Oom Herrie se kerrie: Moleste met die orrel

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Neef Abrie sê die orrel was nie altoos kerke se eerste keuse vir musiek nie. Aanvanklik was daar ʼn soort orkes met Bybelse instrumente soos harpe en siters en so aan. Die orreltjies was tradisioneel in die kroeg, veral studentekroeë, en daar is te heerlik musiek gemaak. Toe moes daar plan gemaak word om die mense in die kerk te kry, en kerke het ook orrels en serfyntjies begin kry.

Nou, oom Herrie is ʼn man wat baie musiek kan waardeer en geniet, maar musiek maak nie so vreeslik nie. Die enigste instrument wat oom Herrie kan bespeel is die altblokfluit as oom Herrie dit net kan vind waar iemand dit weggesteek het na die vorige spelery.

Soos oom Herrie verstaan is daar drie dinge wat ʼn orrel tot sy reg laat kom. Die eerste is natuurlik die orrel self, die tweede is die orrelis, en die derde die gebou waarin dit staan, se eie akoestiek. En oom Herrie het al iets van alles beleef.

Maar, so glo oom Herrie, daar is ʼn derde, dieperliggende faktor, want die mooiste orrelmusiek wat oom Herrie in herinnering roep was tannie Ada se traporreltjie wat ons, na ons op Kleinbrak se strand ʼn preekstoel vir oom Smutsie gebou het, na sy plekke op die preekstoel moes dra. Daar het die akoestiek bestaan uit branders wat ruis, en agtergrondgeluide van jillende mense op die strand, met af en toe ʼn meeu wat kras van hom laat hoor.

Maar wat was mooier as “U het die brood gebreek…”? Of nader aan Kersfees, “Die Heiland is gebore…”?

Behalwe die jaar toe daar ʼn gaatjie iewers in die orreltjie se lugweë gekom het, en elke paar note die orreltjie in plaas van die noot ʼn “pfff” laat hoor. Daai jaar moes die knapies wat die trappe gepomp het, regtig harder pomp.

Dan was die jonge Herrie lank in ʼn gemeente met ʼn voorste, Hollands-gebore orrelis met ʼn doktorsgraad. Maar die kerkgebou se akoestiek, het hy verduidelik, verg dat hy die note bietjie rek. Toe kry die gemeente ʼn nuwe koster, en hy had ʼn stem soos min. En hy hou noot by die boek – vrede met die orrel. So wanneer die orrelis ʼn versie klaar gespeel het, het die koster en sy helfte van die gemeente al die volgende versie gevat. Wyle Pa Jan wou altoos by ander lidmate weet of hulle aan die orrelis, of die koster se kant was.

Maar snaaks, dat latere “mindere” orreliste nie daai akoestiek-moeilikheid gehad het om so te moes trek nie.

Dan was die Herries in ʼn gemeente met ʼn goeie orrel, maar tannie Orrel kon dit nie bybring nie. Maar as tannie Orrel siek of met vakansie was, en iemand het kom aflos, dan het daai orrel gewys wat in hom steek. Veral die een keer toe ʼn student op hom losgelaat is, en die dominee (self ʼn bedrewe orrelis) aan die einde van die diens die student bedank wat so lekker op die orrel “tekere gegaan het.”

Toe beland die Herries in ʼn gemeente waar die room van orreliste bymekaar gebring is. En dis nie al nie. Die dominees en sy vrou is self baie goeie orreliste. Af en toe as daar onverwags siekte is, en ʼn aflosorrelis kon nie betyds gereël word nie, het die dominee omtrént PT gedoen soos hy op en af van die preekstoel moes klim tussen preek en orrelspeel deur.

Op die platteland gebeur dit dikwels dat ʼn kerk ʼn goeie orrel en goeie akoestiek het, maar daar is nie iemand wat die orrel regtig tot sy reg kan laat kom nie. Of daar is, maar die bestaande tannie Orrel maak soveel moeilikheid dat dit na kerkskeuring lyk as daar net ʼn sweempie van ʼn vermoede is dat iemand wat regtig uitmaak genader kan word.

Oom Herrie het dit eerstehands beleef. Oom Herrie se ouma, Pa Jan se ma, was ʼn musiekonderwyseres wat lank na haar aftrede by plattelandse skole gaan aflos het as musiekonderwyseres. Byna sonder uitsondering moes sy dan ook die kerkorrel speel solank soos sy daar was, want ouma mag maar orrel gespeel het. Tot oom Herrie op ʼn dag per toeval ʼn tante raakloop wat vir daardie paar maande moes terugstaan. Die seergemaaktheid en amperse bitterheid het vlak gelê, al het sy geweet ouma was in ʼn heel ander liga.

So vertel Pa Jan dat dit by geleentheid op ʼn klein dorpie rugbaar geword het dat ʼn wêreldbekende orrelis vir sy ma op die dorpie kom kuier het. Dit kon nie hoër of laer nie, die man moet ʼn uitvoering hou.

Die enigste bruikbare orrel is in die kerk, en dié aand sit die ganse dorpie die kerk stampvol vir die vertoning.

Maar watwou, die orrelis het nog net met die eerste note laat waai, toe is die hele kerk onder stof en mossieneste – hy gebruik toe registers en goete waarvan tannie Orrel nie geweet het nie, en dit laat die note deur pype blaas waarvan tannie Orrel nie geweet het nie.

Ongelukkig het Pa Jan so aan die lag gegaan, dat oom Herrie nie weet of die gemeente toe ooit hul uitvoering gekry het nie, en of hulle net die stof en mossieneste gekry het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae