Redakteursbrief: Lesse van my onkonvensionele pa

Susan se pa, Wessel van Vuuren, staan heel links op dié foto. Die driejarige Susan is heel regs in haar oupa se arms.

Susan se pa, Wessel van Vuuren, staan heel links op dié foto. Die driejarige Susan is heel regs in haar oupa se arms.

Ek het ‘n onkonvensionele pa.

As mense oor hul pa’s praat, vertel hulle altyd goed wat klink of dit uit ‘n Disney-gesinsfliek kom. Mans vertel van die visvang- of jaguitstappies saam met hul pa’s toe hulle skaars groot genoeg was om ‘n visstok of ‘n geweer vas te hou. Vrouens vertel hoe hul pa die jong kêreltjie met rooihakskene wat kom vlerksleep het, op sy plek gesit het, en dat haar pa die een was wat haar op haar eerste afspraak geneem en ‘n seëlring as plekhouer aan haar ringvinger gesteek het.

My pa was glad nie so nie.

As ek dink aan kosbare oomblikke saam met my pa terwyl ek in die huis was, dink ek aan die blik kondensmelk wat hy soms in sy bakkie weggesteek het. Dan het hy met sy sleutel twee gate daarin gesteek en ons het dit tussen die skool en die huis leeggesuig sonder dat my ma van sout of water weet.

Ek onthou hoe lief hy vir sy honde was, en hoe hy hulle geleer het om stil te sit met ‘n vleisbeentjie op die neus tot hulle monde water.

Hy het my geleer hoe om ‘n koei se speen net reg te trek vir ‘n wit stroompie melk, en met die einste vars melk het hy my en my ouboet met ‘n outydse botterkarring leer botter maak.

Ek onthou dat hy altyd praktiese planne kon maak, dat hy nooit te haastig was vir ‘n laaste grappie nie en dat hy altyd tyd gemaak het om my skoolopstelle te lees. Voor elke musiekeksamen het hy my Wimpy toe gevat vir ‘n pienk melkskommel.
Ek onthou, toe ek baie klein was, hoe hoog hy my in die lug kon opgooi.
Ek onthou sy hande vol eelte en olie van harde werk.
Toe my eerste skoolkys nie uitwerk nie, het hy my getroos sonder om ‘n woord te sê.

Toe ek een keer op laerskool op die netbalbaan geval en my enkel gekraak het terwyl almal om my aanhou speel, het hy op die baan gehardloop, my opgetel en met my dokter toe gery. Ek was so dankbaar iemand glo dat ek regtig seergekry het.

Ek onthou hoe hy dikwels, wanneer dit broekskeur in die huis gaan, met sy laaste kontant ‘n ekstra sak inkopies gekoop en dit stilletjies voor ‘n behoeftige gesin se voordeur gaan neersit het.

Hy was dikwels laat as hy my iewers na skool moes oplaai, en ‘n paar keer het hy heeltemal vergeet van my. Maar dit was gewoonlik omdat hy iewers besig was om iemand met iets te help. Of omdat hy sommer net verstrooid was.

Hy het al die boemelaars in die dorp se name geken en hom dikwels langs een van hulle op ‘n sypaadjie tuisgemaak om oor ditjies en datjies te gesels.

Ek onthou een van die min kere toe ons as gesin sou gaan vakansie hou het by die see. Ons was nie ‘n kilometer van die huis af weg nie, toe breek die kar. Terug huis toe, en my ma gee ons padkos vir middagete terwyl my pa aan die kar werk. Die volgende oggend is ons weer douvoordag uit by die hek. Dié keer kon ons darem so 10 kilo’s ry en my ouboet kon twee van die nuwe padkosbroodjies verorber voor die kar weer gaan staan het. Na die derde dag se omdraai het my ma ophou padkos maak. So teen die vyfde dag het ons vrede gemaak daarmee dat ons met Jan Tuisbly se karretjie gaan ry.

Deur dit alles het my pa nie een keer moed verloor of ophou grappies maak nie.

Toe ek universiteit toe is, ‘n regte Sodom en Gomorra vir my plattelandse ouers, het my pa met die groetslag voor die koshuis ‘n brief in my hande gedruk. “Maak nie saak wat met jou gebeur nie,” het hy geskryf, “jy sal altyd my dogter bly, en jy sal altyd welkom wees in ons huis.”

Vandag is dié einste pa die een wat planne maak as sy kleindogter op die nippertjie onthou van die musiekinstrument wat sy uit herwinde items moes gemaak het en wat môre moet klaar wees.

As hy ‘n grappie vertel, lag hy die lekkerste van almal.
As sy kleinseun in sy motorhuis bedrywig raak met hout en verf en gom en skroewe, kyk hy anderpad.
As hy skaapafval kook, stuur hy vir sy skoonseun ‘n porsie in ‘n margarienbakkie saam.
As ek hom bel, antwoord hy altyd, al is hy in iemand se dak besig om ‘n termostaat te vervang.

Ek is nog steeds sy dogter.

As ek ‘n ander pa moes hê, sou ek baie arm gewees het.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Sputnik ·

Ai Susan, hoe laat jy my nou terugdink aan my eie.pa wat al lank gelede oorlede is. My dogter het my pas gebel en baie mooi woorde toegedig – só lekker. Vrolike en dankbare Vadersdag word jou pa en jou gesin toegewens.

Johan Oosthuizen ·

Susan, so ‘n mooi en kosbare storie en ek is so bly jy en jou kinders het hom nog by julle. My dierbare pa is op 72 huis toe en ek is nou 72. Toe ek dit nou die dag besef, het ek ‘n hartstorie oor hom geskryf en kort-kort moes ek vreugdetrane afvee want hy het my nooit rede gegee om hartseertrane af te vee nie. Hy was die man oor wie ek nooit getwyfel het nie want hy het nie ‘n prys gehad nie en sy ja was ja en sy nee was nee. Toe ek ‘n seuntjie was het ek op sy rug aan die slaapgeraak toe hy my op sy rug gedra het toe my beentjies moeg geraak het.

Marina van Jaarsveld ·

Susan ek lees nou so lekker dat die trane loop. Jy is n geseënde vrou, nie net in jou werk nie maar ook met soveel pragtige herinneringe. Marina

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.