Oom Herrie se kerrie: Van Klase en Misse

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Met dié storie hou Oom Herrie maar wyd met die regte name van plekke en mense. Ons noem die dorp dan maar Mooifontein, so op die berg tussen Calvinia, Vanrhynsdorp en Loeriesfontein.

Ná die groot oorlog daar oorkant die waters begin Mooifontein se skool uit sy nate bars. Die skool se klaskamers was kamers wat in verskeie huise beskikbaar gestel is, en die kerksaal moes ook as skoolsaal dien.

En nou moet daar al weer plek gesoek word.

Maar die onderwysdepartement se hand bly toe, tot iemand op ’n manier uitsnuffel die goewerneur-generaal, sir Kerneels Bewebroek, sit self agter die ding. Glo omdat die skoolhoof nie sy opdrag uitvoer dat die skool gereeld God Save the Queen en Pickaderry laat sing het nie.

Ds. (later dr.) Wimpie Steenberg, die skoolhoof en die hoofouderling word as afvaardiging Kaap toe gestuur om sir Kerneels oor die kwessie te gaan spreek.

Luidens die verslag wat tot die kerkraad se notules toegevoeg is, het die vergadering aanvanklik onstuimig verloop. Sir Kerneels het egter gou besef dit sal sleg vir sy gesondheid wees om dwars oor die saak te bly, en beloof ’n mooi bedraggie waarmee ’n volwaardige skoolgebou gebou kan word. En nie lank ná die eerste stene gelê is nie laat weet hy die skool hoef ook nie Pickaderry te sing nie.

Maar sir Kerneels hou ’n troef. Toe die dorp hul oë uitvee hou die goewerneur-generaal se lang, slap kar voor die pastorie stil. Sir Kerneels klim uit, gevolg deur ’n prentjiemooi meisiekind, en met ’n amptenaar wat toegepak is onder bagasie stryk hulle aan voordeur toe. By die pastorie word gegroet, en sir Kerneels stel die meisiekind voor: “This is Miss Beatrice Watson, your new English teacher.”

Dis ’n doodhou vir Mooifontein, want die Miss kom nou net uit Engeland uit en sy ken nie ’n woord Afrikaans nie.

Dis ook maar goed sy loseer eers in die pastorie, want die leraarspaar is al mense op die dorp wat Engels behoorlik kan praat. Tot die Jode wat die Jodewinkel (voorganger van die landboukoöperasie) het, kom van Litaue af en hul noodgedwonge Afrikaans is beter as hul Engels. Selfs die dominee se kroos maak nie mooi uit nie. Die aand ná die juffrou al gaan inkruip het praat dominee en sy vrou nog ’n ietsie oor Miss Beatrice.”

“Maar het pa dan nie nou gevloek nie?” wil die oudste weet. Sy ma snap dadelik. “Nee my kind, Miss is die Engels vir Juffrou.”

Miss Beatrice pak haar taak met groot oorgawe aan, maar sommer met die eerste klassie wat sy met die Rooi Taal vertroud moet maak, lol dit al.

“Good morning, class,” groet sy vriendelik en opgeruimd. Maar net een knapie laat van hom hoor: “Good morning, Miss.”

Miss Beatrice is ontstemd oor die koue reaksie, en wil terstond weet waarom sy so swak behandel word. Maar dit sukkel om haar verstaanbaar te maak. Oplaas gaan die lig op vir die knaap wat gegroet het. “But I is de only one who se name is Klaas,” verduidelik hy.

Nou is dit Miss Beatrice se beurt om te sukkel om te verstaan. Sy raak so ontsteld dat sy afsit skoolhoof toe en haar bedanking gaan indien. Vir sulke “hooligans” sien sy nie kans nie.

Die skoolhoof snap iewers moet ’n kommunikasiegaping wees, pleit en sê hy gaan met die dominee reël vir ’n dringende ouervergadering. Die ouers koukus en ná die vergadering met gebed geopen is stel hulle voor dat ’n ander kind in die klas, Herklaas, saam met Klaas sal groet. Hulle weet darem nou nie van die res nie, want dis mos nie mooi as kinders ’n grootmens aanspreek sonder om eers aangespreek te word nie.

Die dominee, wat ook al Miss Beatrice se weergawe aangehoor het, stik van die lag. Dinge word gou-gou uitgepluis, en oor en weer hand geskud. Miss Beatrice ook, en vreeslik ge-“welkom” in die vreemdste uitsprake denkbaar.

Miss Beatrice het ook daai aand besef sy moet maar so gou as moontlik so veel as moontlik Afrikaans onder die knie kry, al het sy beplan om redelik gou weer “home” toe te gaan.

Maar wat, sommer gou slaan ’n jong boer van die distrik haar voete onder haar uit. So met sy bietjie Engels en haar bietjie Afrikaans en tonne misverstande. En was dit nou ’n dolgelukkige paartjie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae