Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie. Dawid was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind. (1 Samuel 18:2, 5)
Dit gebeur dikwels dat ’n talentvolle kind op skool onopsigtelik sy gang gaan. Hy word nie na waarde geskat nie en mense kyk maklik bo-oor hom. Wanneer hy later uitstyg en bekendheid verwerf, besef mense eers watter skat al die tyd tussen hulle was.
Dawid het gereeld vir Saul op sy lier gespeel, maar vir Saul was hy maar net nog een van sy onderdane. Nadat Dawid Goliat verslaan het, het Saul se oë skielik oopgegaan en hy het besef wat ’n buitengewone jong man Dawid was. Saul het Dawid verbied om terug te gaan huis toe en hy het permanent deel van die koninklike hofhouding geword. Saul het hom ook as hoof van sy soldate aangestel.
Deur Dawid kon Saul weer sy verlore aansien herwin. Dawid se heldedade het Saul in ’n goeie lig gestel. Hy was nou weer die koning na wie sy onderdane kon opsien en voor wie vyande in ontsag gebewe het.
Saul het Dawid bewonder. Die verering het egter nie uit vriendskap of goedgesindheid gespruit nie. Dawid was net ’n pion in Saul se hand. Hy het hom tot sy eie voordeel gebruik. Dit het om hóm en sy eie roem gegaan, nie om Dawid nie.
Bewondering is nié vriendskap nie.
Here, help my om nie ander tot my eie selfsugtige voordeel te probeer gebruik nie. Amen
Amen
AMEN!!!