Gedagte vir die dag: Die Woord ontbloot dwaling

Argieffoto ( Cassidy Rowell/Unsplash)

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timoteus 3:16-17).

Skrifgedeelte

2 Timoteus 3:16-17

Oordenking
Die Gees van God het mense gelei om sy gedagtes, sy wil, sy waarhede en sy hart se gesindheid in ons verstaanbare taal te verwoord. Wie sy Woord lees en ter harte neem, vind wysheid om dwaling te bestry.

Wat is dwaling? Sou jy vra.

Timoteus hoor van die valse predikers wat in sy tyd opgetree het.

Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue, wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag, vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. Net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat in die verstand verward en in die geloof ʼn mislukking is (2 Timoteus 3:6).

Hierdie vroue is gewoonlik liggelowig, en dus maklik vatbaar vir oortuiging, met sonde belaai en daarvan bewus sodat hulle bevryding soek, en deur allerlei sinlike begeertes gedryf, nie net deur die drange van die liggaam nie, maar ook deur die soek na verlossing langs ʼn menslike weg. Daarom wil hulle altyd iets leer in sake die bevryding van sonde, maar omdat hulle dit nie by Christus soek nie, kom hulle nooit tot kennis van die waarheid nie. Hulle is ʼn maklike prooi vir die dwaalleraars.

Jesus verwys ook daarna in sy prediking, wanneer Hy waarsku teen die breë weg. Dit lei na die verderf. Die valse leer en lewenstyl van die Fariseërs word met kras taal veroordeel. “Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak” (Lukas 6:26, AFR83).

Dwaling word deur valse profete verkondig. Hulle was ook in die ou Israel se tyd bedrywig.

Paulus spreek dwaling aan wanneer hy vir die Joodse towenaar sê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan!” (Handelinge 13:10, AFR83).

As daar iemand na julle toe kom wat ʼn ander lering bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen (2 Johannes 10-11).

Hoe onderskei ons dwaling van waarheid?

God se geïnspireerde Skrif gee ons die insig daartoe. Wie die Skrif nie ken nie, word maklik weggespoel deur die stroom valshede van die wêreld wat vyandig teen God staan.

Verdiep jou in die waarheid en bestry dwaling. Moenie liggelowig wees nie. Toets die boodskappe wat jy ontvang, sommige klink so oortuigend en sensasioneel. Tog is dit dikwels ʼn valse voorstelling van God se wil en van die verlossingspad in Christus.

Gebed
Vader in die hemel, U het u woord laat oordra, geïnspireer deur die Gees en neergeskryf deur mense. Ons bid vir erns daarmee, insig en onderskeidingsvermoë om dwaling te kan bestry. Amen.

Pitkos
Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie. (2 Petrus 3:17).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.