So ry die trein

p1050986Herman Lategan het onlangs met die Shosholoza Meyl van Kaapstad na Johannesburg gereis. Hy beveel dit aan en deel sy sielvolle en soms bittersoet ervarings.

Ons is so net buite die Kaapstad-stasie toe ʼn harde geluid soos ʼn ontploffing deur die eetwa weergalm. ʼn Vrou wat langs die venster agter my sit spring op en gil. Almal verstar.

Iemand buite het ʼn groot klip na die stadig bewegende trein gegooi. Ons sien ʼn swetterjoel jong mans laggend weghardloop. Die een, kaalbolyf, draai om en wys sy middelvinger. Hy kekkel sonder voortande en dan verwyn hy uit sig. Asof hy nooit bestaan het nie.

Dit wieg, rittel, skud, tikke-tak. Die wiele skree soos slaghuislemme as dit teen die staalspore sny en skuur. Klop-klop pols en bewe dit onder ons voete. Daar’s graffiti teen murasies: No Future, lees die een in groen. The struggle continues forever, sê ʼn ander in swart en geel.

Dit wieg, rittel, skud, tikke-tak. Die wiele skree soos slaghuislemme as dit teen die staalspore sny en skuur

Soos ʼn vet wurm sleep die lang, logge trein verby industriële rooibaksteengeboue. Skoorstene blaas dik rookwalms uit. Die lug ruik na diesel en roet. Dit kon ʼn armoedige Britse fabriekstad soos Manchester uit die ou dae gewees het, was dit nie vir Tafelberg wat in die agtergrond uittroon nie.

Die suidoos waai waar hy wil, vuilwit wolke roer oor die berge. Daar’s gebreekte heinings wat verbyflits. Ou stukke papier en plastiek is in hakkiesdrade vasgevang, gekruisig, wapper in die wind. Plek-plek staan ontheemdes in groepies wat onder vuil brûe saambondel.

Bo hulle flits die verkeer verby, gaan die lewe aan, weg. Hulle staan verveeld rondom groot dromme waaruit swart dwarrelende dampe borrel. Rommel lê verstrooi.

Daar’s plakkershutte wat uit swart plastiek, hout en sinkplate saamgeflans is. Bont wasgoed fladder eenkant en ʼn straatbrak met drie bene blaf doelloos teen die lug.

Hierdie visuele vinjette net buite die stad herinner plek-plek aan noir tonele uit ʼn post-apokaliptiese distopia. Die spoorlyne van ʼn stad as metafoor vir ʼn cul de sac na die niet.

Hierdie visuele vinjette net buite die stad herinner plek-plek aan noir tonele uit ʼn post-apokaliptiese distopia.

Ek loop na my kompartement. Af met die lang gange, oor die bewegende bruggies tussen waens. Daar’s storthokkies, ek maak oop en dit lyk skoon en skaflik. Ek draai die warmkraan oop, die water heerlik warm.

Die een toiletdeur swaai vanself oop toe die trein skielik by ʼn skerp draai kantel. ʼn Groot man met sy broek op sy enkels staan en gluur by die klein venster uit, salig onbewus dat sy boude in die openbaar tentoongestel word.

p1060599Verder af verby oop deure en vensters hoor ek stukkies gesprekke wat tussen kompartemente rond bons. “Hier’s ʼn eetwa,” sê een vrou met ʼn bry. “Dis glo nie soos die Blou Trein nie. Jy hoef nie gekoller en getaai te gaan nie.”

“Nee watwou,” antwoord ʼn ander. “Daar betaal jy glo R26 000 vir ʼn rit, dis hoekom jy so grand moet gaan eet. Alles glo ingesluit, die kos en drank ook. So hoor ek.

“My skoonma het op hom gery. Iemand’s toe aan ʼn hartaanval dood en die hele affêre is toe in die middel van nêrens met amper vier ure vertraag. Vir al dáái geld? Nog laat ook?”

“Nee,” proes ʼn man met ʼn polistireenkoppie in sy hand. “Daai Blou Trein is maar altyd laat, al vrek iemand op hom of nie. ” Die vrouens kraai van die lag. “Haai sies Egbert!” sê een. “Jy praat nie so oor die dooies nie.”

Hul skaterende stemme verdwyn in die agtergrond en gangaf word ander gepratery aangehoor. Mense staan beleefd opsy in die nou korridors, groet hoflik en al sit die son steeds hoog, lyk dit asof daar reeds vir die nagrit reggemaak word. Beddegoed netjies opgerol word oopgevou en uitgerol.

Dit ruik onverwags na handeroom. ʼn Bejaarde vrou smeer dit langsaam aan haar ou hande, haar skoon pienk kamerjas lê eenkant. By haar sit ʼn seunskind smullend aan ʼn hoenderboudjie en eet, en as hy die blink foelie voor hom oopmaak is daar ook frikkadelle en gekookte eiers.

Hoe intiem en warmhartig: ʼn Onverwagse oomblik van samesyn in die middel van nêrens tussen ʼn ou vrou en ʼn jong mens, waarskynlik haar kleinkind. Hoeveel families het nie oor die jare al oor hierdie einste spoorlyne herinneringe van sulke brose kort oomblikke van geluk wat hul lewenslank met hul saamdra nie?

p1060548Buite het die panorama verander. Groen wingerde, wit varkblomme en geel kanolalandskappe bring nuwe lewe. Later sal die landskap verdor as dit Karoo-wêreld word, en dan weer verder noord kom lappies veld en kleur, doringbome, totdat die mynstad jou by jou bestemming in sy tonnels insluk. Die hele land vou voor jou oop. Van die beste vistas is vanuit die eetwa, waar die kos goedkoop en lekker is.

Ek kom by my kompartement aan. “Dimpie,” stel my medepassasier homself voor. “Van Kraaifontein. Gaan vir my pa in Johannesburg loop kuier.” Hy’s ʼn gestremde jong man met ʼn verlamde arm, hy steek sy gesonde een uit om te groet.

Op die oorkantste bank sit ʼn bles stil ouer man wat net sy kop knik. Hy het verbleikte tatoeëermerke op sy groot voorarms, ʼn dik laag silwergrys hare bedek hulle. Hierdie is ʼn man met min woorde wat sy lewe lank met sy kaal hande werk, dit kan jy sien.

“I’m here to rest,” sê hy soos een wat bieg. “Just excuse me.” Hy haal sy Bybel uit, slaan die boonste bankie af, gaan lê. Die houtkruis om sy nek haal hy af en sit dit netjies neer. Liefdevol op sy kussing, reg langs sy kop. Hy lees in stilte. Later sing hy saggies When I survey the wondrous Cross. Hy val aan die slaap, hy met sy verborge lewe.

“I’m here to rest,” sê hy soos een wat bieg. “Just excuse me.” Hy haal sy Bybel uit, slaan die boonste bankie af, gaan lê.

“Dimpie,” vra ek? “Watse interessante naam is dit?” Dit sal my laaste vraag wees. Daarna sal hy nie ophou praat nie.

“Toe ek ʼn baba was, het ek dimpels (kuiltjies) op my boude gehad, toe noem my ma my Dimpie. Toe bly dit maar so, tot nou.

“Jy wonder seker oor my arm? Dít was ʼn ding. Ek het ʼn wilde lewe gehad, op skool baie gepaartie. Op 16 het ek selfs ʼn verhouding met my Afrikaans-onderwyseres gehad. Baie girls. Ek was die main ou. Good looking ek sê, al moet ek dit nou self noem. “En toe straf die Here my vir al my sondes. Ek ry op my motorfiets, getrek, jaag teen ʼn kar vas. Toe’s ek poer in my moer.

“En toe straf die Here my vir al my sondes. Ek ry op my motorfiets, getrek, jaag teen ʼn kar vas. Toe’s ek poer in my moer.

“Lank in die hospitaal, my arm daarmee heen. Kopbeserings. Net een long oor. Ek het daarna nooit weer gewerk nie. Deur die dag sit ek net by die huis. Ek kyk TV. Ek kyk movies.

p1060087“Maar ek het ʼn meisie hoor! Sy werk al vir 30 jaar vir die poskantoor, sy’s 20 jaar ouer as ek. Ek’t haar eers tannie genoem. Eendag by die poskantoor het ek ʼn pakkie gaan haal. Toe’s sy daar. Toe flirt ons.

“Toe vra sy my wat ek die volgende Sondag doen. Net so, agter die tralies deur. Die merrie! Toe gaan kuier ek vir haar. En toe word die tannie my girl. Jy moet tog een Sondag by ons kom braai.”

Hy haal ʼn foto uit, dis van ʼn vrou wat sigbaar baie ouer as hy is. Haar hare spierwit gekleur, swart maskara, wynrooi lippe, en liggroen oogskadu.

Sy lyk ook asof die lewe eenkeer iewers vir haar hard en lelik gepootjie het. Maar op die foto langs haar, sit Dimpie met sy skewe glimlag, lam arm, een long, en breinskade, en hy lyk gelukkig. Selfs al het die Here hom so “liederlik gestraf”.

En soos die trein oor die vlaktes ry, dink ek aan Suid-Afrika in al sy skakerings, sy verskillende mense elk met hul eie storie. Die trein fluit. Ek kyk stip by die venster uit en die titel van ʼn Alan Paton-boek kom by my op: Ah, But Your Land is Beautiful.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Estelle Horn ·

Ai hoe verlang ek na die dae toe ma en ek trein gery het na George en my tannie en ek n ander keer na Bloemfontein vanaf Kaapstad. Heerlike dae gewees met baie interessante en pragtige plekke wat ons gesien het vanuit ons venster. Ook baie mense ontmoet op die trein. Goeie ou wat ek nooit sal vergeet nie

Sus ·

Verlang terug na die Trans Karoo. Sal nie met die Shosholoza Meyl vanaf Kaapstad na Johannesburg reis nie. Te gevaarlik vir n vrou. Maak eerder gebruik van die busdiens van Greyhound.

Daan M. ·

Herman Lategan is een van ons mees onderskatte rubriek/berig-skrywers. Sy fyn spel met Afrikaans kikker die soms treurmarige Rapport Sondae op! Inderdaad “Woorde wat Wip!” Herman en Dana Snyman sal ‘n gedugte span saam maak. Dalk wil ‘n uitgewer ‘n bundel van hul sketse/stories publiseer?
Beter nog: Dit sal wonderlik wees as hul werk gereeld beurtelings in Maroela verskyn?

Elizabeth ·

Ek het nou so lekker aan Herman se storie gelees! Het besluit om volgende keer trein te ry eerder as om Kaap toe te vlieg. Vrou alleen!!

Nee wat! ·

Baie mooi geskryf Herman Toerien. Dis goed dat verskillende dinge vir verskillende mense werk. Maar ek moet egter bieg dat my ondervinding met hierdie einste trein ‘n nare een was. Ek en my dogter het oor Desember van Bellville na Potchefstroom gereis. Baie opgewonde oor die treinrit wat vir beide van ons n 1ste was en wat ons soos n splinternuwe avontuur wou aanpak. Toe nie! Die wa waar ons ingedeel was, het ‘n stukkende toilet op elke punt gehad. Die stank was vir baie ure met ons! Van die mans op die trein het dalk te diep in die bottel gekyk en daar was een wat n oorlas van homself gemaak het. My dogter was heelpad bang. Die banke, wat ek probeer het om skoon te vee met ‘n Dettol lappie, was pikswart vuil. Die storte was wel skoon en het ook skoon geruik. Die verandering in natuurskoon soos oor deur die verskillende areas reis, was tog asemrowend mooi en n tikke plesier by ons rit gevoeg. Uiteindelik by ons eindbestemming aangekom na 25 ure, 3 ure agter skedule! Dit was werklik geen aangename ervaring nie en ek sal dit nooit weer aanpak nie. Nee wat, ek betaal maar eerder ekstra vir n vliegtuigkaartjie volgende keer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.