Tuisonderrig: Ja of nee?

skool

Die belangstelling in tuisonderrig het oor die jare gegroei maar daar is egter nie betroubare syfers beskikbaar oor die hoeveelheid leerlinge wat tuisskoling kry nie. Foto: Argief.

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks berigte wat Maroela Media in die volgende paar weke oor tuisonderrig publiseer.

Tuisonderrig is waarskynlik een van die mees omstrede onderwyskwessies in die land en een waaroor ouers, opvoedkundiges en onderwyskenners uiteenlopende sienings het.

Die werklikheid is egter dat Afrikaanssprekende kinders wat buite die openbare onderwysstelsel val, sedert 1994 drasties toegeneem het.

In 1994/95 was daar 1,1 miljoen wit leerlinge in openbare skole. In 2010 het dit afgeneem tot 607 223.

Van die redes hiervoor is die verskuiwing na private skole, emigrasie en ’n laer geboortekoers. Die swak gehalte van die onderwysstelsel, die geloofwaardigheid van die matrieksertifikaat, ontevredenheid met ’n ideologies ingestelde kurrikulum in openbare skole, inmenging deur amptenare wat skoolbeheerliggame se besluitnemingsbevoegdheid aan bande wil lê, toenemende werkloosheid, verarming en hoër skoolgeld is ook alles faktore wat ’n rol hierin gespeel het.

Dié redes het tot gevolg gehad dat die belangstelling in tuisskoling oor die jare ook gegroei het. Betroubare syfers oor hoeveel leerlinge tuisskoling kry, is egter nie beskikbaar nie omdat daar na raming duisende leerlinge is wat nié by onderwysdepartemente vir tuisskoling geregistreer is nie.

Leendert van Oostrum, bestuurder van die Pestalozzi Trust, ’n regsfonds vir tuisonderwys, meen daar kan enigiets tussen 30 000 en 90 000 leerlinge wees wat een of ander vorm van tuisskoling kry. Volgens die 2011-sensussyfers is daar meer as 56 000 kinders in tuisskole.

Tuisskoling behels dat ’n tuisleerling van skoolpligtige ouderdom (7 tot 15 jaar) by ’n provinsiale onderwysdepartement geregistreer moet wees. Die Skolewet bepaal dat elke ouer elke leerling vir wie hy of sy verantwoordelik is, ’n skool laat bywoon van die eerste skooldag in die jaar waarin die leerling sewe word en tot die laaste skooldag van die jaar waarin hy 15 word, tensy die ouer voldoende rede het om dit nie te doen nie.

Die wet bepaal verder dat ’n ouer wat sy kind wil laat tuis onderrig by die hoof van die provinsiale onderwysdepartement moet aansoek doen om die kind as tuisskolier te registreer.

Art. 1 van die Kinderwet bepaal ook dat die beste belang van die kind altyd gedien moet word en dat ouers ’n verpligting het om die regte en belange van hul kinders te beskerm, insluitend teen amptenare en selfs wetgewers.

Van Oostrum meen van die redes waarom ouers nie hul kinders in openbare skole plaas nie, is omdat hulle glo die onderwysstelsel stel nie hul kinders se beste belang voorop nie. Hulle meen die onderwysstelsel en -wette meng in met die ouerlike plig wat moet verseker dat onderwys aan die volle ontwikkeling van die kind se potensiaal moet voldoen.

’n Ouer wat versuim om te verseker dat die onderrig in die beste belang van die kind is, kan volgens Van Oostrum tot tien jaar tronkstraf opgelê word.

Ander redes waarom ouers nie kandidate by die onderwysdepartemente registreer nie, hou verband met die staat se ingesteldheid teenoor tuisskoling en onbeholpenheid en administratiewe rompslomp aan die kant van amptenare wat nie vertroud is met prosesse en prosedures rondom tuisskoling nie. Van Oostrum meen die departemente beskik ook nie oor die kapasiteit om tuisskoling te kontroleer nie.

Volgens Van Oostrum bespaar tuisskoling die staat na raming boonop meer as R800 miljoen per jaar. Onderwyskenners waarsku egter dat ouers al die wetlike en ander implikasies duidelik moet besef alvorens hulle op tuisskoling besluit.

Hulle beveel onder meer aan dat ouers hul huiswerk deeglik moet doen oor instansies en maatskappye wat byvoorbeeld bepaalde dienste lewer aan ouers wat tuisonderrig doen. Dit behels onder meer die verskaffing van kurrikulum-materiaal en hulpverlening met assessering van tuisskoliere se take/opdragte en eksamens. Impak is ’n voorbeeld van so ’n instansie wat produkte en dienste aan tuisskoliere voorsien en ook onderrigsentrums regoor die land het.

Die leerplan is omvattend en in ooreenstemming met die nasionale kurrikulum en assesseringsbeleidsverklaring (Caps) vir graad R tot 12.

Dit werk volgens ’n afstandsonderrigmodel en fasiliteerders en ouers kan daarmee op die individuele leerstyl en behoeftes van leerlinge fokus.

Leerlinge kan ook die nasionale senior sertifikaateksamen verwerf wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Omvattende Assessering (Sacai) aangebied word. Sacai is ’n onafhanklike assesseringsliggaam en eksamenraad wat voorlopig deur Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding, geakkrediteer is.

Van Oostrum wys egter daarop dat daar ook ’n toename in kandidate is wat aan die einde van hul tuisskoling nie ’n eksamen vir ’n Suid-Afrikaanse kwalifikasie aflê nie. Meer en meer leerlinge spits hul daarop toe om die Britse Cambridge of Amerikaanse General Educational Development-eksamen (GED) of die kollege-toelatingstoets (SAT) af te lê.

Dr. Lanette Hattingh, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, meen ouers moet deeglike navorsing doen voordat hulle op tuisskoling besluit. “Baie hang van ’n kind en sy omstandighede af. Daar is inderdaad kinders wat probleme ervaar om in hoofstroomskole aan te pas of leergestremdhede het en in wie se geval tuisskoling die beste uitweg is.”

Hattingh het egter haar bedenkinge oor ’n een-tot-een-onderrigsituasie waar ’n ma haar kind wil onderrig. Waar dit gebeur moet die ouer baie seker wees dat hy of sy die dubbele rol van ouer en onderwyser kan vertolk. Hattingh meen ook tuisonderrig los nie noodwendig altyd alle probleme op nie. “Dit is noodsaaklik dat dié kinders ook die nodige leiding en blootstelling kry om normaal in die samelewing te kan aanpas.

“Ek sal ouers aanraai om hul kinders skolasties en emosioneel te laat evalueer alvorens so ’n groot besluit geneem word.”

Hattingh sê ouers moet ook seker maak dat tuisskoliere ’n behoorlike en erkende internasionale of Suid-Afrikaanse kurrikulum volg en dat dit aan al die nodige vereistes voldoen wat universiteite en kolleges vir verdere studie stel.

  • Hierdie is die eerste artikel in ‘n reeks berigte wat Maroela Media oor tuisonderrig in die volgende paar weke publiseer. Hou Maroela Media dop vir die volgende berig wat handel oor die registrasie van tuisskolers.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maryna

Dr Hatting sit dalk in ’n mate die pot bietjie mis. Alle kinders Tuisonderwys nie oor hul een of ander probleem het nie. Inteendeel is baie kinders wat Tuisonderwys baie begaafd met verskeie talente en akademie tel ook onder dit. Wat maak ’n onderwyser beter om my kinders te leer? Laat ek sien 30 plus ander kinders moet aandag kry dus kry die ou wat moontlik sukkel glad nie hulp nie. Hoekom anders sukkel kinders so op skool. Van almal wie ek ken wie se kinders in ’n openbare skool is sukkel met Wiskunde, maar nou toe kyk, my kinders… Lees meer »

Leendert van Oostrum

Enersyds is dit jammer dat Dr Hattingh so ‘n eng perspektief op die opvoeding nahou dat sy haar geen ander opvoedingsverhouding kan voorstel as “onderwyser-leerder” nie. Dr Hattingh is wel reg oor die gevolge wanneer ouers probeer om onderwyser te speel en “skool” te hou, soos wat Impak se vorige promosie-artikel aanbeveel het. Die waarskynlikheid is baie hoog dat so ‘n ouer gaan uitbrand en die kinders weer in die skool eindig. Dit is die noodwendige gevolg wanneer mens tuisonderwys verskraal tot tuis-“onderrig”. Gelukkig is dit heelwat minder as 10% van tuisskolers wat nie baie gou leer dat mens nie… Lees meer »

Retha Bremer

Ai tog, Mev Hattingh. Het U al tuisonderwys gedoen? Was U al in n posisie waarin U die beste belang van U kind voor U eie beroepsambisies gestel het? Het U al op n afgelee dorp gewoon met n swak staatskool en U besef dat dit werklik nie in die beste belang van U kind is om haar in die skool of in n koshuis te sit nie? Ek glo dat U werklik n goeie onderwyseres is, maar as U enigsins die verskil tussen die pedagogie van skool en die pedagogie van die gesonde gesinsomgewing besef het, sou U, U… Lees meer »

Lizette

Ek stem volkome saam met Leendert van Oostrum in sy siening, aangesien hy jare se ondervin ding in hierdie bedryf het. Skole is net nie meer dieselfde nie, en die gehalte van hoogstaande standaard by meeste staatsskole het gedaal. Daarvan kan ek getuig in my gesin self en uit die ondervinding wat my familie en vriende uit skole ondervind. Driekwart van die tyd is dit klagtes oor te min aandag en tyd wat aan leerlinge gegee word, ongeduld by onderwysers, wegwys van kinders uit nuwe skole as jy nie goed genoeg in sport is nie, vrees vir ń afkrakery deur… Lees meer »

Debbie Lemmer

Ons tuisskool reeds vir die afgelope 10 jaar ons kinders. Verseker kan ek tuisskoling aanbeveel. Met vier kinders is dit verseker die goedkoopste vorm van onderrig. Tuisonderrig is kind-vriendelik en rondom die kind se gereedheid vir leer gefokus. N Kind kry kans om te ontwikkel en sy of haar belangstellings kreatief uit te leef. My tweede seun het reeds vanaf die ouderdom sestien sy eie besigheid, met kliënte. Sy kliëntebasis groei steeds en hy het reeds, sonder enige formele kwalifikasie, n paar werksaambiedinge van die hand gewys. Elke kind in ons huis leer anders en het ander belangstellings. Hierdie metodiek… Lees meer »