Gedagte vir die dag: Diensbaarheid

voete_beker_Stiltetyd.jpg

Foto: jamiegrubb.wordpress.com

Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense. (Markus 10:45)

Die broers Jakobus en Johannes het hulle ambisie baie duidelik gemaak met hul versoek aan Jesus om eendag in die hemel aan sy regter- en linkerkant te sit. Die dissipels was uiters verontwaardig en openlik ontsteld. Daarom roep Jesus hulle almal bymekaar om hierdie kritieke kwessie van belangrikheid aan te roer.

Aangesien hulle vertroud was met “grootheid” volgens die wêreld se standaarde, gebruik Jesus hierdie geleentheid om geestelike grootheid aan hulle te verduidelik. Terwyl goddelose leiers met trots hul eie eer soek en diegene wat swak is, oorheers, is dit presies die teenoorgestelde in die koninkryk van God. Hier is die pad boontoe ondertoe. In plaas van die prag en praal wat met wêreldse posisies geassosieer word, fokus goddelike leierskap op ander. Dit is om ander liefdevol en onvermoeid te help en te dien. Dit sluit in geringe werke en alledaagse pligte, roetinetake en vervelige verantwoordelikhede.

Jesus, wat sy hemelse koninkryk agtergelaat het om in ’n krip gebore te word, in die huis van ’n skrynwerker groot te word en gedurende sy openbare bediening ander onvermoeid gedien het, bly ons grootste voorbeeld van diensbaarheid.

Here, ek praat baie van diensbaar wees, maar dis eers wanneer U my vra om my tyd, talente en besittings met ander te deel dat ek weet of dit net leë praatjies of regtig ’n lewenswyse by my is. Tog wil ek nederig en onselfsugtig, soos Jesus, gehoorsaam en vrygewig na my medemens uitreik. Wys my hoe om dit binne u liefdevolle logiese grense en met ’n dankbare hart te doen. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U Heilige Gees by my is en leer en lei…Amen

FM ·

Amen

Dat ons Here elke mens se diepste versugting ken is verseker bevestiging van Sy alomteenwoordigheid.

HOE GROOT IS U!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.