Op reis deur Europa: Die pad na Amalfi

Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Pavarotti sing die gewilde “Return to Sorrento” en Sorrento was een van sy en Caruso se gewilde vakansiebestemmings. Sorrento lê aan die Baai van Napels lê en is eintlik heel jaar ‘n toeristestad.

Ons besluit ons moet Sorrento sien. Dit is ʼn halfuur per trein van ons af. Behalwe vir Sorrento se eie bekoring, lê hy aan die punt van die bekende Amalfikuslyn wat van Sorrento tot by Amalfi strek.

Ons kry die trein op Torre del Greco se stasie en ry al langs die see in die rigting van Sorrento. Dit is ‘n ou Italiaanse trein met harde plastiek sitplekke en vuil vensters – só oud dat dit kort-kort gaan staan. Ek vra die Italiaanse meisie langs my wat makeer. “Die trein is stukkend,” sê sy en glimlag.

Uiteindelik kom ons in Sorrento aan. ‘n Halfuur later as wat ons moes. Ons stap na die stadsplein toe. Dit is duidelik toeristewêreld. Die strate is skoon en die pryse duur. Ons vind uit oor die plaaslik bus Amalfi toe en koop twee retoerkaartjies. R120 elk.

Elke halfuur vertrek ‘n bus. Die bus is vol toe ons daar kom. Ons besluit om vir die volgende bus te wag sodat ons eerste in die ry is en heel voor kan sit.

Die bus ry deur Sorrento se smal strate en uiteindelik kronkelend teen die berg op tussen suurlemoenboorde deur. Die suurlemoene hang helder geel aan die bome. Langs die pad word mense op- en afgelaai.

Die pad is smal. Net breed genoeg vir twee voertuie om verby mekaar te skuur. Dit maak kort-kort haarnaalddraaie. Partymaal moet die bus doodstil stop om ‘n kar van voor te laat verbykom.

Foto: Thomas Dreyer

Bo-op die berg kyk ons terug oor Sorrento – ‘n pragtige stad wat teen die berg af lê tot teenaan die see. Die water is ligblou en ferriebote ry uit die hawe. Party is op pad Amalfi toe met toeriste, ander na die eiland Capri met sy heldergroen water waar jy met ‘n bootjie in grotte inry terwyl ‘n Italianer liefdesliedere sing.

Ons kronkel die pad af tot by Positano. Dit is Saterdag en die pad is vol fietsryers. Die busbestuurder moet mooi mik tussen die fietsryers, motorfietse, motors en busse deur. Party motors en bromponies is langs, of liewers óp die pad geparkeer.

Positano is baie besig. Die dorp is teen die steil kranse gebou tot onder by die see. Dit is só steil dat jy met ‘n hysbak op-en-af moet ry. Of met smaller paadjies wat heen en weer loop. Die hoofpad gaan bo in die dorp verby. Die bus kan nie ondertoe nie, die straatjies is te smal.

Van Positano af ry ons na Amalfi. Die pad loop met tye hoog teen die kranse wat loodreg afval see toe. Dan kronkel die pad weer teen die berg op verby watervalle en plasies wat teen die styl hellings gebou is. Die prentjie is asemrowend mooi.

By Amalfi stop die bus onder by die hawe. Ongeveer 32 km van Sorrento af en twee ure later – ʼn gemiddelde spoed van 16 km/h! Die dorpie is teen die kranse gebou en lyk kompleet soos ‘n waterval van wit, geel en pienk kleure wat teen die berg afstort die see in. Die see se water is helder en deurskynend met so ‘n ligte turkoois kleur.

Die dorpie het net een hoofstraat wat loodreg met die see teen die berg oploop. Dit is smal en met klippe uitgelê. Naby die hawe is die dorpsplein met ‘n reuse katedraal aan die een kant. Jy kan met die pad oploop, saam met al die toeriste.

Weerskante van die pad is winkels en restaurante. Viskos, pizzas, pastas en roomyswinkels met klere en toeristesnuisterye tussenin. Smal twee meter wit geverfde gangetjies loop uit die hoofstraat skuins op na nog restaurante en hotelle toe. ‘n Prentjie uit ‘n ander, onwerklike wêreld.

Later die middag pak ons die terugtog aan. Gelukkig sit ons weer heel voor en kan mooi sien waar ons ry. Die son skyn skuins van voor en kleur die see ‘n helder blink silwer. Ná drie ure is ons tuis na ‘n belewenis wat ons nooit sal vergeet nie.

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Denise ·

Ek het sommer doodse vrees uitgeslaan met die lees van die bus rit! Nee wat, indien ek eendag so bevoorreg kan wees, sal ek maar eerder die 32km in twee daggies stap. Dit is mos veilig daar, jy kan in die bos gaan slaap vir een aand. Ek dink nie ek sal die bus rit – voor oorleef nie!

John ·

Kom dadelik terug! Dis sonde om ons telkens so jaloers te wil maak…

Magaretha van heerden ·

Dit is absoluut n perfekte beskrywing van die Amalfi kus. Ek herleef sommer alles weer deur net te lees. Denise ek dink om te stap is selfs gevaarliker aangesien die bus self net net sy draai kan maak. Nogtans is almal op die paaie baie ordentlik en gee toe. Hulle gebruik ook hul toeter om jou te waarsku hy kom aan om die draai Baie interessant.

Llouis Ras ·

Dit was ons voorreg om ook deur die pragtige Italië te toer met ‘n Panda diesel wat ons gemiddeld 23km/l gegee het @ R24,60per liter oor 2400km. Die toring van Pisa, Pompei, Sorrento, Isle of Capri en die Amalfi kus, was groot belewenis wat oor 45 km meer as ‘n 1000 skerp draai het. Verblyf was verbasend goedkoop tussen R690 to R760 per nag vir ons altwee in 3 stêr hotelle wat onbyt ingesluit het.

Leonie Muller ·

Dis pragtig en baie mooi.
Kan nie wag vir elke week se rubriek nie.
Waars die res van die week se storie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.