Gedagte vir die dag: Die Skepping – kies om te verskil

landskap_stiltetyd.jpg

Foto: pixsbay.com

Lees Genesis 1:1-25

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. (Genesis 1:1)

Om deesdae oor Genesis en die skepping te praat, is, helaas, om ’n mynveld te betree. Die kreasioniste of fundamentaliste glo dat God alles in sewe weeksdae (volgens ons Gregorius-kalender) met gedronge oppervlakverandering tot stand gebring het. Die sogenaamde evolusioniste lê argeologiese vondste voor en glo aan die stadig kruipende veranderings wat in die loop van geologiese tyd plaasvind. Hoewel Bybel en wetenskap mekaar nie noodwendig weerspreek nie, vlieg die groepe mekaar gereeld op die mees onverkwiklike manier in die hare. Briewe en polemieke wemel hiervan, sodat dit eintlik sinneloos word.

Dit laat mens dink aan die jong Addy in Louis Couperus se roman De Boeken der Kleine Zielen. Terwyl sy ouers weer ’n rusie het wat sy ma soos ’n lyk in haar stoel laat hang, dink hy met ’n minagtende krul van sy effens donserige bolip: “Het is alles om niets …” Ons weet almal so min, dat ons groot genoeg moet probeer wees om te verskil. Ook in familie- en vriendekring saai dit tweedrag.

Leunstoel-godsdiens, soos leunstoel-politiek, bring net verwydering. Hoekom móét almal eenders glo?

Dát die skepping plaasgevind het, is seker. Dit was ’n massiewe totstandbrenging uit oerchaos. Dr Louw Alberts, gerespekteerde Christen-wetenskaplike, sê: “Die spontane, onbeplande ontstaan van die heelal met galaksies, sonne, planete en intelligente lewe, is meer onwaarskynlik as wat dit sou wees as ’n vloot vliegtuie klip, sand en sement uit die lug afgooi en ’n stad soos Johannesburg verrys spontaan, blindweg en per ongeluk daaruit.” ’n Groot Intelligensie het geskep, en vir die gelowige is Hy God. Hoe Hy dit gedoen het, oorspan ons begripsvermoë. Laat ons mekaar ruimte gun. Anders vorder ons nooit vanuit oermodder tot die “blom van die baaierd” (DJ Opperman) nie. God rus ons toe vir die blom: “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien” (2 Pet 1:3).

Gebed: Here, dankie dat U groot genoeg is om Skepper te wees. Ek wil my verlustig in u skeppende en herskeppende genade.

Bron:  God se pad van vryheid  deur Engela Linde
Uitgewer: Lux Verbi

Die e-Boek is beskikbaar by Kobo en Amazon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.