Springboklegende Gysie Pienaar gesels met Pierre Massyn

gysie-pienaar-en-pierre-massyn

Gysie Pienaar het rugby met Pierre Massyn gesels. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Opgedra aan Hennie Olivier

Dit ruik na rugby hier. Dis moet ook so wees, want die baas van hierdie huis in Woodlands, Bloemfontein, is Gysie Pienaar. Die nimlike, vlugvoetige heelagter van die Vrystaat wat ’n verskrikking was vir enige span teen wie hy gespeel het; onse Gysie… hy wat die Leeus van 1980 aan flarde geskeur het met sy verbysterende teenaanvalle.

Gysie staan my te woord. Nederig en beskeie, in weerwil van die talle hoogtes wat hy in sy roemryke loopbaan bereik het. Soos jy op ’n Saterdagmiddag in sy huis kan verwag, is die televisiestel op die rugbykanaal ingestel.

“In 1981 was Nieu-Seeland middeldeur geskeur oor politiek. Jy was daar. Vertel my.”

“Weet jy wat, Pierre, op daardie 1981-meelbomtoer het die meeste betogers nie eens geweet waaroor hulle so ’n bohaai maak nie. Hulle is feitlik almal deur die bank betaal om die toer te ontwrig”, onthul hy. “En van die veld af het ons en die All Blacks hegte vriendskappe gevorm. Mark Shaw en Murray Mexted en Dave Loveridge en al die ouens.”

Zacharias Matheus Johannes Pienaar se droom was van kindsbeen af om Springbok te word. Sy held was HO de Villiers, stellig ons eerste aanvallende heelagter in die moderne era, byna ’n tweede Gerry Brand wat op sy dag saam met Dok Craven en Boy Louw en dié manne verwoesting gesaai het. En die eerste stukkie van die Pienaar-legende word gebore…

In 1967 speel Suid-Afrika teen Frankryk in die tweede toets in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein. HO speel vir die Bokke en die jong Pienaar kry die kans om sy held in aksie te sien, want hy word gekies vir Oos-Transvaal Laerskole om in ’n voorwedstryd te speel!

Tot vandag toe het Gysie HO se WP- trui. Dis die soort vriendskappe wat rugby smee.

Die Pienaars keer spoedig na Gysie se geboortestad Bloemfontein terug, waar hy vir HO sien speel het. Gysie gaan skool aan Dr. Viljoen in Bloemfontein. Dokkies was ’n minder gesiene skool.

“Ek het op skool losskakel gespeel. My skrumskakel was Hottie Barnard. Hottie is vir Vrystaat-skole gekies; ek nie. Jy sal my nie glo nie, maar ek moes twee keer so hard werk soos ’n speler van ’n pronkskool soos Grey Kollege om bó uit te kom,” vertel Gysie.

“Maar toe kies hulle ’n outjie van Grey bó jou vir Vrystaat-skole?”

“Ja, en die feit dat hulle my nie vir die Craven-week gekies het nie, het my net meer gemotiveer. Van die Grey-speler het ons nooit weer gehoor nie.”

Gysie neem my en my seilgenoot Willie van Jaarsveld (1) na sy rugby-uitstalling. As jy die kelder betree, as daar links teen die muur ’n reusefoto van Gysie wat die rugbybal triomfantelik omhoog hou ná sy sensasionele drie op sy tuisveld teen Billy Beaumont se Leeus in die tweede toets in 1980.

As jy hierdie rugby-heiligdom binnegaan, word jy oorval deur al die versamelstukke. Hiér is die no. 10-broek wat Joel Stransky gedra het toe hy laat waai het met dáárdie skepskop wat die All Blacks in 1995 gebreek het. Dáár is Francois Pienaar se modderbesmeerde tokse wat hy teen Frankryk gedra het in Durban in die halfeindstryd toe die hemele se sluise oopgedraai is.

Ja, Gysie Pienaar was nie net die beste heelagter van sy tyd nie, hy kon afrig ook. Saam met Kitch Christie sorg hy dat die Bokke die Wêreldbeker in 1995 huis toe bring. Gys kon talent raaksien. Dit was hy wat ene Henry Honibal sien koshuisrugby speel het op Kovsies en hom opgetrek het na die Shimlas en die Vrystaatspan. “Die Lem” het uiteindelik een van ons beste losskakels geword en al drie toetse wat hy teen die All Blacks in hierdie posisie gespeel het, gewen.

Ons gesels intens, want Gysie se tyd is beperk. Hy is op pad Spanje toe vir ’n golftoernooi. Ek wil nog weet van die 1981 toer: “Hoekom is Moaner van Heerden en Kevin de Klerk nie saam nie, Gysie?”

“Ek kan nie daardie vraag beantwoord nie, Pierre. Maar ja, daar is foute gemaak met die spankeuses.

Ek wil nog hoor: “Die toerbestuur kon nie plek vind vir Wynand Claassen in die eerste toetsspan nie. Eben Jansen het my vertel dat die lostrio bestaande uit homself, Theuns Stofberg en Rob Louw só goed in die voorafgaande klompie wedstryde gespeel het, dat Nelie Smith-hulle daardie drie net so saam ingespan het in die eerste toets, met Stofberg as kaptein.” (Rob Louw het in daardie wedstryd sy enigste toets as agsteman gespeel.)

“Dit mag so wees, ja, maar volgens my moet jou aangewese kaptein speel. Wynand moes gespeel het.”

Ek staan vasgenael voor die versamelstukke in die Pienaar-versameling. Hier is ’n aandenking uit 1976. ’n Jeugdige Gysie Pienaar, beswaarlik uit sy tienerjare, help Vrystaat om die eerste keer in sy geskiedenis die Curriebeker te wen, toe hulle Morné du Plessis se sterbelaaide WP-span in die eindstryd klop. Joggie Jansen, wat die All Blacks in 1970 te pletter geduik het, speel in daardie span. Daardie selfde jaar, 1976, laat byt Wouter Hugo se Wittruie ook die All Blacks in die stof. En dit herinner my om te vra: “Gysie, jy weet dat vier van jou spanlede in daardie Curriebeker-wenspan al dood is – in numeriese volgorde?” (2)

“Ja Pierre, ek is bewus daarvan”, antwoord hy sardonies, “maar gelukkig is ek nommer 15, en dus heel laaste!”

Gysie Pienaar is ’n lewende legende. My aandag word getrek deur ’n getekende Vrystaat-trui met die grootste spelers wat die bond per dekade opgelewer het. Sakkie van Zyl verteenwoordig die era 1960-’70, Joggie Jansen 1970-’80, en raai wie swaai die septer vir die volgende dekade? Gysie Pienaar van Dr. Viljoen, wat die keurders nie Craven-week toe wou stuur nie. Helgardt Muller en André Venter staan hul plekke vol vir die volgende dekades.

Ons gaan staan by ’n massiewe silwerbeker. Welverdiend word die dartelende Pienaar in 1980 deur ons rugbyskrywers aangewys as Suid-Afrika se rugbyspeler van die jaar. Ford borg die spoggeleentheid.

“Jy weet Pierre, ek is al derduisende rande vir hierdie beker aangebied. Hulle wou al hoeveel keer hierdie beker by my koop vir belaglike bedrae geld, maar hy sal net hier bly staan. Geld kan hom nie koop nie.”

Natuurlik was daar teleurstellings ook. “Ek het in 1984 goeie rugby gespeel. Ek het die meeste van my rugby vir Vrystaat heelagter gespeel met De Wet Ras as losskakel. Maar daardie jaar vra oom Nelie (Smith) my toe of ek bereid sou wees om losskakel te speel. Op die proewe vee ons alle teenstand plat met groot tellings met my as losskakel en Divan (Serfontein) as skrumskakel. Johan Heunis was heelagter. Toe die name vir die eerste toets teen Engeland uitgelees word, is ek reserwe en Errol Tobias losskakel. Maar ek gee Errol alle krediet: hy het goed gespeel in daardie reeks.” (3)

Dis nie algemeen bekend nie, maar Gysie het ’n 100%-skoprekord vir die Bokke. Niemand minder as Naas Botha self kon nie in 1980 raak korrel in die vierde toets teen die Leeus nie, en die Bloemfonteiner neem die skopwerk oor – en slaag met ál sy skoppe. Wat ook dikwels uit die oog verloor word, is die feit dat Gysie en sy seun Ruan tussen hulle twee, twee Wêreldbekers gewen het: Gysie help die Bokke afrig in 1995, en Ruan is lid van die wenspan in 2007. Ruan verteenwoordig Suid-Afrika as heelagter, vleuel, losskakel en skrumskakel. Pa en seun se heel eerste Bok-truie hang saam geraamd in die Pienaars se ruim sitkamer. Gysie se aanvallige donkerkopvrou, Rida, bedien vir ons drankies. Sy was ’n nooi Du Plessis van Hoërskool Jim Fouché en hulle is vanjaar 40 jaar getroud.

“Maar daardie trui het mos saam met jou in die bed geklim, Gys?”

Die wêreld se beste heelagter van sy tyd glimlag skalks. “Jy onthou goed. Hulle het ons truie oorhandig die Vrydag voor die toets op Nuweland in 1980 teen die Leeus. Ek en Martiens (le Roux, vaskopstut en Vrystaatse spanmaat) was kamermaats. Ons was al twee so opgewonde, dat ons glad nie kon slaap nie. Ons het letterlik gebars van trots. Toe trek ons ons Springboktruie aan en klim net so met hulle in die bed. Die volgende dag het ons die Leeus se sterte vir hulle geknoop en vyf drieë teen hulle gedruk.”

Terloops, Gysie en Ruan is boonop die eerste en enigste pa-en-seun-kombinasie in die geskiedenis wat ooit teen die Leeus gespeel het.

Ek sit dit gesprek voort. “Gysie, in hierdie rugbymal-land van ons word daar dikwels gesê dat André Joubert (die ander Springbok-held in die Vrystaat se heelagter-dinastie, die huidige heelagter, Willie le Roux, is ook ’n Vrystater) sy spel op jou lees geskoei het. Maar wie was jou beste teenstanders in die nommer 15-trui?” por ek hierdie volksheld aan.

gysie-pienaar-aksie

Gysie Pienaar in aksie op die rugbyveld. Foto: Verskaf.

“Dit was ongetwyfeld Serge Blanco van Frankryk, maar ek het ook ’n hoë dunk van Andy Irvine van Skotland en die Leeus.”

“Ek onthou julle toets in 1980 op Loftus teen Le Bleus. Jy het ’n drie gedruk en nog een vir Gerrie Germishuys gemaak.”

“Ja”, sê Gysie, “dis reg. Ek het daardie dag teen Blanco gespeel. Frankryk het ’n baie sterk span gehad wat net die vorige Saterdag met WP afgereken het. Ons het ongelukkig vir die Hane vir Moaner (van Heerden) en Mools (Louis Moolman) in ons pak gehad. Hulle was twee derduiwels. Stoffies (Theuns Stofberg) was ook daar. Jean-Pierre Rives (woelige Franse kaptein en flank, met sy kenmerkende blondekop) het in daardie wedstryd erg gebloei toe hy aan die verkeerde kant van ons losskrum geloop het. Hy was uit op sy voete. Morné (du Plessis, kaptein) moes Rives later wys waar om in die lynstaan sy plek in te neem. Maar hy hoewel hy klein van postuur was, het hy die hart van ’n leeu gehad en end-uit op die veld gebly. “

My geselstyd is verby. Wat ’n speler, wat ’n mens! Dit was ’n asembenewende en blywende voorreg.

Dankie Gysie Pienaar vir al die onvergeetlike plesier wat jy my en duisende ander rugbyliefhebbers in Suid-Afrika en wêreldwyd besorg het.

    • My vriend en makker Hennie Olivier is op 2 Oktober 2018 dood ná ’n fratsbootongeluk op Gariepdam. Hy was die beste seiljagvaarder wat ek ooit geken het en ’n Radio-Beheer Seil-Springbok. Dit was ’n eer om saam met jou te kon seil, ou matroos. Ons sal dit weer doen in die Groter Oseaan.

Voetnotas:

    1. Die skrywer, Willie van Jaarsveld en wyle Hennie Olivier, albei van Bloemfontein, het in 2011 die 42-voet kaag Waterblommetjie van Port Leucate in Frankryk na die eiland Lesvos teen die Turkse kus in Griekeland geseil. Die vaart het 33 dae geduur en het oor 1 500 seemyl via Korsika, Sisilië, deur die straat van Messina, om die voet van Italië en deur die kanaal van Korinte gestrek. Hennie het tragies gesterf terwyl ek besig was om hierdie artikel te skryf.
    2. Rampie Stander (nr. 1), Wouter Hugo (nr. 2), Martiens le Roux (nr. 3) en Klippies Kritzinger (nr. 4) is agtereenvolgens oorlede.
    3. In daardie reeks word Gerrie Sonnekus die eerste speler in Suid-Afrika se rugbygeskiedenis sedert Danie Craven wat sy land as agter- en voorspeler verteenwoordig. Presies tien jaar vantevore, in 1974, word hy as skrumskakel in die derde toets teen die Leeus gekies. In 1984 speel hy agsteman teen Engeland.
  •  Pierre Francois Massyn is die skrywer van Springbok Rugby-Vasvra en ’n seiljagmeester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

dries ·

Gysie was baie goed, maar ek dink ons beste heelagter ooit was Johan Heunis. Daars ook Ian Mucullum (spelling?)
lekker gelees dankie Pierre.

kallie ·

Opwindende speler maar nie in die klas van tydgenote soos JPR Williams of Serge Blanco nie.

DewaldS ·

A – nee- a! Die kommentators wat so van Gysie Pienaar praat het seker nie die Springbok-wedstryde gekyk waar Gysie gespeel het nie?! Die man was briljant – hy het die uitkoms van ‘n toets-wedstryd in ‘n oogwenk verander.

Herman ·

In sy tyd was hy die beste. Hoe kan jy hom met iemand vergelyk uit ‘n ander era? Sy prestasiestatistieke spreek boekdele. ‘n Held met ‘n onbeskaamde karakter en geskiedenis. Gysie ons is trots op jou!

marco polo ·

Gysie was n groot held en het homself gekies met sy spel. Jammer dat ons hom nooit op losskakel kon sien speel vir die Bokke nie agv die begin van kwotas.

Swartwolf ·

Gysie was briljant kon enige verdediging stukkend hardloop. Een van die beste aanvallende heelagters ooit.

Ekke ·

Spankeuses op skolevlak, Craven-week toe en nou steeds problematies. Jim Fouche het netbal oorheers in sewentigerjare op laerskolevlak, en plek word gehou in Craven-week vir beseerdes wat dan op die dag nie geoefen en fiks is nie en nie volle waarde kan gee nie.

Mornay ·

Ken Geysie Pienaar persoonlik. Wonderlike mens en sout van die Aarde. Stem volkome saam skrywer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.