Ek kan!

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Ek het Vivienne Schultz vir die eerste keer ontmoet tydens ʼn opleidingsgeleentheid vir niewinsgewende organisasies. Vir een van die aktiwiteite moes ek ʼn origami-papier-ding vou waarin ek liederlik geflop het terwyl die persoon hier langs my ʼn bruinpapiersak moes versier – iets wat ek met toe oë in die middel van die nag sou kon doen. Ek wou huil van frustrasie omdat ek dit nie kon regkry nie.

Die voel-dit-aan-jou-lyf punt wat Vivienne wou maak, is juis hoe ons in werkskeppingsprojekte die regte taak by die regte persoon se vaardighede moet pas. Ons dink dis niks om iemand voor ʼn naaldwerkmasjien neer te sit en net reguit lyne te laat stik nie, maar hulle beleef dalk presies dieselfde angs en oorweldiging as wat ek in daardie oomblik beleef het omdat ek nog nooit voorheen ʼn papier-dier gevou het nie.

In Vivienne se boek, From Dependency to Dignity:  The A2B of community development skryf sy verder oor hierdie “deliberate process of exposing ourselves to a mix of just-right challenges and experiences”.

ʼn Baie handige beginsel ook vir my as ouer: Doelbewuste blootstelling aan net-reg-uitdagings waar my kinders nie lamgelê word omdat die taak te moeilik was nie, maar tog ook trots is op hulleself omdat hulle moes strek om dit reg te kry en om uiteindelik daardie “ek kan” oomblik te beleef.

Ons kinders se hele wêreld is op die oomblik op sy kop gedraai. Soveel van die klein dingetjies waaraan hulle voorheen kon werk om sukses te proe, is weg. Aan die anderkant is die druk minder en tempo eintlik stadiger omdat ons nie nou agter sportwedstryde en kunsfeeste aan jaag nie, so ouers hoef nie soveel keer in te gryp om te probeer red omdat ons alweer uit tyd uit gehardloop en daar nie nou tyd is om te sukkel nie.

Gebruik hierdie unieke tyd om vir jou kinders bietjie meer ruimte te gee om self nuwe take te probeer, van wasgoed help ophang en skottelgoed was tot kosmaak of koek bak. Nie te moeilik of te maklik nie. Soos baba-beer se bed vir Gouelokkies: “Net reg!”

Miskien brand iets aan of moet jy die koppie weer was, miskien vergeet jou kind een van die huiswerktake en is hulle punte in die volgende toets bietjie minder omdat ma nie meer alles vir of namens hulle doen nie, maar ons kinders groei en blom omdat hulle “self” kon probeer en ook later bemeester.

Daardie klop-op-jou-eie-skouer vir iets wat nou-nou nog buite jou bereik was, het soveel meer langtermynwaarde. Dit gee ons almal die durf om te waag en te slaag, te sukkel en weer te probeer. En dit kweek ons gevoel van selfstandigheid, onafhanklikheid en waardigheid om met selfvertroue dit nog verder te waag en weer te kan slaag.

Lindie Strydom

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae