Gedagte vir die dag: Eerstehands

Stiltetyd_wolke_Juanita Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Lees: 1 Johannes 1:1-4

Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het … met ons hande aan Hom geraak (1 Johannes 1:1)

Ag, hoe wonderlik moet dit nie gewees het nie! Om Hom te hoor praat, te hoor preek. Om met jou eie oë te sien hoe Hy werk, hoe sy wonderwerke lyk. Om te beleef hoe Hy jou aanraak, en hoe jý maar aan Hom kan vat. Om saam met Hom te eet. Hoeveel

betekenis sou dit alles nie aan ’n latere nagmaalviering kon toevoeg nie – “die liggaam van Christus …” (1 Kor 10:16).

Die destydse dissipels was darem maar bevoorreg, sal ons sê; hulle het Hom eerstehands beleef. Alles wat ons van Hom weet, het ons van hulle gehoor. Dit is op grond van húl getuienis dat ons weet hoe Hy was.

Daardeur weet ons ook hoe húlle was. Hoe hulle teenoor Hom opgetree het, wat hulle van Hom geëis het. Hoe hulle Hom in sy doodsbenoudheid alleen gelos het. Hoe hulle van die kruis af weggehardloop het.

Sou ons anders gewees het? Ons met die dikwels uitgesproke wens dat ons tog só graag ook aan Jesus se voete sou wou sit? Dat Hy aan óns sou raak? Sou óns voor Hom, die Koning, gebuig het? Sou óns voor Hom, die Priester, gekniel het? Sou ons toegesien het dat dié Profeet geëer word?

Nee wat, ons kan gerus ophou om hulle hul nabyheid aan Hom te beny. En ons moet liefs ons luidrugtige verwensings oor hul ontrou en die najaag van eiebelang in die sak steek. Ons sou nie anders opgetree het nie. Tot vandag toe vra en vra ons net van Hom. Stel eise. Wil nóg hê. Ons buig nie ’n aks nie.

Here Jesus, vergewe my die smalende selfgeregtigheid wanneer ek aan U dink.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae