Boelies het háár ook amper laat selfmoord pleeg

Foto: healthyplace.com

Foto: healthyplace.com

”Ek wil net sê, as dit nie vir my ouers was wat my uit daardie skool gehaal het nie, sou ek ook dalk op daardie punt gekom het.” Só skryf ʼn 15-jarige meisie van Johannesburg, na aanleiding van Anneke Mostert wat glo selfmoord gepleeg het as gevolg van boelies by die skool. Lees meer hier.

*Michelle de Beer het as graad R-leerder by ʼn laerskool in Johannesburg begin. Haar skoolloopbaan het goed begin en sy het gou maatjies gemaak. “Ek en *Ronel was beste vriendinne tot graad 2, toe sy ʼn ander maatjie ontmoet het. Maar dit was oukei, want ek het ook ander maatjies gehad.” Michelle sê haar verhouding met Ronel het al meer versleg omdat dié se nuwe maatjies nie van Michelle gehou het nie. “Ek en Ronel was aan en af vriende. Elke keer dat Ronel met haar maatjies baklei het, was sy weer vriendelik met my.”

In elke skool is daar altyd ʼn groep wat soveel invloed en mag het dat ’n individu wat nie wil konformeer nie, gewoonlik ʼn teiken word. Michelle vertel hoe ʼn persoon wat eens op ʼn tyd haar beste maatjie was, deel gevorm het van ʼn groep meisies wat haar amper tot selfmoord sou dryf. “Ek het hulle die ‘blondines’ genoem. Hulle het altyd grappies oor my gemaak en my verskriklike name genoem. Hulle het gesê ek is vet en weird.”

Sy vertel dat sy nie meer vriende gehad het nie, want ander kinders het ook die spot met haar begin dryf. Sy wou ook nie meer aan skoolaktiwiteite deelneem nie. “Ek wou ook nie meer sing nie, iets waarvoor ek so lief is. Ek wou nie meer koor sing nie, want hulle was ook daar.”

Michelle het haar van ander begin onttrek en afsonder omdat sy nie meer kans gesien het om tussen kinders te wees nie. Sy is eenkeer uit ʼn boom gestamp, ʼn plek waar sy gedink het sy sou veilig wees. “Ek het toe pouses in die badkamer gaan sit. Ek het so alleen gevoel.” Dis in dié tye dat sy in haarself begin twyfel het, en gedink het dat daar dalk iets fout is met haar.

Michelle se ma, wat elke dag haar kind se seer en ongelukkigheid moes aanskou, het besluit om dit met ʼn onderwyser te bespreek. “My ma het met ʼn juffrou gaan praat, maar die juffrou het gesê sy kan niks daaraan doen nie. Ek dink nie eens die hoof het van die situasie geweet nie.”

Haar ouers het toe besluit om haar aan die einde van haar graad 5-jaar uit die skool te haal omdat die situasie net te erg geraak het. “Ek is vandag ʼn nuwe mens. Ek was mal oor my nuwe laerskool en ek het vriende gemaak wat ek tot vandag toe vertrou.”

Michelle se boodskap vir kinders wat ook geboelie word?

“As dit so erg raak by die skool, begin net ʼn nuwe lewe – kry ʼn ander skool.”

*Skuilname is gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
bets

Dis verskriklik om te dink dat boelies n skool oorneem dat self nie eers die personeel, wat veronderstel is om jou veilig te laat voel, belang stel om dit stop te sit nie. Ek wonder maar net hoeveel van die boelies se ouers op die bestuursraad sit, daarom kan die kinders net doen wat hulle wil.

Netsoja

Ai tog! Dis maklik om te sê dat jy eenvoudig jou kind uit die skool moet haal en by ‘n nuwe een moet gaan inskryf maar die feit van die saak is die boelies vind net ‘n nuwe teiken. Ek weet my dogter loop al jare lank deur – op hierdie oomblik is sy relatief gelukkig (dis asof die boelies vir eers op iemand anders fokus) en dit maak nie saak hoeveel keer ek al by die skoolhoof of haar grade hoof gaan aanklop het nie hulle trek net hulle skouers op. Self mag jy nie die ander kinders aantree… Lees meer »

Renee

My dogter is deur dieselfde op laerskool. Dikwels tree die personeel en hoof nie op nie, omdat die boelies se ouers die skool se bron van borge en finansies is. Die beste besluit wat ek geneem het was om my kind te skuif al het baie gedink ek maak ‘n fout omdat ek dit aan die begin van haar graad 7 jaar gedoen het. Die resultate het die teendeel bewys!

pop

Bets dis nes jy daar se, die ouers het die skool in hulle sak.

lindie

Dis asof ek van my eie kind lees hierbo. Haar beste maatjie van babatyd af het haar ook op ‘n stadium geboelie. Dit was van so ‘n aard dat die naskooljuffrou al drie se ouers ingeroep het en geweier het dat die kinders weer met mekaar speel. My kind het elke dag huilend in die kar en ek het besef genoeg is genoeg toe sy ook voel sy kan nie met die lewe aangaan nie. Vandag is sy in ‘n ander skool en het sy so goed gevorder dat sy selfs die selfvertroue het om vir ander kinders op te… Lees meer »