Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” (Markus 9:34-35)
Ons leef in ’n samelewing wat ons wil oortuig die lewe gaan net oor onsself. Televisie- en tydskrifadvertensie vertel ons ons is nommer een en verdien hierdie nuwe kar of daardie indrukwekkende toestel. Die woorde om ander te dien is bykans vloekwoorde, want ons wil eerder gedien word.
Tog het Jesus se woorde en dade ’n ander storie vertel. Hy was sy dissipels se voete en leer hulle as iemand eerste wil wees, moet hulle laaste in die ry gaan staan en ander dien. Volgens Goddelike maatstaf is dit onselfsugtige diens waarin God ’n behae skep. Jesus is vir ons ’n voorbeeld hierin, Hy offer selfs sy lewe op vir ons.
In vandag se Bybelteks onderrig Jesus sy dissipels en leer hulle ’n nuwe waardesisteem: Hy wie die minste onder julle is, is groot. Jesus sê elkeen wat ’n kindjie in sy Naam ontvang, ontvang ook vir Hom, en elkeen wat ’n arme iets te drinke gee, gee dit ook vir Hom. Helaas val die frase: “Sterf in jouself” nie so lekker op die tong nie en dit is beslis nie maklik om te doen nie. Daar lê ’n diepe beloning in diensbaarheid opgesluit – die grootste beloning is hoe waardevol dit jou laat voel. Doen daarom goed aan ander.
Nadat Jesus die dissipels se voete gewas het, sê Hy: Doen soos Ek (dien) en julle sal gelukkig wees. Nederige diensbaarheid maak ons opreg gelukkig en skenk nuwe selfvertroue en lus vir die lewe. Om na ander uit te reik, hulle te dien en help kan ons uit ’n moedelose bui lig – dit verbeter ook ons lewenskwaliteit, probeer dit gerus. Ek glo God word daar gevind waar ons dien.
Derek Prince het dit raak gesê: “As ons as konings wil heers, moet ons soos priesters dien.”
Dankie vir die mooi boodskap.
Amen !