Talle gestrand, verontrief weens onbedoelde gevolge van reisregulasies

reis-met-kinders-02

AfriForum wil van lesers hoor wie se reisplanne deur die nuwe reisregulasies gekelder is. Foto: Bmiregional.com

Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die blitspeiling wat die regering wil doen om die onbedoelde gevolge van die nuwe immigrasie- en visumregulasies te bepaal.

Die vraag is egter of dié peiling enige vrugte gaan afwerp en of dit net gedoen word om die publiek te paai, sê Sue-Ann de Wet, koördineerder van AfriForum se Wêreldwydveldtog. Die regulasies het tot verskeie klagtes gelei en verskeie rolspelers het die afgelope maande aangevoer dat dit ook reeds ’n baie negatiewe uitwerking op die land se toerisme-bedryf het. Die peiling gaan deur die departemente van binnelandse sake en toerisme gedoen word.

Wêreldwyd het intussen met sy eie veldtog, genaamd Hoe raak nuwe visumregulasies jou?, begin om die omvang van die probleem te bepaal. Verskeie klagtes is reeds gekry van mense wat verontrief, benadeel en selfs finansieel skade gely het weens die regulasies wat op 1 Junie inwerking getree het.

Die regulasies vereis onder meer dat alle minderjariges wat van en na Suid-Afrika reis in besit van hul eie paspoorte en volledige geboortesertifikate moet wees. Wanneer hulle ook saam met een ouer of groepe reis, is geskrewe en beëdigde toestemming van albei ouers of voogde nodig wat die reisplanne goedkeur.

AfriForum is tans met ’n opname besig en kan nie aan enige klaer bystand verleen nie. Die organisasie sal na afloop van die veldtog die probleme onder die owerhede se aandag bring en druk op die regering en departemente toepas sodat die regulasies hersien kan word. Volgens De Wet verwelkom AfriForum die nuwe regulasies wat onder meer daarop gemik is om mensehandel en kinderontvoering te beperk. “Ons weet die regulasies is nodig, maar daar is ernstige probleme met die toepassing daarvan. Dit lei tot wanorde en ernstige vertragings omdat die departement van binnelandse sake klaarblyklik nie oor die kapasiteit beskik om aansoeke vinnig te verwerk nie. Gebrekkige dienslewering dra by tot die verwarring,” meen De Wet.

Van die klagtes wat AfriForum tot dusver gekry het, hou verband met ouers wat maande gelede reeds vir volledige sertifikate aansoek gedoen het maar steeds wag.

Daline Olivier van Parys in die Vrystaat moes van die departement verneem dat hulle geen rekord van haar dogter Menique se geboorte het nie. Sy het herhaaldelik aansoekvorms vir haar kinders se volledige geboortesertifikate ingedien en moes elke keer hoor dat die departement besig is om in sy argiewe na rekords te soek. Die gesin het dringend die sertifikate nodig omdat hulle vandeesmaand na Botswana en Zimbabwe reis.

Stella Visser van Pretoria het ook reeds in April vir haar dogter se volledige sertifikaat aansoek gedoen. Hulle moet vandeesweek na Namibië vertrek en is baie bekommerd dat hulle dit nie betyds sal kry nie.

Die regulasies veroorsaak ook chaos in Dubai en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE). Suid-Afrikaanse vroue reis gewoonlik gedurende die lang somer van Junie tot Augustus alleen met hul kinders na Suid-Afrika voordat hul mans later by hulle aansluit. Die mans moet egter nou skriftelik hiervoor toestemming gee en dit kan net deur ’n Kommissaris van Ede in die betrokke lande gedoen word. Gevolglik moet vooraf afsprake hiervoor gereël word, terwyl mans by hul werk moet afvat om dit te kan doen. Die dilemma is egter dat daar nou ook reeds ’n waglys vir afsprake by die Kommissaris van Ede se kantoor is.

Die vraag is ook wat in geval van nood gebeur wanneer ’n vrou en haar kinders dringend na Suid-Afrika moet terugkeer.

Nog ’n klaer het gesê die regulasies benadeel Suid-Afrikaanse weeskinders wat vir aanneming oorsee in aanmerking kan kom. ’n Agentskap wat in die aannemings spesialiseer, is sover vasgestel kon word ook met ’n hofaansoek in die verband besig.

’n Ander voorbeeld van benadeling wat die regulasies inhou, is in die geval van ouers wat geskei is en waarvan sommige selfs oorsee bly. Om beëdigde verklarings van enige van die partye te kry wat toestemming gee dat kinders saam met een ouer reis, is ’n administratiewe nagmerrie. Dit is nog erger in gevalle waar ’n ouer reeds jare geen kontak meer met ’n kind het nie en enkelouers en/of voogde bewys hiervan moet lewer.

Lede van die publiek wat op een of ander manier deur die regulasies benadeel is, kan besonderhede e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.