Sorg vir dié wat eens vir ons gesorg het

Argieffoto: Pixabay

Deur Hannie Viljoen

Ek sou nie my lewe sonder my grootouers kon indink nie. Wie ek vandag is, is gedeeltelik te danke aan hulle. My ouma en oupa het op ’n kleinhoewe net buite Pretoria gebly. Ek het vakansies ten minste twee weke lank daar gekuier. My oupa het my en my ma by die bushalte vanaf Ellisras ingewag, my ma gegroet en dan het ek en hy na die paar gesinne wat op my oupa-hulle se perseel gebly het, gereis. Daar was ten minste drie gesinne, met ’n totaal van ongeveer 14 inwoners op die kleinhoewe. Elke Sondag was die spreekwoordelike “ark” oop. My ouma het ten minste vyf borde kos ekstra voorberei – ingeval daar iemand vir ete opdaag.

My ouma het met haar voorskoot om die lyf op haar gunstelingstoel gesit en al die kos gelykop tussen die 20 of meer borde wat daar gestaan het, verdeel. Daar was ten minste twee soort vleis, sous, rys, aartappels, boontjies en pampoen. Dit was asof sy geweet het daar gaan gaste kom, want daar het nooit kos oorgebly nie, maar genoeg om elke honger magie te stil.

My ouma was nie die normale prentjie van die klein, sagte ouma wat troos en pleisters plak nie, maar ’n statige, ferm vrou wat geen onmin verduur het nie en met regverdigheid gestraf het. Sy het my voor haar afsterwe geleer dat daar by háár huis, soos by die Here, altyd plek sal wees vir die mense wat honger en dors is – al is haar geld min.

Vandag is ek bevoorreg om by Helpende Hand navorsing te doen om die weerloses – die kinders, mense met gestremdhede en die bejaardes – se behoeftes te bepaal. My laaste verslag vir die jaar was dié van tehuise en hul inwoners, om spesifiek die behoefte aan ondersteuning en dienste te bepaal en vas te stel in watter van hierdie behoeftes Helpende Hand en die gemeenskap kan voorsien.

Daar het 50 tehuise aan die opname deelgeneem en 450 bejaarde inwoners het die vraelyste voltooi.

Solidariteit Helpende Hand het ʼn verskeidenheid van nasionale projekte waarmee gepoog word om die swaarkry van behoeftige mense te verlig. Dié projekte sluit projekte vir bejaardes in wat daarop fokus om persone ouer as 60 jaar te ondersteun, te bederf en te vereer. Helpende Hand poog ook om die Afrikanervolk te leer om weer vir bejaardes om te gee, sodat elkeen verantwoordelikheid kan neem vir die bejaardes in hul lewe en gemeenskap. Helpende Hand projekte vir bejaardes wil ʼn einde maak aan die eensaamheid en armoede waarin baie van ons land se bejaardes leef.

Die 2030-agenda en die doelwitte vir volhoubare ontwikkeling (Sustainable Development Goals) sê juis dat ontwikkeling slegs haalbaar sal wees as dit alle ouderdomme insluit. Die bemagtiging van ouer persone in alle dimensies van ontwikkeling, insluitend die bevordering van hul aktiewe deelname aan die sosiale, ekonomiese en politieke lewe, is een manier om hul inklusiwiteit te verseker en ongelykhede te verminder.

Alhoewel armoede onder bejaardes nie noodwendig voorkom of verbreek kan word nie, kan die geestelike en emosionele armoede van bejaardes beslis aandag kry. Dit is my wens dat ons reeds in 2020 by die 2030-agenda kan aansluit en verseker dat ons bejaardes ook vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan lewe. Om die navorsingsverslag te lees, klik hier.

Hoe sien ons tehuise en bejaardes daaruit?

  • Byna al die tehuise (92%) bestaan al meer as 30 jaar. Driekwart van die tehuise het aangedui dat hulle ’n waglys het vir inwoners wat in die tehuis wil kom woon.
  • Altesaam 2 188 voltydse personeellede wat 3 559 bejaarde inwoners moet versorg, se salarisse word deur die tehuise betaal. Dit is ’n gemiddeld van 44 personeellede per tehuis en gemiddeld 10 vrywilligers wat hul dienste, hulp en ondersteuning vir die tehuis gratis aanbied.
  • Die grootste groep van die tehuis se inwoners is meestal vroulik, waarvan 54% tussen 80 en 89 jaar oud is en 12% ouer as 90 jaar oud is. Dit is noemenswaardig om aan te dui dat twee van die respondente vanjaar 100 jaar oud geword het en drie bejaardes in 2020 hul 100ste verjaarsdag vier.
  • Ongeveer 40% van die bejaardes is ten volle afhanklik, benodig voltydse sorg of ly aan ’n sekere mediese toestand, onder meer, liggaamlike gestremdheid, blind- of doofheid, of psigiese steurnis (soos depressie en angs). ’n Kleiner persentasie van die tehuise se inwoners ly aan Alzheimer se siekte of demensie.
  • Die gemiddelde tarief vir verblyf is R6 619 vir ’n enkelkamer, R8 461 vir ’n dubbelkamer en R7 591 vir die versorgingseenheid. Byna 40% van die bejaardes ontvang ’n staatstoelae. Dié bydrae beloop vanaf R984 tot R3 541 per inwoner per maand. Ongeveer die helfte van die inwoners ontvang ’n Sassa-toelaag van sowat R1 800, wat hul verblyf moet dek en maak nie voorsiening vir die volle verblyfkoste nie. Dan is uitgawes soos kruideniersware en mediese onkoste nog nie eens ter sprake nie. Dit laat ons bejaardes in ons samelewing nog meer kwesbaar.
  • Byna die helfte van die bejaardes (47%) het geen toegang tot ’n mediese fonds nie en moet op die staat se mediese versorging staatmaak.
  • Die meeste van die bejaardes (83%) het kinders, waarvan die helfte van die bejaardes se kinders ook finansieel na hulle omsien.

Ongelukkig is daar byna 40% van die bejaardes wie se kinders hulle nie vir uitstappies kom nie. Slegs 34% van die bejaardes sien hul kinders weekliks en ’n baie klein persentasie van die bejaardes (6%) is bevoorreg om daagliks ’n besoek deur ’n geliefde te geniet. Verder ontvang 20-30% van die bejaardes maandeliks of jaarliks ’n besoek deur hul geliefdes.

Dit is dus met groot hartseer om te verneem dat ongeveer 40 bejaardes se familielede hulle nooit kom besoek nie. Ongeveer 30 bejaardes het aangedui dat hulle geen ondersteuningsnetwerk het nie. Hierdie terugvoer is die bewys van emosionele armoede waaraan ons dringend aandag moet gee.

Só kan ons help:

  • Die grootste behoefte aan dienste wat die tehuise nie kan bekostig nie, is instandhoudingspersoneel (91%), fisio- en arbeidsterapie (90%), beradings- en maatskaplike dienste (53%) en spraakterapeute (43%). Hierdie dienste word by minder as 10% van tehuise aangetref en die sukses en versorging van bejaardes is afhanklik van hierdie besonderse dienste, kennis en vaardighede.
  • Al die tehuise bied ’n verskeidenheid van aktiwiteite en uitstappies vir die bejaardes aan. Die grootste behoefte aan materiaal vir aktiwiteite wat die tehuise aangedui het, is wol, breinaalde en bordspeletjies (ongeveer 80-85%). Ongeveer 50% van die tehuise benodig inkleurboeke en -potlode, balle, legkaarte, boeke met groot skrif, vroetelkussings, toerusting vir kunsaktiwiteite, babapoppe en speelgoed.
  • Die produkte wat tehuise verlang is vleisprodukte, groente en vrugte (ongeveer 80%), asook LED-ligte, kruideniersware, beddegoed en matrasse (ongeveer 70%).
  • Die grootste behoeftes vir bejaardes is, onder meer, toiletware (76%), brille (50%), gehoorapparate en doeke (30%) of griepinspuitings voor die wintermaande. Ongeveer 50 bejaardes het aangedui dat hulle ’n behoefte het aan ’n maandelikse voetsorgbehandeling.
  • Die grootste behoefte aan aktiwiteite wat deur die bejaardes aangedui is, is die behoefte aan uitstappies en geselskap.

Tina Walker het gesê: “Om vir iemand te sorg wat eens vir ons gesorg het, is een van die grootste voorregte”.

Mag ons as bevoorregtes wat by ons vorige generasie geleer het, hulle saam versorg, want eendag is dit ons beurt.

Ek sluit af: “Moenie spyt wees dat u oud word nie, dit is ‘n voorreg wat van baie ontneem word.” (Onbekend)

  • Solidariteit Helpende Hand nooi u uit om saam met ons aandag aan hierdie tehuise en bejaardes se behoeftes te gee. Skakel 012 111 8360 of besoek Helpende Hand se webwerf vir die inligting van jou naaste Helpende Hand-tak.

[pdf-embedder url=’https://s3.eu-west-1.amazonaws.com/rak2.spens.co.za/maroelamedia/hh-tehuis-vir-bejaardes-infografika-2019.pdf’]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.