Gedagte vir die dag: Loop altyd binne hoorafstand van Jesus

Argieffoto (Foto: Tegan Mierle/ Unsplash)

“Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe” (Johannes 6:58).

Skrifgedeelte
Johannes 6:58

Oordenking
Opgee was nooit vir Petrus ʼn opsie nie. Hy het nooit oorweeg om Jesus te verlaat nie, selfs al het hy ʼn paar keer gestruikel weens sy eie tekorte. “Waar sal ons heengaan as ons U moet los?” antwoord Petrus juis wanneer Jesus hom in Johannes 6 vra of hy nie wil ophou om Hom te volg nie. “Waar sal ek heengaan? U het die woorde wat lewe gee.”

Petrus volg nie vir Jesus oor al die wonders en groot dade wat Hy doen nie. Dit is Jesus se woorde wat Petrus so aangryp en op koers hou. Petrus se antwoord is die padwyser vir elkeen wat die Man van Nasaret volg. Oral op aarde is daar steeds massas mense wat Jesus nie verlaat nie. Wegloop van Hom af, soos wat die res van die skare in Johannes 6 maak, is nie ʼn geldige opsie vir hulle nie. Jesus se woorde is hulle lewensbrood. Sy nabyheid is hulle lewe. Daarom loop sulke mense altyd binne hoorafstand van Jesus.

En jy? Is jy ook iemand wat enduit by Hom bly? Loop jy vandag binne hoorafstand van Hom af?

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.