Gedagte vir die dag: Beskerm, gereinig deur bloed van Jesus

Argieffoto (Foto: Yoal Desurmont/Unsplash)

“En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar? Dan moet julle sê: Dit is ʼn paasoffer aan die Here, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig” (Eksodus 12:26-27).

Skrifgedeelte
Eksodus 12:26-27

Oordenking
Ek is mal oor simboliek. Ek het byvoorbeeld al self eenkeer van ʼn baie goeie vriend ʼn teddiebeer gekry wat in ʼn boks sit, maar sy voete is deur die boks geskop. Die simboliese betekenis is dat ek buite die boks dink en werk. Ek het al vir ʼn vriend ʼn meerdoelige stuk gereedskap present gegee omdat hy goed is in baie dinge. Simboliek is ʼn fees om te gebruik.

Dis wat hier in Eksodus 12 gebeur. Die bloed van ʼn lam word aan die deurkosyne gesmeer. Simbolies verwys dit na die bloed van Jesus, die Lam van God. Elke huis waarvan die deurkosyn met bloed gesmeer is, word oorgeslaan deur die doodsengel. Uiteindelik sterf al die oudste seuns in Egipte, behalwe dié van die Israeliete, want die bloed bied beskerming.

Is die bloed van Jesus ʼn werklikheid in jou lewe? Behoort jy volledig en volkome aan Jesus Christus? Is Hy jou Saligmaker en Verlosser? Dan eers het sy bloed vir jou ware betekenis. Ja, ons drink Nagmaalwyn as simbool van die bloed van Jesus. Jesus se bloed is egter ʼn werklikheid vir sy kinders. Dis wat hulle beskerm en ook vir God alleen afsonder. Dis die bloed van Jesus wat vergifnis van jou sondes bewerk en jou ʼn kind van God maak.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.