Gedagte vir die dag: Waar is God se eer?

Argieffoto (Foto: Patrick Tomasso/Unsplash)

“Maak dan beelde van julle geswelle en beelde van julle muise wat die land verniel, en gee eer aan die God van Israel; miskien sal Hy sy hand ligter maak oor julle en julle gode en julle land” (1 Samuel 6:5).

Skrifgedeelte
1 Samuel 6:1-6

Oordenking

Wat het van God se eer geword:

  • As sy Naam vertrap word?
  • As met sy Woord gespeel word?
  • As sy kerk geskeur word?
  • As mense ʼn eie koninkryk hier in ons wêreld wil opbou?

As die mens nie God se eer uitdra en uitleef nie, sal selfs die klippe dit uitroep (Luk. 19:40). Die Israeliete verloor in die oorlog teen die Filistyne en die verbondsark word gebuit. Die volk het begin om te veel op die ark van die verbond te vertrou en het so die God van die verbond vergeet. Die Filistyne wil weer wys hulle god Dagon is sterker as die God van die Israeliete. God is egter sterker. Dagon val stukkend en ʼn plaag tref die Filistyne. Hulle priesters besef die krag van God. Hulle voorstel, dat die ark teruggestuur moet word en ʼn geskenk aan God gegee moet word, is ʼn poging om in God se goeie boekies te kom. So probeer hulle God omkoop.

Nee, hier is nie ʼn nuwe begin by die Filistyne nie, of hartsberou oor sonde nie, nie eer wat hulle wil bring omdat hulle God nou as die Almagtige erken nie. Hier is net mense wat God wil gebruik soos dit hulle pas.

Dit is so maklik om van God jou dienaar te maak in plaas daarvan dat jy dienaar van God is. Dan vertrap jy God se eer. Dan sal die klippe dit uitroep. Nie net die Filistyne nie, ook ons.

Wat het van God se eer geword:

  • As ons so besig is met net onsself?
  • As ons God wil manipuleer om by ons aan te pas?
  • As ons dele uit die Bybel uithaal asof dit niks vir ons sê nie?
  • As ons bly haat, vloek, slegpraat en vertrap?

Wat het dan van God se eer geword?

Ons bly maar sondaarmense wat onsself nie kan verlos nie. Tog: Ons enigste troos is dat ons deur Christus nuutgemaak is, om nou dankbaar voor God te lewe deur net sy eer in kinderlike vertroue op God te soek. Dan roep ons saam met die klippe uit: Aan God al die eer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.