Gedagte vir die dag: Noem Hom Abba, Vader

Argieffoto (Foto: Omar Elsharawy/Unsplash)

“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Matteus 6:9-13)

Skrifgedeelte
Matteus 6:9-13

Oordenking
Jesus het ons geleer om te bid en om God as “ons Vader” aan te spreek wanneer ons bid. Gebed is niks anders as om met God te praat nie. So eenvoudig is dit, maar ook so onverstaanbaar: Wanneer jy bid, praat jy met die lewende, almagtige God. En wanneer jy met God praat, kan jy vir Hom sê: “Vader.” Sonder Christus en sonder die Heilige Gees kan ons natuurlik nie vir God Vader noem nie. Jesus Christus het my met sy bloed van my sonde en die ewige dood verlos en my vir God gekoop. Hy het my God se kind gemaak. Omdat Jesus my verlos het, het God my as sy kind aangeneem en het ek nou die voorreg om God my Vader te noem. Die Heilige Gees werk nou in my om God as my Vader te aanvaar en om Hom ook so aan te roep as ek bid. Ja, sonder die werk van Jesus Christus kan ek nie met God praat en vir Hom Vader sê nie en sonder die werk van die Heilige Gees wil ek nie met God praat en vir Hom Vader sê nie. Maar omdat Jesus my verlos het en omdat God se Gees in my woon, kan ek en wil ek met God praat en Hom Vader noem. Vader is ’n woord wat intimiteit, warmte, liefde en ’n oop verhouding veronderstel. Ja, ek het die voorreg om intiem in my gebede met die almagtige God van hemel en aarde te praat en om vir Hom Vader te sê. Hoe meer ons dit gaan doen, hoe nader gaan ons aan Hom kom. Maak daarom elke dag tyd om met jou Vader in die hemel te praat. Nederig, kinderlik afhanklik, met respek en eerbied en ook met ’n onwrikbare geloofsvertroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.