Gedagte vir die dag: Lewe jy met ʼn oop hart en hande?

Argieffoto (Foto: Joshua Earlel/Unsplash)

So het Josua hulle dan geseën en hulle laat gaan; en hulle het getrek na hul tente toe. Maar aan die een helfte van die stam van Manasse het Moses in Basan ʼn erfdeel gegee, en aan die ander helfte daarvan het Josua ʼn deel gegee saam met hulle broers, duskant die Jordaan in die weste. En toe Josua hulle laat gaan het na hul tente, het hy hulle ook geseën en met hulle gespreek en gesê: Gaan terug na julle tente met groot rykdomme en ʼn menigte van vee, met silwer en goud en koper en yster en baie klere; deel die buit van julle vyande saam met julle broers (Josua 22:6-8).

Skrifgedeelte
Josua 22:6-8

Oordenking
Baie mense leef asof dit hulle lewensdoel is om geld en besittings bymekaar te maak. Hulle gaar op en gaar op. Die meeste van hulle ontken dat dit vir hulle belangrik is en dat daar enige vorm van materialisme in hulle lewens is. Kyk, driekwart van hulle gesprekke gaan oor geld, maar volgens hulle is dit nie vir hulle belangrik nie. Kan ʼn mens jouself so om die bos lei?

Alles wat jy het, ja, elke besitting is die Here sʼn. Alles behoort aan Hom en Hy is die Bron van alles. Hy vertrou jou daarmee. Wat maak jy daarmee? Klou jy al stywer daaraan vas? Of is jy bewus daarvan dat dit alles God sʼn is en dat Hy wil hê jy moet dit vrylik met ander deel? Josua gee duidelik die opdrag aan die stamme wat hy huis toe stuur. Hulle moet hulle oorvloed met ander gaan deel.

The little we have, we share” is die leuse van ʼn pragtige swart vrou met die naam Mama Mary wat ek jare gelede leer ken het. Jongmense onder my leiding was betrokke by haar wonderlike projek met weeskinders in Mabopane, noord van Pretoria. Materieel het sy nie baie nie, maar dit wat sy het, deel sy graag met ander. Wat ʼn voorbeeld. Hoe lyk jou lewe: een van besittings en geld opgaar en vasklou? Of ʼn lewe met ʼn oop hart en oop hande?

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.