Gedagte vir die dag: God is baie naby in jou pyn

Argieffoto (Foto: Umit Bulut/Unsplash)

“U weet deur hoeveel pyn en hartseer ek al is. My trane sal ʼn dam volmaak. U het daarvan boekgehou, U weet” (Psalm 56:9).

Skrifgedeelte
Psalm 56:9

Oordenking
Kom ons speel ʼn eenvoudige speletjie. Daar is twee persone: die een is Persoon A en ons noem hom Meneer Waarheid, dan is daar Persoon B en ons noem hom Meneer Leuen. Soos Persoon A die waarheid vertel, is dit die werk van Persoon B om dit so te verdraai dat mense hom eerder as vir Persoon A glo. Dit is dus Persoon B se voltydse werk om die waarheid te weerspreek of met ʼn leuen te verdraai. Persoon B wen as mense sy leuen eerder as die waarheid glo.

Wel, bogenoemde is natuurlik nie ʼn speletjie nie. Nee, dit is die harde werklikheid van die lewe elke dag. Persoon A, naamlik die Waarheid, is Jesus wat Hom beskryf as die Weg, Waarheid en Lewe. Persoon B is natuurlik die duiwel wat in die Bybel die vader van die leuen genoem word. Hy is voltyds besig om God se waarhede te verdraai of direk as leuens af te maak. Veral wanneer dit met jou swaar gaan, is hy ʼn meester om jou te laat glo dat God onsimpatiek, op ʼn afstand is en jou liefdeloos in jou pyn en seer dophou.

Dit is verseker nie waar nie. God is die heel naaste aan jou wanneer jy seer het. God is intens betrokke by jou in die tye wat jy swaarkry. Vandaar dat Dawid kan skryf dat God boekhou van al sy trane. Hy weet God is bewus van elke traan wat hy stort en God skryf elke traan in sy boek op. Dit geld vir jou ook. Moenie dat Meneer Leuen jou anders oortuig nie. God is naby jou in jou stryd, swaar en seer. Hy dra jou en hou jou styf vas.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.