Steyntjie en sy maats

renosters-goliatskraal

Steyntjie, vooraanstaande inwoner van Goliatskraal, by sy twee nuwe vriende. Monique Thomas het Pierre Massyn aan Steyntjie en sy maats en hulle eienaars, die formidabele Steyns, voorgestel. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Vir Steyntjie was dit net nóg ‘n dag op Goliatskraal1. Vir my was dit ‘n spesiale dag. Steyntjie is ‘n knewel. Hy laat die skaal kreun op vér meer as twee ton. As jy sy lies kielie, lig Steyntjie sy voet op. Hy is lieftallig en spelerig – hy maak sy oë toe en sy breë mond hang effens oop van pure lekkerte as jy hom agter die ore krap.

Steyntjie het ‘n horing. Dié bestaan uit ‘n chitienagtige stuk kraakbeen, wat baie aan ‘n mens se groottoonnael herinner.

In die Ooste bestaan daar die belaglike opvatting dat renosterhoring ‘n soort liefdesopkikker is… dis oor hierdie absurde geloof dat Steyntjie en sy maats vandag ‘n bedreigde spesie is. Ons eie Ian Player het in KwaZulu-Natal ʼn reusewerk gedoen om veral die swartrenosterspesie van uitwissing te red.

Steyntjie is ʼn witrenoster, en hoewel hy effens groter en ligter van kleur as sy swartrenosterneef is, is die hoofverskil hul monde. Die swartrenoster het ’n tuitvormige mond en hy pluk sy blare van bosse en bome af. Die witrenoster, daarenteen, wei soos ʼn bees, van die grond af, en die natuur het hom met ʼn lekker breë mond en reguit lippe toegerus.

Steyntjie se base is Andries Steyn en sy seuns, Sebastiaan en Andries junior. Saam met ‘n handjievol ander natuurliefhebbers, veg die Steyns ‘n verbete stryd om hul renosters te beskerm.

“Ons maak nie geld uit ons renosters nie. Ons bewaar hulle suiwer uit ons liefde vir die saak en ons passie vir die natuur.”

Hulle het hul wildplaas in 2000 begin en praat Sotho beter as Engels. Hulle teel ook suksesvol swartwitpense, saalrugrooibokke, waterbokke, goue wildebeeste en Livingstone-elande. Konvensionele boerderyaktiwiteite soos skape, waarvan hulle 400 het, suikerboontjies en sonneblomme hou die Steyns van vroegdag af besig.

Geld is een van die kernoorsake wat die voorbestaan van renosters bedreig.

“Jy kan vandag op die swartmark $160 000 per kilogram renosterhoring kry”, verduidelik Andries senior. Die sinlose wanopvatting dat renosterhoring mans kwansuis meer woema in die bed sal gee, is só diepgewortel in sommige lande agter die bamboesgordyn, dat renosterhoring daar geskraap word en die skraapsels ten duurste van die hand gesit word. Die Steyns sou verkies dat die handel in renosterhoring internasionaal gewettig word, maar Cites (die Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora) lê dit aan bande.

“En die oplossing vir die probleem?” wil ek weet.

“Man, stel net die doodstraf in vir renosterstropery en ons probleme word oornag met die helfte kleiner,” laat loop Sebastiaan.

Intussen kom stroper se kind behoorlik sy moses hier tee as hy dit sou waag om ‘n vinger op Steyntjie-hulle te lê. Andries junior is ‘n bedrewe helikoptervlieënier en takel vermeende insypelaars uit die lug.

“Ons het onlangs probleme met Mosambiekers gehad, maar hulle het sommer gou die aftog geblaas. Ons skiet ‘n stroper op sig. Hier leer hulle op die harde manier om ons diere uit te los.”

En die Steyns kán skiet. Pa Andries en Sebastiaan word in 2003 die eerste pa- en-seun-kombinasie wat Springbokskuts word. Hulle verteenwoordig Suid-Afrika teen die wêreld se bestes op Bisley in Engeland en sorg dat die Republiek die bronsmedalje wen. Sebastiaan eindig sewende uit 2 000 deelnemers.

Behalwe dat hulle dodelike skuts is en ‘n helikoptervlieënier in hul geledere het, beskik die Steyns oor een verdere troefkaart: Hulle het 15 oud-Koevoet-lede wat Steyntjie-hulle se veiligheid verseker. Hierdie Namibiërs is almal Ovambo’s en met hulle moet jy nie lol nie…

As ek ‘n stroper was, sou ek ver weg gebly het van Goliatskraal…

  • Voetnoot: 1. Wêreldrenosterdag is jaarliks op 22 September. Die presiese ligging van Goliatskraal word vir die renosters se veiligheid nie onthul nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Della ·

Doen so voort! Baie bly daar is mense wat hierdie pragtige diere beskerm. Dit wys net weereens dat die regering nie veel vermag om hulle te beskerm nie…

Christa ·

Drie hoeras vir daai Ovambos. Ons moet dalk so ‘n paar dosyn in ons polisie kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.