ʼn Brief aan ma’s: Hou op skuldig voel

Argieffoto (Foto: Bgmfotografia, Pixabay)

Saam met die geboorte van jou kind is daar iets anders wat ook gebore word … die skuldgevoel-feetjie.

Ek dink aan haar soos aan die Chicken Licken-advertensie se gorilla: iets wat op jou skouer sit en soos die kinders ouer word, groei sy al groter en groter. Tot jy amper nie meer kan loop nie.

Al verskil tussen haar en die gorilla is dat sy nie verklein wanneer jy by ʼn Chicken Licken instap nie. Sy het nogal die gewoonte om daar te bly sit en huis te maak, behalwe as jy haar sommer vroeg-vroeg vasvat en seker maak sy verstaan sy mag net nou en dan haar opinie gee. Sy moet ook verstaan dat jy soms na haar sal luister, maar dan self sal evalueer of jy haar opinie ernstig gaan opneem.

As ouers moet ons soms anders begin dink oor ons keuses, en sommer die lewe in die algemeen. Om kinders groot te maak is nie iets om ligtelik op te neem nie. Ek besef dit elke dag al hoe meer. Dis ʼn massiewe verantwoordelikheid. Hierdie wesentjies wat aan ons toevertrou is, moet ons goed genoeg opvoed om eendag goeie, verantwoordelike, integriteitvolle mense te wees. Wat nie net gaan “wees” nie, maar hopelik ʼn goeie impak in die lewe sal maak.

Daarom is dit te verstane dat ons onsself gaan bekommer, waarskynlik die meeste van die tyd. En dikwels gaan ons skuldig voel as hulle jou aankyk met ʼn hoe-kon-jy-uitdrukking. En die trane. Die trane …

Argieffoto (Foto: timkraaijvanger, Pixabay)

In die boek Kweek karaktervolle kinders maak hulle die volgende stelling: “Jy en jou kind het nie dieselfde werk nie. Jou kind se werk is om jou vasberandenheid te toets sodat hy lesse oor realiteit kan leer. Jou werk is om die toets te deurstaan, en dit sluit woede, hanglippe, onbeheersde uitbarstings en veel meer in.”

Hierdie goed gaan gebeur. Daarom moet ons ophou om skuldig te voel. As God en sy Woord jou lig op jou pad is om jou kinders groot te maak, en jy hulle nog steeds toelaat om te groei op hulle unieke manier, kan die skuldgevoel-feetjie maar rustig hiberneer op jou skouer.

As ouers, en ma’s, moet ons leer om soms ook sag te wees met onsself. As jy met alle eerlikheid kan se jy doen jou bes, kan niemand meer van jou vra nie.

Uiteindelik:

– gaan jou kinders waarskynlik hulle grootste vloermoer gooi in ʼn winkelsentrum en jou soos ʼn onbekwame ma laat lyk omdat jy hulle nie kan kalmeer nie. Dis niks om oor skuldig te voel nie;

– gaan jy voor die yskas staan en daar gaan nie ʼn krummel kos in wees nie, al is dit oor ʼn paar minute tyd vir aandete, want jy het nie al jou draaie gekry nie. Almal gaan oorleef op vinnig gemaakte pasta of selfs lekker toebroodjies;

– gaan jou kinders nie noodwendig deurslaap tot die ouderdom van 15 maande nie en as jy dan begin “sleep train”, gaan die skuldgevoel-feetjie se grootte van ʼn 1 na ʼn 10 verhoog binne die eerste huil. Dit gaan ook verby en as hulle daardie aand 12 ure deurslaap, weet jy dit was die regte ding om te doen;

– gaan jou kinders soms nie enigiets anders as Pretzels en kaas vir aandete wil hê nie. Hulle gaan nog steeds groot en sterk word en leer om van groente te hou;

– gaan jy soms uit totale radeloosheid, ná ʼn lang dag, jou humeur só erg verloor dat hulle histeries begin huil. Hulle moet êrens leer dat almal in die lewe nie noodwendig altyd kalm en rustig hulle drifbuie gaan aanvaar nie. Die huis is juis die ideale plek daarvoor!

– gaan jy soms letterlik wil weghardloop van die huis en as jy ʼn kinderoppasser kry, dit ook doen net om ʼn paar oomblikke vir jouself te hê. Meestal is dit net om ʼn paar minute in die motor te bly sit nadat jy teruggekom het van ʼn inkopiesessie, met ʼn sjokolade wat jy gekoop het om jouself te bederf, in die hand;

Argieffoto (Foto: marvelmozhko, Pixabay)

– is dit oukei om te huil as dit net te veel raak om altyd, 24/7, benodig te word. Die drukkies en die soentjies sal die skuldgevoel-feetjie baie gou verjaag;

– gaan jy waarskynlik bitter min dae van die jaar lyk of jy uit ʼn mode-tydskrif gestap het, of selfs jou hare gekam het. Dis ook oukei;

– gaan niks perfek wees nie. Al wil jy dit so graag só hê. Niemand is perfek nie. Moet nie die stres op jouself sit om dit van jouself te verwag nie. Veral nie in ʼn tyd van jou lewe waar jy eintlik die chaos moet omarm en geniet nie;

– kan jou kinders soms later eet, bad of bed toe gaan as wat hulle gewoonlik doen. Hulle is net vir so lank klein en sal jy hulle net vir so lank nog ʼn rukkie langer kan vashou;

– gaan jy soms móét gaan werk en jy gaan die deur toetrek met die klank van jou huilende kind in jou ore, en jou hart gaan wil breek. Jou kind se blydskap as jy hom weer sien is oorweldigend en ʼn aanduiding dat kinders nie ʼn wrok koester nie. Die wegkom van die huis veroorsaak ook dikwels dat jy jou kinders meer mis en ekstra spesiale tyd saam met hulle deurbring.

Moet dus nie die skuldgevoel-feetjie voed met die skuldgevoelens wat opstapel nie. Moenie haar ʼn houvas op jou gee nie. Laat die skuldgevoel-feetjie vry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Nanna ·

Alles só waar. Dis met dankbaarheid dat my seuns vandag suksesvolle jongmanne is. En nog steeds graag huis toe kom.
Elke mamma kan sekerlik nog ‘n magdom goed byvoeg. Ek onthou dat ek gesê het ek verstaan hoekom ouers ‘n kind teen die muur of vloer gooi uit woede. Iewers kom daar ‘n oomblik dat jy op jou tande moet kners en net jou rug draai en weg stap. Gewoonlik ‘n tyd wat die kinders en jy net oormoeg is.
Met genade uit God se hand en baie geduld en liefde maak ouers nog steeds hul kinders groot.

Nuwe mamma ·

Wil net se dankie, ek is ‘n nuwe mamma, my baba is maar net 6 maande oud en ek voel soms so skuldig oor goed dat ek voel ek is ‘n slegte mamma. Ek waardeer artikels soos die so baie. Dankie.

Jozi ·

Ai… ek is al ouma van een en wens so ek het die voorreg gehad om hierdie artikel te kon lees toe my kinders nog klein was.
Die dag as daardie baba gebore word ontvang jy ongelukkig nie die broodnodige “instruction manual” om jou te lei nie.
Dis maar ‘n proses en ons almal maak foute.
Kinders vra nie baie nie. Gee hulle liefde, aanvaarding, ondersteuning en hou die magie vol.
En onthou om jammer te se as jy verkeerd opgetree het.

Ella ·

Ek is n ou mamma met twee volwasse seuns en twee pragtige kleinseuns en ek het daai feetjie eers gister my skouer en huis belet.
Dit was n laaaaang tyd van skuldig voel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.