Raaiselkind: ‘Almal het ʼn stukkie outisme in hulle’

Sally Campher en Anrich Herbst (Foto: Phillip Bruwer/Maroela Media)

Raaiselkind, die langverwagte rolprent wat op Annelie Botes se aangrypende verhaal van ʼn outistiese seun en sy gesin se soeke na antwoorde oor dié gedragsversteuring gegrond is, het op 16 Februarie in fliekteaters landwyd begin draai.

Raaiselkind vertel die ontnugterende verhaal van Ingrid Dorfling (Diaan Lawrenson) wat haar man Dawid (Neels Clasen) en die res van haar gesin probeer staande hou terwyl sy antwoorde soek oor wat presies haar jongste, Alexander (Ian Roelofs), makeer.

Sy word van bakboord na stuurboord, van dokter na dokter, gestuur en keer telkens terug huis toe met ʼn ligter beursie en ʼn swaarder gemoed. Alexander word uiteindelik met outisme gediagnoseer en ʼn emosioneel uitgeputte Ingrid word ondersteun deur die liefdevolle huishulp Miriam (June van Merch) en haar buurman, Günter (Anrich Herbst).

Volgens Sally Campher, vervaardiger van die rolprent, is sy verstom oor die positiewe terugvoer wat die fliek reeds ontvang het. “Ek het aanvanklik gedink die fliek se teikenmark is die breër publiek wat geen kennis dra van outisme nie, en dat dit dalk vir mense op die spektrum van outisme moeilik gaan wees om na te kyk. Ek ervaar egter dat dit juis dié mense is wat, tot my verbystering, die ongelooflikste positiewe terugvoer gee oor die fliek, want hulle kan hulle almal daarmee vereenselwig. Dit is amper asof dit vir hulle ʼn bevryding is – daar is iemand daar buite wat verstaan.”

Campher vertel sy raak emosioneel oor die terugvoer. “Ons het die spyker op die kop geslaan. ʼn Vrou het op Facebook geskryf sy wou eers anoniem kommentaar lewer oor die fliek, maar het toe besluit om nie anoniem te bly nie omdat sy nie langer wou wegkruip nie. Dit laat my voel dat ons vermag het wat ons wou.”

Campher sê baie fliekgangers lewer repliek oor die akkuraatheid waarmee die kompleksiteit van die gedragsversteuring op die grootskerm vasgevang word. “Annelie se navorsing oor outisme is so lewensgetrou in die boek weergegee en ons as vervaardigers [van die rolprent] se rol was om dié navorsing so goed moontlik op film vas te vang.”

Sy het self navorsing gedoen voor die aanvang van die verfilming. “Ek het my eie navorsing gaan doen oor outisme om dit beter te kan verstaan, want ek was so ʼn leek oor die onderwerp. Ek het eerlikwaar gewonder of dit regtig so erg kan wees soos wat die boek dit beskryf.”

Campher sê daarom het hulle besluit om ʼn sielkundige, Hannelie Spies, tydens verfilming op die stel te hê wat leiding kan gee om die gedrag van die outistiese seuntjie korrek vas te vang. Spies is ʼn opvoedkundige sielkundige wat lank in Kanada gewoon en gewerk het en sy bedryf tans ʼn praktyk in Stellenbosch.

“Hannelie het baie nou saam met Ian gewerk en hom in sy vertolking gelei deur vir hom te sê ‘flap jou handjies meer’ of ‘moenie oogkontak maak nie’. Sy het hom gewys hoe om alles te doen soos wat ʼn outistiese kind dit sou doen.”

Campher vertel sy het die fliek aan ʼn groep mediese dokters vertoon voordat dit op die silwerdoek vrygestel is. “Een dokter, wat ook ʼn seun op die outisme-spektrum het, het gesê hy dink dit moet verpligtend wees vir almal in die land om die fliek te kyk. Dit laat jou oë oopgaan en gee mense ʼn perspektief van en ʼn visie oor outisme wat hulle op geen ander plek sal kry nie.”

Die skrywer van die boek, Annelie Botes, sê sy het vir drie jaar “aggressief” navorsing gedoen oor outisme deur mense en skole wat direk deur outisme geraak word, te nader. “Ek het nie net nagelees daaroor nie, eintlik baie min. Ek het by skole ingebly en ure lank by outistiese kinders deurgebring en saam met hulle op skoolbussies gery. Ek het selfs ure by die polisiestasie omgesit om te kyk presies hoe werk die proses, byvoorbeeld wanneer ʼn dossier geopen word.”

raaiselkindBotes vertel prontuit waar die idee van die verhaal by haar opgekom het. “Voor in die boek staan ‘Vir Alida en Brent wat immer by my sal spook’. Alida, ʼn jong onderwyseres aan die begin van haar loopbaan, het saam met my skoolgehou op Bedford. In die personeelkamer beland sy toe langs my. Ons het goed oor die weg gekom. Sy is later met ʼn man van Adelaide getroud en het saam met hom op ʼn plaas gaan woon.”

Alida het later ʼn laatlamseun gehad en het gereeld met dié seun, Brent, by Botes op Bedford gekuier.

“Die kind was onhebbelik,” vertel Botes. “Ek kon hom nie hanteer nie. Hy het die kat gejaag en my plante gebreek. Hy het aanhoudend geskree en vensters gebreek.

“Die geluid van glas wat breek, was vir hom mooi en op ʼn dag breek hy iets wat vir my kosbaar was. Ek was so moedeloos, ek jaag toe vir Alida en Brent summier uit my huis uit.”

ʼn Jaar of twee later het Alida vir Botes laat weet Brent is met outisme gediagnoseer. “Ek het gedink dis sommer net ʼn verskoning vir stoutwees, maar toe ons klaar gesels het, het ek afgesit na die dorp se biblioteek toe en ʼn boek gaan soek oor outisme.”

Sy sê haar belangstelling in dié gedragsversteuring het vandaar nie opgehou nie. Sy het die eensaamheid wat die Dorfling-gesin in die verhaal beleef, oor en oor by elke ouer van die kinders wat deel van haar navorsing was, waargeneem.

“Geen van dié ouers het ʼn sosiale lewe nie en amper almal van hulle leef in isolasie. Kinders met outisme is sensories baie sensitief. Die mense kan dit byvoorbeeld nie waag om kerk toe te gaan met die kind nie, want die gesange maak die kind se ore seer en die geklingel van die munte in die kollektebordjie pla die kind so, hy klap die bordjie om en die munte rol die hele kerk vol. Hulle kan nie met die kind na ʼn restaurant gaan nie, want hy spring sommer skielik op en vat ʼn hap van ʼn vreemdeling se burger uit sy bord uit.”

Botes sê die verhaal gaan nie oor outisme nie, maar oor die onverskilligheid van mense in die samelewing teenoor die buiteperd. “Outisme was net die middel wat ek gebruik het, maar die verhaal geld vir alles – Down se sindroom, alkoholisme, Alzheimer se siekte. As almal net ʼn bietjie hulp kan kry …”

Vanuit die positiewe terugvoer wat die fliek ontvang, kan sy egter agterkom die samelewing het tog ʼn sterk gewete en dat mense wil help, hulle weet net nie altyd hoe nie.

Botes glo elke mens het ʼn stukkie outisme in hom of haar. “Ons almal kry sulke dae, waar ons in die hoekie wil sit en kwaad wees en goed wil breek. Die verskil is net: Ons het inhibisies wat ʼn kind met outisme nie het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

bb ·

Ek kan nie eers daaroor lees of na die trailer kyk sonder om ‘n dik swaar knop in my keel te kry en die trane opwel nie.
Ek weet nognie saam met wie ek dit gaan sien nie maar ek weet ek wil dit vreeslik graag sien.

vonnie ·

ek hoop my skoonma gaan kyk die fliek, want sy kan nie aanvaar dat my seun autisties is nie. dis net slegte parenting van ons kant af.

Nuus_Leser ·

Ek het die fliek die naweek gaan kyk, en ek is verstom oor hoe wonderlik dit (outisme en die lewe daarmee) vasgevang is. Dankie Annelie vir die skryf van die boek en Sally vir die film! Ek dink meer mense moet dit sien! Ek kyk met nuwe oë na mense om my, hetsy met outisme, of ‘n drank probleem!

Linda ·

Die fliek het my diep ontstel. Ek dink van alle gebreke of afwykings is die autism die ergste om mee saam te leef. My hart gaan uit na ouers met outistiese kindertjies. As ek oor kon kies sou ek graag met sulke kindertjies wou werk.

Ronel Visser ·

Ek was stom verslae die krag van n ma julle verdien die hoogste prys vir julle werk .Mag hierdie fliek /boek elkeen raak soos dit my geraak het Dankie vir ma s met uithou vermoee

Elle ·

Dankie Ronel. Dis mense soos Jy wat verstaan en empatie het ,wat ons pad met Outisme bietjie makliker maak. Ek is al 23 Jr. enkelouer van 25 jarige Outistiese seun. Raaiselkind boek kon netsowel “ons lewe” gewees het.
Maar daar is hoop met vroeë intervensie en baie liefde.
My kind is vandag getuigskrif daarvan.

Elle ·

Ek doen ‘n beroep op MM om nie die betrokke blad na 48 uur te sluit,soos gebruiklik nie. Ek merk op daar is tans op MM ‘n hele paar onderwerpe hangend onder die Outisme opskrif. Dit blyk my dat ” Raaiselkind “diep getref het,nie net tuis nie-maar oral.

pa van outistiese seun ·

die ding van outisme is dat daar baie simpatie vir die kind is maar amper geen ondersteuning aan die ouers nie. die ouer moet maar net staande bly.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.