Die rede is eenvoudig – ek is nie ‘n leuenaar nie. Ek kan daardie mense nie bemoedig en vir hulle sê daar is ‘n liggie voor in die tonnel nie, want daar is nie. Ek sal vir hulle moet vertel van onomkeerbare verstandelike agteruitgang met al die komplikasies daarvan, van inkontinensie wat gaan intree, dat jy nie meer geken gaan word nie en selfs as ‘n vyand beskou gaan word. Dat sy gaan wegraak, by ‘n winkel instap, goed vat en dan sommer daarmee loop en as sy gekeer word ‘n groot kabaal opskop en dan agter in ‘n polisiebakkie beland. Dat sy waarskynlik een of ander tyd gaan val, haar heup breek en in ‘n rolstoel beland. Dat sy later gevoer moet word en na ongeveer 4 jaar gaan sterf. En dit is die vrou wat jy liefhet, wat jy ‘n leeftyd mee gedeel het. As ek dit vir mense vertel gaan hulle so morbied raak dat hulle self dalk gaan tou opgooi.
As alles verby is, is ‘n mens verdwaasd. Jy was 4 jaar lank besig met versorging en nou skielik is daar niks. Jy moet nou weerdie toutjies van jou lewe probeer optel.

Allan ·

Enige persoon met Alzheinmers kan gerus Dr. Mary Newport se videos kyk op Youtube – “Alzheimer’s, Coconut Oil, MCTs & Ketones”

Was daar ·

Ons het twee jaar lank my skoonma versorg wat aan Alzheimer’s gely het. Die agteruitgaan van die brein was so erg dat ons nie altyd kon bybly met die veranderings nie. Die enigste manier hoe ons dit as familie kon hanteer was met humor. Ons kon nie bekostig om haar in ‘n tehuis te sit nie. Wanneer sy iets gedoen het wat verras het, het ons konstant die humor daarin probeer sien.
Sy het gerook, maar letterlik in een dag vergeet dat sy rook. My vrou het die rook gereedskap weggesteek en alles was OK tot so ‘n week later wat sy met ‘n lipstiffie in die mond en ‘n asmapompie instap en kla sy sukkel. My vrou vra of sy haar pompie wil gebruik Sy antwoord ja en dadelik vergeet sy dat sy wou rook. Ons moes maar net lag. Treurig wees het jou nie vorentoe gevat nie. Sterkte aan almal wat versorgers is.

Annie ·

Beslis die moeite werd om te lees! Wat interessant is dat die deursnee persoon dink Alzheimer’s is “die siekte van vergeet” dit is egter so ‘n allesomvattende siekte wat die totale persoon aantas, besluitneming, redenasie, insig, persoonlikheid, verbale vermoëns, praktiese vaardighede om maar ‘n paar te noem. In bg persoon se geval het geheueprobleme eers later begin. Sal die boek baie sterk aanbeveel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.