Vervang kinders se skermtyd; skerp leesvaardighede op

Seun_bril_lees_boeke.jpg

Foto: Lamanlibrary.org

Die meeste ouers is deeglik bewus daarvan dat te veel skermtyd vir jong kinders nie ʼn goeie ding is nie, maar is steeds onseker hoekom dit ʼn probleem is en waarmee om dit te vervang.

Barbara Eaton, ʼn akademiese ontwikkelingsadviseur by AdvTech se afdeling vir preprimêre skole, sê ouers wat op ʼn bietjie skermtyd staatmaak om hulle ʼn blaaskans te gee, hoef nie skuldig te voel nie, solank die ouers ook elke dag tyd maak vir aktiwiteite waar hulle met hulle kinders speel.

Hierdie aktiwiteite kan pret wees en help om die fondasie vir toekomstige leesvaardighede te lê. Boonop kan dit sommer ook maklik in die huisgesin se daaglikse roetine vervleg word.

“Ons ondersoek voortdurend beter metodes om basiese leesvaardighede vanaf gr. 000 of driejarige ouderdom vas te lê,” sê Eaton.

“Die jongste navorsing toon dat net sowat 40% van kinders maklik lees, 40% van kinders met hierdie vaardigheid sukkel en dat ʼn die oorblywende 20% ernstig daarmee kan sukkel. Sowat twintigduisend studies wat in die VSA gedoen is oor kinders wat sukkel om te lees, het getoon die jong lesertjies sukkel telkens met fonemiese bewustheid. Dit handel oor die vermoë om individuele foneme – die kleinste eenheid van klank in die gesproke woord – te hoor, identifiseer en te manipuleer.”

Eaton sê die menslike brein is bedraad vir die ontwikkeling van gesproke taal. Daarom ontwikkel babas se spraak op ʼn vroeë ouderdom bloot met goeie persoonlike interaksie sonder daadwerklike onderrig.

“Die brein is ongelukkig nie outomaties bedraad vir lees en spelling nie, en alle aspekte van hierdie vaardighede moet sistematies en eksplisiet aangeleer word. Kinders wat vandag meer en meer tyd voor skerms deurbring se breine fokus meer op die visuele as ouditiewe inhoud.

“Die groot probleem met skermtyd is dat baie van die gesproke inhoud wat hulle kyk te vinnig en dikwels onduidelik is. Dit het ʼn direkte impak op die ontwikkeling van akkurate luistervaardighede.”

Dit alles klink baie negatief, maar die goeie nuus is die brein kan maklik herstel en nuwe neuronbane ontwikkel sodra kinders die regte vaardighede aangeleer word. Dit beteken kinders wat maklik kan lees, kan selfs op ʼn nog hoër vlak lees en kinders wat sukkel om te lees, kan steeds goed lees.

Hoe kan ouers kinders help om beter te lees?

Deur te praat en te luister

“In die tyd van digitale media praat ons minder met mekaar en die kommunikasie wat wel plaasvind, gebeur net om instruksies te gee soos ‘gaan bad’, of ‘pak jou klere weg’. Probeer eerder om ʼn gesprek of bespreking aan die gang te kry soos om te gesels oor die hoogte- en laagtepunte van die dag. Gesels ook sommer oor iets soos ‘wat sou jy doen as jy enige iets kon doen’ of vra jou kind om jou te vertel wat was die beste ding wat hy of sy vandag gesien het.”

Eaton sê dit is veral belangrik om oop vrae te vra waar die antwoord nie net ʼn ja of ʼn nee kan wees nie. Sy sê pa’s kry dit gewoonlik maklik reg.

Lees vir jou kind

Lees sommer van ʼn baie jong ouderdom af fiksie en feitelike boeke vir jou kind en sluit gerus by ʼn biblioteek aan om ʼn groter verskeidenheid van boeke te bekom. “Kies gehaltestories wat verband hou met jou kind se belangstellings en onthou, dit hoef nie net Disney-boeke te wees nie,” sê Eaton.

“Laat jou kind ook sien jy lees graag boeke en tydskrifte. Lees ook sommer ʼn spyskaart, jou inkopielysie en padtekens hardop en bespreek met hulle hoe wonderlik dit is om die inligting rondom jou te kan lees en te verstaan.”

Sing liedjies, sê rympies saam op en lees gedigte

“Rympies is so ʼn belangrike voorafgaande elemente van leesvaardighede, maar al minder kinders leer rympies in die huis. Rympies is dikwels onsin, maar kinders is mal daaroor en dit is ewe maklik om te onthou,” voeg Eaton by.

Speel met woorde

Speel met saamgestelde woorde. Vat ʼn woord soos “springmielies” en verdeel dit tussen die woorde “spring” en “mielies”; doen dieselfde met ʼn woord soos “vistenk”. Dit is ʼn heerlike speletjie om in die motor te speel en kan die hele uitstappie korter maak. “Ek sien met my kleine ogies” is nog ʼn prettige gunsteling, maar gebruik die klank aan die begin van die woord, en nie die naam van die letter nie.

Eaton sê dié aktiwiteite behoort vir beide kinders en volwassenes pret te wees. “Dit moet nie vir ouers net nog ʼn taak op hulle doenlysie word nie, maar eerder ʼn maklike en vermaaklike manier om leesvaardighede vas te lê terwyl hulle die oggend- en aandroetine afhandel.

Verder sê sy ouers moet ook nie instruksies en kommentaar herhaal nie, want dit leer kinders dat hulle nie die eerste keer behoorlik hoef te luister nie.

“Ouers moet oogkontak maak met hulle kinders, wat beteken jy moet ook maar van jou foon af wegkyk. Let op na wat jou kind vir jou sê sodat hulle die regte luistervaardighede by jou kan aanleer. Die belangrikste is egter om opgewonde te wees oor jou kind se ontwikkelende taal- en geletterdheidsvaardighede.

“Gehaltetyd kan so maklik wees as om jou kind by jou daaglikse roetines te betrek. Jy kan hierdie tyd dan boonop aanvul deur die voorgestelde speletjies en aktiwiteite om jou kind op die pad van akademiese uitnemendheid te plaas,” sê sy.

  • AdvTech is een van Afrika se grootste private onderwysdiensverskaffers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae