Kom slaan hiér kamp op

Daar trek ’n rokie by elke karavaan en tent, die kinders ry fiets en baljaar op die grasperk en die grootmense kuier heerlik om ’n vuur terwyl daar ’n jolige atmosfeer in die kampterrein heers. Daar is niks so lekker soos kamp nie en met die somer om die draai is dit die ideale tyd om jou volgende kampwegbreek te bespreek!

Ruah Park Camping & Outdoor, Roodeplaat

Ruah Park Camping & Outdoor is sowat vyftig kilometer buite Pretoria vir ’n vinnige naweekwegbreek uit die stad. Daar is 22 grasstaanplekke met hul eie ablusie- en opwasgeriewe, ’n kragpunt, kraan en ’n draagbare braai. Kleinwild en kameelperde loop vrylik op die plaas rond en dis naby die Dinokeng Natuurreservaat, wat ideaal is vir daguitstappies. Kranige vissermanne kan ook in die plaasdam lyn natmaak.

Gourits River Eco-Camping, Albertinia

By Gourits River Eco-Camping naby Albertinia kamp jy aan die Gouritsrivieroewer. Dié kamp het net drie staanplekke, so dis stil en rustig sodat jy saans die sterreprag en die natuur in vrede kan geniet. Daar is ’n gemeenskaplike ablusieblok, braaiplek en kragpunte by van die staanplekke.

Syringa Sands Bush Camp Site, Waterberg

Dié boskamp skuil teen ’n damwal met die Sewe Susters-berge in die agtergrond in die Waterbergstreek. Daar is net een staanplek met plek vir vier tente of vier voertuie op dié eenduisend hektaar-plaas. Daar is grasdak-ablusiegeriewe en ’n opwasarea en gaste kan alte lekker onder die groot grasdaklapa met ’n etenstafel en braaigeriewe kuier. Die boskamp het nie elektrisiteit nie en sorg vir ’n onvergeetlike ervaring in die natuur.

Towerkraaltjie, Ladismith

Towerkraaltjie bied tien grasbedekte staanplekke tussen die wingerd in Towerkop se voorheuwels in die Dwarsriviervallei. Elke staanplek het ’n kragpunt, vars water en braaigeriewe, en daar is badkamer- en opwasgeriewe. Die bome sorg vir oorgenoeg skaduwee, en aparte braaigeriewe met ’n groot tafel en bankies is vir ’n groot groep beskikbaar.

Yellowwood Forest Backpackers, Camping and Accommodation, Morganbaai

Yellowwood is ’n unieke eko-oord met ’n verskeidenheid verblyf-opsies, insluitend kampplekke. Daar is verskeie skaduryke staanplekke, met of sonder elektrisiteit, op grasgroen gras om van te kies. ’n Gewilde mark word elke Saterdag op die perseel gebied en daar is ’n boomhuis, trampolien en glyplanke vir die kinders om op te speel. Dis net 1,5 kilometer van Morganbaai se strand af en is naby die Morganbaai-dam.

Magoebaskloof Camping Sites, Magoebaskloof

Dié kampterrein in Magoebaskloof is die ideale wegbreekplek in die welige en subtropiese natuurskoon van Limpopo tussen die berge. Die tien groot staanplekke het elkeen ’n braaiplek, kragpunt en ’n kraan. Die gemeenskaplike opwasarea het ’n yskas-vrieskas, kookwaterkan, broodroosters, ’n tweeplaatstofie en ’n tafel. Die netjiese ablusiegeriewe is ook goed ingerig. Daar is drie watervalle, staproetes en ’n vlugbalbaan om gaste te vermaak.

Marcuskraal Campsite, Citrusdal

Marcuskraal Campsite is op ’n plaas sowat twintig kilometer vanaf Citrusdal. Die kampterrein bestaan uit grasbedekte terrasse en baie bome wat skaduwee voorsien. Elke staanplek het ’n kragpunt, kraan en ’n draagbare braai. Daar is ’n lieflike swembad waarin gaste kan afkoel. Dié kampplek is bekend vir hulle netjiese en skoon ablusiegeriewe wat enige kampwegbreek net ’n plesier maak.

Karnmelkspruit River Resort, Lady Grey

Dié oord bied pragtige kampplek aan die Karnmelkspruitrivieroewer naby Lady Grey. Daar is 25 staanplekke op die grasperk tussen die bome en struike teen die rivier. Die staanplekke is geskik vir karavane en tente. Daar is nie elektrisiteit by die staanplekke nie, maar wel warm water by die ablusiegeriewe. Die lapa op die perseel het braaigeriewe.

Uil Skuil Camping, Montagu

Kuier in die Keisievallei naby Montagu by Uil Skuil Camping ─ ’n privaat vrugteplaas op Roete 62. Dié kampplek word net aan een groep van ses op ’n slag verhuur, so jy het absolute privaatheid op hierdie wonderskone plek! Jy kamp op gras en daar is ’n vuurput, ablusieblok en ’n lapa met opwasgeriewe en ’n tafel.

SANParks Steenkampshoek Campsite, Tankwa Karoo Nasionale Park

Dié unieke kampplek in die Tankwa Karoo Nasionale Park is vir diegene wat ’n bietjie meer van ’n gestroopte kampwegbreek in die middel van nêrens hou. Die kamp word aan ’n groep van vyftien op ’n slag verhuur en daar is geen ablusiegeriewe of water nie. Gaste moet dus heeltemal selfonderhoudend wees. Die kampplek kan ook net met ’n hoë 2×4- of 4×4-voertuig bereik word.

Maak solank seker al jou tentpenne is op die regte plek en bespreek vandag nog jou volgende kampwegbreek in ons mooie land!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Daniëlle Terblanche.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.