Gedagte vir die dag: Beproewings

is_wind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. (2 Korintiërs 4:17)

Volgens Jakobus is ons lewens soos die oggendmis, vir ’n kort rukkie sigbaar en dan is dit weer weg. Daarom het ons Paulus se perspektief op lyding, soos uiteengesit in sy brief aan die Korintiërs, so nodig. Hy beskryf dit as gering en tydelik, van verbygaande aard; met ander woorde ons ervaar dit vlietend en dit in ’n lewe wat vergelyk word met ’n rookwolkie wat vinnig verdwyn. Tog, die gewig en omvang wat daaruit voortvloei, beide in hierdie lewe en die een wat kom, oortref alles wat ons moes verduur verreweg. Hieroor stem al die Bybelskrywers saam.

Jakobus herinner ons dat beproewings ons leer om te volhard, en dat volharding lei tot geestelike volwassenheid en dit vervolmaak ons geloof. Petrus sien beproewings as ’n manier om ons geloof te suiwer, soos goud deur vuur gesuiwer word. In sy brief aan die gelowiges in Rome herinner Paulus hulle dat swaarkry volharding kweek en volharding egtheid van geloof en egtheid van geloof hoop. Boonop koppel al drie die skrywers lyding aan vreugde.

Mag God ons die genade gee om vanuit sy perspektief na ons beproewings te kyk.

Here, U is my Trooster, die Een na wie ek my enige tyd van die dag of nag kan wend vir krag en ondersteuning, hulp en hoop. Here, die intensiteit van hierdie beproewing wat lyk of dit geen einde het nie het my onkant betrap. Ek is uitgeput na liggaam en gees. Gee my u ewigheidsperspektief te midde van hierdie suiwering en lei my selfs in hierdie dae om ander te vertroos. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.