Gedagte vir die dag:  As ek tog maar net …

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 119:1-8

As ek tog maar net op ’n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou!  (Psalm 119:5)

Hoor dan hoe sug dié man! As ek tog maar net …

Hy sug, ja, hy sug namens ons almal wat hier lees. En hy gee woorde aan ons moedeloosheid met onsself, aan die selfverwyt van mense wat al hoeveel keer gedink het: As ek tog maar net …

Maar, nee, ons weet mos van beter: Ons sal sélf regkom, dankie! Ons sal sélf besluit, sélf die keuses maak, sélf … sélf … sélf.

Ons sukkel wel om sélf die gevolge te dra. Ons roep: “Pappa, help!” Ons soebat: “Mamma, kom kyk!” Ons skreeu: “Here, Here!” Ons word nooit groot nie. Ons leer net mooi niks. Nie uit ons vroeëre foute nie, nie uit ons huidige hubris nie. En dit is nie asof ons nuut op die toneel is nie, asof dit die eerste keer is dat ons só betrap word nie. Ons is óú oortreders. Gewoontesondaars.

Dit kon so anders gewees het; dit móés so anders gewees het. Ons moes daardie eerste keer toe ons ons oortreding agtergekom het – of toe ons uitgevang is – geleer het, gewéét het: Nee!

Maar ons het nie. Ons het weer die plegtig voorgenome vaste koers verlaat, nogmaals voor die aanloklike afdraaipaadjie geswig. En ons kan nou al die verdere verloop voorspel: Dit sal weer eens uitloop op: Vergewe my, Here! Leer die een teenoor wie ek oortree het om my ook te vergewe. En leer my asseblief daardie moeilikste vergifnis van almal: om myself te vergewe.

Dit alles, tog, Here, sodat ek skoon kan begin (die jaar is nog jonk genoeg). Ek wil in hemelsnaam vry kom van daardie herhalende selfverwyt. Die jaar ná jaar se sug: As ek tog maar net …

Maak gou, Here, asseblief ! Leer my nuwe bidwoorde.

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae