Gedagte vir die dag: God gee nuwe lewe uit die dood

stiltetyd-kniel-kruis-geralt.jpg

Foto: geralt/pixabay.com

“ʼn Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ʼn loot uit sy wortels sal vrugte dra” (Jesaja 11:1).

Skrifgedeelte

Jesaja 11:1

Oordenking
Ons sien daagliks die wonders in God se skepping. Ek het dit so dikwels al beleef. Daar waar die brandpad oopgekap was, die bossies uitgegrawe was, en vir ʼn jaar of meer geen teken van lewe was nie, skiet daar na goeie reëns, ʼn klein groen takkie op. Dit word weer ʼn bos wat blommetjies maak en saad afgooi. Lewe uit die skynbare dood.

Hierdie beeld uit die velde van Juda word gebruik om te verkondig dat die Here weer lewe sal gee. ʼn Lewe uit genade deur God wat die bron van die lewe is. ʼn Takkie sal uitspruit, wat ook vrugte sal dra. Die stomp, waaruit die takkie spruit, is die nageslag van Isai, die vader van koning Dawid. Die konings het die volk van God op ʼn pad van sonde gelei, sodat Hy hulle deur die vyandige nasies laat “uitkap” het. Van die eens welige bos het net ʼn stomp oorgebly. Die volk het die dood oor hulleself gebring. Daar is egter hoop. Wanneer dit lyk of alles verby is, sal ʼn nuwe takkie uitspruit.

Daarmee bevestig God sy beloftes van vroeër (2 Samuel 7:16). Hierdie beloftes het in vervulling gegaan. Die takkie het weer gegroei. Die verbondsvolk is herstel, die tempel is herbou, maar dit was slegs ʼn klein oorblyfsel van die eens magtige volk; ʼn klein takkie.

Die mensekonings het egter nie getrou gebly nie. Telkens het die sondedood weer oorheers – ten spyte van God se genade. Daarom het God sy Koningseun Jesus Christus gestuur. Sagaria, die vader van Johannes die Doper, sing onder leiding van die Gees daaroor: “ʼn Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid. So het die Here dit reeds lankal belowe deur die mond van sy heilige profete” (Lukas 1:69). Dit is nie net vir Israel wat verlossing sal kom nie: “In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai ʼn vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet” (Jesaja 11:10).

Van hierdie waarheid oor die koms van die Koning Jesus Christus kan ons steeds met dankbaarheid sing en ander daarvan vertel. Die nasies, oor die ganse wêreld, word bereik met die boodskap van verlossing. Die vrug van die takkie wat uitgespruit het, word wêreldwyd gedra.

God beloof egter nog meer in Jesaja 11. Die vrug van die verlossing wat die lewegewende takkie Jesus gebring het, sal sy volheid bereik met sy wederkoms. Ons kan seker wees dat die beloftes in vervulling sal gaan, omdat God reeds getrou was in die stuur van sy Seun. Hy is Jesus, Saligmaker, Christus, Gesalfde, Here, Eienaar en Koning. Naas Hom is daar geen Verlosser nie. Staan vas in jou geloof.

Gebed
Here, ons God, wie sal lewe gee uit die dood? Slegs U kan dit gee in Jesus Christus. Ons gryp vas aan die hoop wat Hy gebring het. Ons sien uit na sy wederkoms. Amen.

Pitkos
“Daar sal ʼn oorblyfsel terugkom na die magtige God toe, die oorblyfsel van Jakob” (Jesaja 10:21).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.