Gedagte vir die dag: Jesus se weggaan van ons af was goed

(Foto: Josh Felise/Unsplash.)

“Ek sê vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.” (Johannes 16:7)

Oordenking
Die twaalf dissipels kon nie iets goeds vind in Jesus se praatjies oor weggaan nie. Hy het so baie vir hulle beteken. Sy wysheid, liefde, krag en godheid, wat so gestraal het uit sy optrede, was dan so besonders!

Waarom dan praat van sterwe en na sy Vader in die hemel terugkeer? Wat sal ons in die harwar en soms chaotiese wêreld doen sonder ons Here Jesus?

Jesus beantwoord hulle (en ons) onrus met die oopmaak van die heilsfeite:

  • Gaan Ek weg, sal die Heilige Gees, die Trooster, na hulle toe kom.
  • Gaan Ek nie weg nie, sal die Trooster nie na die kerk kan kom nie.

So ordelik loop God se raadsplan. Menswording, lyding, kruisiging as Verlosser, opstanding, hemelvaart, Pinkster, teenwoordigheid as Trooster. So moes Jesus as Christus eers verheerlik word deur sy oorwinningsvaart na die hemel. Daarna sou die Gees in krag en heerlikheid uitgestort word.

Jesus sal as mens in sy sigbare menslike liggaam nie meer op aarde wees nie. Tog is Hy een met die Heilige Gees. Daarom verlaat Hy ons nooit. En deur die kragtige teenwoordigheid van God as Gees kan die kerk meer doen as tydens Jesus se liggaamlike hier wees. Om die Gees te kon uitstort, moes Jesus die pad van lyding voltooi. Die vyand van die kerk moes oorwin word sodat die nasies die evangelie kan hoor. Sy weggaan tot die troon van God was dus waarlik voordelig – en is steeds! So het dit gebeur! Prys en dank God Drie-enig daarvoor.

Gebed
Ons Vader in die hemel, Seun en Gees, ons prys U vir die deurvoer van u raadsplan. Ons sien en ervaar die voordeel van Jesus se hemelvaart. Daarom getuig ons met vrymoedigheid en vaste geloof oor Jesus Christus, ons Here. Amen.

 

Pitkos
“Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.” (Johannes 16:22)

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.