Leesbegrip is die doel van lees

Ma-en-dogter-lees

Foto: Dreamstime.com

Hallo Susan,

Ek is bekommerd oor my dogter in gr. 5. Hoewel sy pragtig vlot lees, verstaan sy nie wat sy lees nie. Sy druip haar begripstoetse. Sy het arbeidsterapie en spraakterapie in gr. 1 en gr. 2 ontvang.

Vriendelike groete,

Monique

Beste Monique,

Baie dankie dat jy hierdie probleem met ons lesers deel. Ek dink daar is moontlik ander ouers wat ook gevind het dat hulle kinders nie verstaan wat hulle lees nie.

Leesbegrip is die doel van lees. Die rede waarom ons lees is immers om sin te maak uit dit wat op die bladsy geskryf staan. Wanneer ʼn kind vlot lees, aanvaar ons dat sy verstaan wat sy gelees het, maar 3 tot 10% van vlot lesers begryp nie wat hulle gelees het nie.

Hoewel daar ander redes mag wees, is die algemene oorsake van ʼn gebrek aan leesbegrip die volgende:

  1. Beperkte woordeskat

Woordeskat is noodsaaklik vir suksesvolle lees. Leerlinge kan nie verstaan wat hulle lees as hulle nie die betekenis van die woorde verstaan nie. Dekades se navorsing het die belangrike rol van woordeskat in leesbegrip bevestig. Woordeskat is ook noodsaaklik vir leerlinge se algemene akademiese sukses.

  1. Probleme met geheue

Navorsers weet presies watter breinaktiwiteite bydra tot disleksie, maar geen funksionele magnetiese resonansieskanderings of fMRI-studies het, tot onlangs, die neurobiologiese profiel van vlot lesers met swak leesbegrip ondersoek nie.

Neuro-skanderings wat gedoen is op kinders terwyl hulle besig is om te lees toon dat die breinfunksie van diegene met leesbegripprobleme beduidend verskil van die kinders met disleksie. Kinders met disleksie toon abnormaliteite in ʼn spesifieke area van die oksipitaal-temporale korteks, ʼn deel van die brein wat geassosieer word met die suksesvolle herkenning van die geskrewe woord. Kinders met leesbegripprobleme, daarenteen, toon spesifieke afwykings in die areas wat tipies met geheue geassosieer word.

Dat daar afwykings in die breinareas gemoeid met geheue sal wees, maak sin. Verskeie studies het bevestig dat leesbegrip tot ʼn groot mate afhanklik is van die werkende sowel as die langtermyn-geheue.

Korttermyn-geheue hou inligting slegs vir ʼn paar sekondes in die verstand terwyl dit verwerk word. Verwerkte inligting word dan permanent in die langtermyn-geheue vasgelê. Die werkende geheuestelsel tree as aktiewe tussenganger in die inligtingsverwerkingarea van die brein op; dit is ʼn belangrike geheuestelsel en meeste van ons gebruik dit elke dag.

Om te kan begryp wat ons lees benodig ons die ondersteuning van ʼn fikse en gesonde werkende geheue. Ons gebruik ons werkende geheue om ingewikkelde sinne soos “Die hanswors wat die seun omhels, soen die meisie,” te verstaan. ʼn Geoefende werkende geheue help ons om ingewikkelde instruksies korrek uit te voer soos byvoorbeeld, “Antwoord eers elke tweede vraag op bladsy vyftien en dan al die vrae op bladsy sestien voordat jy jou antwoorde met die antwoorde agter in die boek vergelyk.” Ons gebruik ons werkende geheue wanneer sinsbou belangrik is vir begrip, soos byvoorbeeld in die volgende sin: “Dit was die seun se bal, nie die meisie s’n nie, wat vuil was.”

  1. Probleme met logiese denke

Logiese denke is die proses waardeur ʼn mens redenering konsekwent en deurlopend gebruik om tot ʼn besluit te kom. Probleme of situasies waarbinne logiese denke plaasvind verg struktuur, verbande tussen feite, en opeenvolgings van beredeneringe wat uiteindelik op ʼn sinvolle gevolgtrekking uitloop.

Die verband tussen logiese denke en lees is lank reeds in die literatuur bevestig. Daar word gesê “daar is nie lees sonder redeneer nie” en daar word selfs gesê “lees is redeneer”.

Van teorie tot praktyk

Om jou dogter se woordeskat te verbeter beveel ek aan dat jy vir haar klein kaartjies maak, met die woord op die een kant, en die betekenis agterop. Die woord “argipel ” sal dan byvoorbeel op die voorkant staan, met die woorde “’n groep eilande” agterop. Laat jou kind eers net vyf sulke woordkaartjies bestudeer en voeg elke keer vyf nuwe woordkaartjies by wanneer sy die betekenis van die vorige vyf bemeester het. Hersien gereeld haar kennis van die ouer woordkaartjies.

Indien jy dink jou dogter se probleem lê moontlik by haar geheue, kontak my asseblief sodat ek jou na iemand kan verwys wat julle in dié verband behulpsaam kan wees.

Behalwe dat logiese denke belangrik is vir leesbegrip bestaan duidelike bewys daarvoor dat spesifieke opleiding in logiese denke mense “slimmer” maak. Sodanige opleiding stel kinders in staat om ontwykende antwoorde soos “ek weet nie”, of “dit is te moeilik”, te vermy. Dit bemagtig hulle om dieper te delf en beter begrip te verwerf oor hoe om by ʼn oplossing van ʼn probleem uit te kom.

Ek sluit ʼn oefening hier in om jou dogter te help om haar logiese denkvaardighede te verbeter, en in die volgende twee weke sal ek nog twee sulke oefeninge beskikbaar stel. Oefening in logiese denke is ʼn prettige manier om kinders se denke tydens die Desembervakansie op en wakker te hou.

Vrae

Maak vir jou dogter ’n drukstuk van die vasvra hier onder. Sy sal ook ʼn geel en rooi potlood benodig. Haar uitdaging is om die vraagtekens met óf ʼn soliede geel, ʼn soliede rooi, ʼn geel rand of ʼn rooi rand te vervang:

Ek hoop jou dogter geniet die oefening en sien uit na die volgende een.

Alles van die beste

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, asook jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om anoniem te bly.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 22 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 450 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae