“Sy het Hom styf in doeke toegedraai en neergelê in die voerbak waaruit die diere hulle kos geëet het” (Lukas 2:7a).
Skrifgedeelte
Lukas 2:7a
Oordenking
Uitgeput, moeg en seer moes sy wees ná die lang reis tussen Nasaret en Bethlehem, en moedeloos. Want nou lyk dit asof daar vanaand nêrens plek vir hulle in die stad is nie, en sy kan voel dat die geboorte naby is. Ná ure se rondvra, ontferm iemand hom tog oor die man en vrou wat so gedaan lyk. Hulle kan die nag in sy stal slaap, sê hy. Maria se aanvoeling was reg. Daardie nag word die Kind gebore en draai sy Hom met teerheid in doeke toe en lê Hom in die voerbak neer.
“Here, is dit regtig u Seun wat hier tussen mens en dier op die strooi lê en slaap? Kon U nie maar gesorg het vir ʼn beter plek vir U kind nie? Moet Hy, wat die heel belangrikste is, sy eerste nag in ʼn stal deurbring?” vra sy eerlik aan God.
Miskien het Maria nooit die antwoorde op haar vrae gekry nie. Ons wat tweeduisend jaar later leef, weet egter: Dit was God se manier om aan ons te wys dat Hy vir gewone mense – soos ek en jy – gekom het. Dat Hy juis gekom het om klein, onbelangrike mensies Koningskinders te maak.
- Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.