Die Groot Opdrag, nie die Groot Voorstel nie

(Foto: Bulumalulu/Pixabay)

Deur Johan Oosthuizen

Iemand het ’n ruk terug, baie opgewonde, vir my gesê dat sy iets wonderliks uit die Skrif met my wou deel. Dis iets wat sy nie met ander kan deel nie, want hulle sal nie verstaan nie. Min wis sy dat ek óók nie sou verstaan nie.

Sy sê toe dat die wederkoms nog nooit so naby was nie en ek stem toe saam en sê dat dit al amper 2 000 jaar so is en toe verstaan sy my nie. “Nee”, sê sy, “dis nóú die laaste dae! Daar’s al ’n dag bepaal!”

“Ja,” seg ek”, “en hoe en wie het dit nogal bepaal?” Sy sê toe dis Karel* en hy is mos al jare besig met die profesieë en die wederkoms. Hy en sy vrou het ’n middernagtelike visioen gehad en almal in die familie moet gewaarsku word om seker te maak dat hul saak met die Here reg is. Hoekom dan nou net die familie, het ek gewonder.

Ek wou toe by haar weet of sy dan nie haar Bybel lees nie. “Ja!” seg sy. “En dis waarom ek so opgewonde is! Sy koms is voor die deur! Dis nie net Karel wat so sê nie, gaan kyk op YouTube!”

Ek sê toe sy moet liewer op die internet gaan kyk en dan sal sy sien tussen 500 n.C. en 2019 was daar al amper 50 bepalings en daar is nóg bepalings tot 2034 en almal wat datums bepaal, beroep hulle op die Skrif!

My raad aan haar was dat sy mooi moet gaan lees wat Jesus sélf oor sy wederkoms gesê het en alles wat dit voorafgaan: Net die Vader weet wanneer en as Hy kom, sal dit wees soos ’n dief wat in die nag toeslaan. Ja, daar word gepraat van die laaste dae – die tekens van die tyd en eindtye. Maar nêrens is daar ’n opdrag dat mense met kalender en sakrekenaar langs die Bybel moet wroeg om jaartal of dag te bepaal nie.

“Ja, maar dit was nog nóóit soos dit nou aangaan nie!” en die tekens van die tye word afgerits.

“Ja”, seg ek, “70 jaar terug het my ouers ook so gesê. Jesus het gesê dat niémand behalwe die Vader weet wanneer Hy weer sal kom nie. Vir ons dit die verborge geheimenis van God se plan.”

Wát staan die kinders van die Here dan vandag te doen? Waarmee móét ons besig wees? Dit bring ons te staan by Jesus se opdragte voor sy hemelvaart waarmee ons ons moet besig hou tot die dag van sy wederkoms. Daar is ’n aardse werkopdrag met ewige, hemelse gevolge!

Voor hemelvaart het daar ’n onbeskryflik, wonderlike ding plaasgevind. En dit lees ons in Handelinge 1:4-8. Toe Jesus en die apostels wat Hy uitgekies het vir oulaas aan die tafel gesit het, wou hulle weet of Hy tóé die koninkryk sou oprig. Jesus antwoord toe: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.

En dan die troosvolle, toerustende belofte: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Waarvoor hierdie krag nodig sou wees, sou hulle spoedig hoor. Ons lees dit in Matteus 28:16-20 waar Jesus ’n verklaring maak: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde” en uit daardie magsposisie gee Hy sy finale opdrag: “Gaan dan na alle nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Dan volg die heerlike belofte: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Daar is onverwyld direk ná sy hemelvaart aan die werk gespring. In Markus 16:19,20 lees ons: “Nadat die Here Jesus dit (sy finale opdrag in vers 15) vir hulle gesê het…” “Hulle het die evangelie gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.”

Dis waarmee ons ons moet besig hou van hemelvaart tot wederkoms. Hierdie opdrag om te evangeliseer is nog nooit opgeskort nie en moet nie ligtelik beskou word nie. Christen-gelowiges word vir diensplig opgeroep!

Hudson Taylor stel dit so: “The great Commission is not an option to be considered. It is a demand to be obeyed.” Remiss Rehfeldt sê weer: “The Great Commission is a personal obligation upon every Christian. Each member of the church must face this task with obedience.” ’n Ander prediker stel dit so: “The Great Commission: Not the Great Suggestion.”

Kort ná die hemelvaart het die apostels die voortou geneem en rondom die Middellandse See die Groot Opdrag uitgevoer en daarvan getuig die sendbriewe van Paulus, wat met reg die kroonprins van apostels genoem kan word. Oor wyduitgestrekte gebiede is dissipels van mense gemaak en dit duur tot vandag toe voort.

Dit bly veelseggend as ’n mens kyk wie Jesus gekies het om sy dissipels te wees. Hy het nie by die Skrifgeleerdes of die rabbi’s begin nie. Nee, by die vissermanne en vir hulle het Hy geleer om dissipels in sy diens te wees. Doodgewone mense soos ek en jy. Dit beteken ons moet, want ons kán onder leiding van die Heilige Gees wat ons onderrig en lei.

Vandag is dit anders. Dit lê oënskynlik en verkeerdelik op die terrein van predikante of leraars, sendelinge en evangeliste om dissipels te maak, wat ons dan gerieflik agteroor laat sit en die Groot Opdrag dan agterweë laat. Bogenoemde geroepenes en gestuurdes moet dissipels maak en húlle moet die werk voortsit om dissipels te maak. Daarom is ’n kerk wat nie dissipels maak nie, ’n dooie kerk.

Multimedia het weliswaar ’n nuwe, magtige era ingelui, maar ongelukkig is die gevolg daarvan dat gelowiges knus in gemakstoele hulle verheug in wat ander doen en gerieflikheidshalwe vergeet dat die opdrag ook aan individuele bekeerlinge gerig word. Elke volgeling van Jesus is ’n geroepene met ’n opdrag!

Dissipels word nie net daar ver weg gemaak nie. Nee, dit gebeur hier by en tussen ons. Niemand het meer nodig om daar ver te gaan werk nie, want die arbeidsveld is in ons midde. Iemand sê tereg: Ons hoef nie meer sendingveld toe te gaan nie. Die sendingveld kom na ons toe.

Jesus se dissipels kon dissipels maak deur te doen wat Jesus doen – soos Jesus vir mense te wees. Die beste manier om dissipels te maak, is om aan Jesus se voete te sit, van hom te leer en dan in afhanklikheid van Hom deur getuienis en bemoeienis uit te reik na ander om van hulle dissipels te maak.

Hoe dan nou? Ontdek jou gawes om toegang te kry tot die nood of behoefte van iemand. Leer ken, luister en klim in iemand se skoene in. Nee, meer nog, klim onder iemand se vel in. As jou gawe luister is, luister. As jou gawe verstaan is, verstaan.  As jou gawe omgee is, gee om. Jou gawe kan die knoop deurhaak en die pad na dissipelskap oopmaak.

En as daar nie ’n manier is dat ek kan gáán om dissipels te maak nie? Nee, daar is ’n manier. Daar is altyd iemand anders wat jy kan ondersteun. Die heel belangrikste is gebedsondersteuning. Baie wat gáán om dissipels te maak, is blootgestel aan uiterste beproewing.

In die hitte van die stryd en onder die moeilikste omstandighede kan jou gebedsondersteuning lei tot oorwinning. Die vurige gebed van die regverdige het groot krag. Dit kan die dissipelmaker in verre lande in staat stel om dit te bereik waartoe hulle geroep is.

Dissipelmakers in verre lande het morele-, gebeds- en finansiële ondersteuning nodig. Jou meelewing en deelname in dié opsigte kan ’n groot bydrae lewer, want die vurige gebed van die regverdige het groot krag! Toe daar vir Billy Graham gevra is of hy ’n spesiale hemelse kroon sou kry vir die ryke siele-oes tydens sy bediening, was sy antwoord dat ás daar spesiale krone sou wees, die prayer warriors die krone sou kry vir hul gebede vir sy bediening.

Daar is nie ’n manier wat ons die Groot Opdrag kan omseil of vryspring nie. Dit vereis gehoorsaamheid en gehoorsaamheid verhaas die wederkoms, want die wederkoms sal plaasvind sodra almal die blye boodskap van verlossing gehoor het en hulle tot dissipelskap in diens van die Meester verbind het.

Die Groot Opdrag om te gáán, is nog nooit teruggeroep nie en derduisende gaan vandag nog om dissipels te maak, maar dié wat nie kan gaan nie, bly net waar hulle is, want die sendingveld is vandag rondom ons. Met ons geestelike gawes, ons persoonlike getuienis deur woord en daad, ons uitreiking na ander is ons gehoorsaam aan die Opdrag. Met ons gebede en oop beursies maak ons dit vir hulle wat kán gaan, moontlik om te gaan.

Dissipels is nodig vir die siele-oes voor die wederkoms. Die oes is groot en die arbeiders is min. Daar is werk om te doen.

Ek sluit af met: “Lord lay some souls upon my heart and love those souls through me. And may I bravely do my part to win those souls for Thee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elmine ·

Beste Johan Baie dankie vir die kosbare en waardevolle bydrae om al die dinge waaroor jy praat, en waaroor die Bybel praat, weer in perspektief te plaas. Mens wonder soms in die ongelooflik deurmekaar wêreld hoe om al Jesus se opdragte uit te leef terwyl mens nog so baie met die ou self ook nog worstel! Die antwoord is sekerlik: een dag op ’n slag, met jou prioriteite by stiltetyd, waar mens jou krag en hersiening van ons opdragte in al sy verskillende vorme by ons Here ontvang, en dan teenoor een mens op ’n slag gaan uitleef. Net om 1 Kor 13 deurentyd met gehoorsaamheid te leef teenoor alle mense, is reeds ’n uitdaging! En Jesus se radikale opdragte in Lukas 6 en 7 nog meer. “Dankie Vader, dat U ons deur en deur ken, en verstaan, en elke dag weer oorbegin met ons, en ons nie op ons eie beoordeel nie, maar deur Jesus Christus na ons kyk!” Mag ons elkeen daar waar ons leef en werk ons bydrae op vele maniere lewer, sodat die groot opdrag uitgevoer word oral in die wêreld EN in SA!!

Johan ·

Dankie Elmine, jy sê waar goed. Om al die opdragte uit te voer is ‘n bomenslike taak. Dis vir so wonderlik om te weet al die opdragte word nie soos ‘n berg voor my neergesit nie. Die opdragte kom met verdrag en die Heilige gees gee getrou leiding hoe elke opdrag gehoorsaam moet word. Hy ken ons huiwering en soms vrese, maar dan kom die sagte stem: Jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee. Here, hier is ek tot U beskikking. Rus my toe en gebruik my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.