Gedagte vir die dag: Pasop vir hoogmoed

Argieffoto (Foto: Neom/Unsplash)

“Op ʼn dag het die dissipels vir Jesus kom vra: “Sê vir ons: Wie is die heel belangrikste persoon in God se wêreld? Wie maak vir Hom die meeste van almal saak?” (Matteus 18:1).

Skrifgedeelte
Matteus 18:1

Oordenking
Ek wonder nogal wie word vandag beskou as die belangrikste persoon in die wêreld. Dalk die tien belangrikste persone. Wel, ek is oortuig dat elke mens ʼn  ander lysie sal hê om verskillende redes. Sal dit Biden wees wat die president van die magtigste land in die wêreld is? Sal dit een of ander filmster wees van Hollywood wat baie mooi en gewild is? Of wat van een of ander sanger wat jaarliks miljoene CD’s verkoop? Of ʼn sportster wat die wêreld aan die brand hardloop of speel? Of dalk een van die rykste sakemanne?

Jesus se dissipels vra vir Hom presies dié vraag: Wie is die belangrikste persoon? Natuurlik het hulle ʼn agenda, want hulle dink dit is hulle. Jesus verras hulle en roep ʼn klein kindjie nader. Jesus verduidelik dan ook hoekom Hy ʼn  kind kies: as gevolg van ʼn kind se nederigheid en totale afhanklikheid. God wil hê dat sy kinders totaal afhanklik van Hom moet lewe. Ons moenie kan roem of staatmaak op ons eie vermoëns nie. Nee, jy moet heeltemal afhanklik wees van God en Hom vertrou met jou hele lewe.

Dit is so gevaarlik om onafhanklik van God te raak. Dit gebeur veral in tye wat dit met ʼn mens goed gaan. Dan dink jy, jy het God nie nodig nie. Dit is in sulke tye dat jy maklik op jouself en jou eie vermoëns roem. Nee, kies altyd om totaal van God afhanklik te bly. Kies altyd om nederig te wees en ander mense hoër as jouself te ag.

Here, ek bely dat ek nie sonder U kan leef nie. Ek wil nie een tree gee sonder U in my lewe nie. Ek is totaal afhanklik van U, Here. Ek kies om nederig te wees en dit te leef.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.