Tieners vertel self oor worsteling met diabetes

Van links is Julia de Klerk (14) by wie diabetes op vier jaar gediagnoseer is, Loreley Janse van Rensburg (5) op twee jaar en ses maande, Nerida de Beer (12) op ses jaar, en Leonise Potgieter (15) op twee jaar. (Foto: verskaf)

Deur Susan Maré

Diabetes mellitus is ’n siektetoestand so oud soos die berge en veral uitdagend vir kinders en tieners by wie hierdie chroniese siekte gediagnoseer is. Dit is selfs nog meer uitdagend vir hul ouers, maats en onderwysers wat dit moet help hanteer.

Die Internasionale Diabetes-Federasie (IDF) het statistieke bekendgemaak in hul tydskrif IDF Diabetes Atlas Ninth edition 2019. Daarvolgens ly sowat 436 miljoen volwassenes (20-79 jaar) aan diabetes. Dit word voorsien dat sowat 700 miljoen mense in 2045 aan diabetes sal ly. Tipe 2-diabetes neem toe in die meeste lande ter wêreld en 79% lyers is in die laer- en middelinkomstegroep. Tipe 1-diabetes onder kinders en tieners is sowat 1,1 miljoen. Een uit elke ses babas is voor geboorte al deur diabetes beïnvloed.

Die getal volwasse diabete in Suid-Afrika sou, volgens die IDF, in 2020 na sowat 4,5 miljoen styg, dubbel die getal wat in 2017 beraam is. Dit dui daarop dat Suid-Afrika nou die hoogste getal diabete in Afrika het.

Diabetes reeds 3000 voor Christus opgeteken

Volgens ’n artikel van Awad M Ahmed in PubMed is kliniese gevalle soortgelyk aan diabetes mellitus reeds 3000 v.C. deur antieke Egiptenare opgeteken. Die term “diabetes” kom van Aretaeus van Kappadosië (81-133 v.C.) en die woord “mellitus” (soet soos heuning) is in 1675 deur Thomas Willis van Brittanje bygevoeg. Willis was eerste om die aanwesigheid van oortollige suiker in urine en bloed te bevestig.

Indien diabetes by jou gediagnoseer word as jy jonk is, selfs nog in die kleuterfase, is uitdagend. Dit is nodig om te weet dat hierdie jong diabete besonderse begrip en hantering nodig het.

Normale aktiwiteite soos om na ’n verjaardagpartytjie te gaan, om aan kultuur- of sportaktiwiteite deel te neem of om by vriende te oornag, moet fyn beplan word. Die kinders moet elke dag insulien en/of medikasie gebruik. Hulle bloedglukosevlakke moet ’n paar keer per dag nagegaan word en hulle moet deur hul ouers ondersteun word om die regte voedselkeuses te maak. Hierdie uitdagings beïnvloed lewens.

Vir tieners is dit veral sleg omdat hulle “anders” as hul skoolmaats voel. Die hantering van diabetes kan emosionele en gedragsprobleme tot gevolg hê omdat dit ’n siekte is wat baie goed bestuur moet word. Dit kan nie maklik wees vir tieners om hul siekte heeldag te hanteer nie en dis veral vir die ouers ’n lewe van spanning en kommer.

Ouers praat oor hul diabeetkinders

Diabetes beteken eenvoudig jou pankreas werk nie, sê Marelé de Beer, ma van Nerida (12). ’n Mens moet ook die verskil verstaan tussen tipe 1- en tipe 2-diabetes. Tipe 2 is meestal die oorsaak van ’n verkeerde dieet en leefwyse terwyl tipe 1-lyers van insulienpompies en/of -inspuitings afhanklik is.

“Ek kan nie sê dat ek ooit rustig slaap nie. Soms staan ek drie- of vier keer per nag op om te gaan kyk of alles nog reg is met my kind. Suiker is nie altyd die probleem nie, maar álles wat oor jou lippe gaan.

“Dis baie erg om te sien jou kind se suiker val tydens ’n optrede van die panfluitorkes of ’n kooroptrede, of tydens sportaktiwiteite soos hokkie en netbal. Ons moet altyd seker maak haar suiker is reg voordat sy op ’n verhoog gaan. Ons moet vooraf beplan wat sy eet sodat sy lekker kan voel op die verhoog. Dieselfde geld vir deelname aan enige ander aktiwiteit.

“Diabete is afhanklik van insulien en het pompies omdat hul insulien gereguleer moet word. Die pompie is soos ’n pankreas buite die lyf en dit lol nogal as daar nuwe klere gekoop word omdat die pompie se sigbaarheid ook by die uitrusting in ag geneem moet word.

“Ek en Nerida troos ons dikwels daaraan dat daar veel erger dinge in die lewe is as diabetes. Ons hou moed en hanteer haar diabetes na die beste van ons vermoë – vir ons het dit ’n leefwyse geword wat nie altyd lekker is nie.”

Madelein Potgieter, ma van Leonise (15) sê sy slaap altyd onrustig. Sy moet ook snags gaan kyk of dit goed gaan met Leonise wat jaarliks in die intensiewesorgeenheid (ISE) van ’n hospitaal beland.

“Leonise het een jaar vier keer in die ISE beland. Dit is glad nie lekker om te sien as sy begin ruk omdat haar suiker te laag is nie. Hierdie situasie is baie delikaat. Dit is ’n lewe van stres. Dit beïnvloed my kind se sosiale lewe en verhinder haar om normaal aan skoolaktiwiteite deel te neem soos haar maats.”

Jong diabete vertel ook hoe húlle dit hanteer.

Nerida de Beer (12, Laerskool Truida Kestell in Bethlehem, gr. 7 in 2021)
“Wat vir my sleg is van diabetes, is dat mense dink jy is ’n diabeet as gevolg van lekkers en verkeerd eet. Dit voel vir my die meeste mense is onkundig oor diabete. As ek soms moedeloos is, gaan speel ek klavier of speel met my diere. My raad aan maats wat in dieselfde bootjie as ek is: bly weg van verfynde koolhidrate. Hulle moet ook onthou daar is altyd iets erger, soos om blind te wees, of dood, of om in ’n rolstoel te wees . . .”

Leonise Potgieter (15, Hoërskool Witteberg in Bethlehem, gr. 8)
“In Witteberg word ek ondersteun deur baie goeie klasmaats, juffrouens en menere. Wat vir my sleg is van diabetes, is dat ek nie soetgoed mag eet nie. Ek begin darem al aan daaraan gewoond word om baie water te drink. Die tweede ding is jy weet nooit wanneer jou suiker hoog of laag gaan word nie. Dis baie stresvol as dit laag is, want dan moet jy koolhidrate eet. En as jy koolhidrate geëet het, kan dit weer hoog word en dan moet jy, soos in my situasie, inspuit. Daarna begin jy moeg en dors raak, en dit is baie irriterend. As ek myself in drie woorde moet beskryf, sal ek sê ek is lojaal, vurig en beskermend. Ek voel soms moedeloos as my suiker hoog is soos in die 20’s of 30’s. Ek hanteer dit nie so goed nie, maar as ek moedeloos raak, loop ek net altyd om die blok sodat ek kan kalmeer. Dit help my baie. Ek luister ook na musiek en rus op my bed. My raad aan ander diabete sal wees om mooi na hulself te kyk. Drink genoeg water en volg ’n streng dieet.”

Julia de Klerk (14, Hoërskool Witteberg in Bethlehem, gr. 8)
“As diabeet pla dit my dat mense so oningelig is oor tipe 1-diabetes en hoe dit van tipe 2 verskil. Jy word dikwels ánders behandel en voel dikwels verneder as gevolg van opmerkings. Dit laat jou minderwaardig voel, want woorde maak seer en klou in jou hart vas. As ek moedeloos word, doen ek wat vir my lekker is. Ek teken, oefen kitaar en karate. My raad aan ander diabete is om nooit moed te verloor nie. Onthou, ons is fighters. Vergeet die woord “suikersiekte”. Dis negatief. Wees trots. Ons is diabete met ’n rede. Ons moet ’n verskil maak.”

Lees meer oor diabetes mellitus op https://www.diabetessa.org.za/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.